Musiek en nederigheid loop hand aan hand vir Moot-sanger
Na meer as twee dekades in die musiekbedryf, voel Moot-sanger Fanus Pienaar hy het nog veel om te bereik.
Fanus Pienaar, radio-omroeper, liedjieskrywer en energieke sanger, vier vanjaar ’n besondere mylpaal: twee dekades in die musiekbedryf.
Die sjarmante Pienaar, bekend vir sy diep dimpels as hy vriendelik glimlag, sê hy het destyds die bedryf betree sonder om werklik te besef wat vir hom voorlê.
“Eerlikwaar, ek het met toe oë die musiekbedryf ingestap, met die naïewe idee dat my passie vir musiek en my liefde vir die musiek waarmee ek grootgeword het, genoeg sou wees.”
Musiek was egter lank voor sy loopbaan reeds ’n belangrike deel van sy lewe. Sy pa het van kleins af sy liefde vir musiek aangewakker deur vir hom kitaar te speel en te sing. Hy het ook vir Pienaar sy eerste akkoorde geleer.
Vir die sanger van die Moot het sy pa se musikale talent ’n verdere inspirasie geword.
“Wat my veral geïnspireer het, was dat hy ondanks sy talent nooit self iets met musiek gedoen het nie. Ek het gevoel ek wil iets doen met hierdie liefde vir musiek wat hy in my wakker gemaak het.”
Die afgelope twee dekades het Pienaar eerstehands ervaar dat ’n loopbaan in die musiekbedryf veel meer as talent verg.
Hy is bekend vir treffers soos Luister na jou hart, Rigting na jou hart en Vir my land.
Pienaar het in sy beginjare in al die legendariese kuierplekke soos die ou Firkins Centurion, Eagles en ander plekke regoor Pretoria opgetree.
Toewyding, glo hy, sluit in lang ure, optredes voor klein gehore, onsekerheid en die voortdurende behoefte om aan te hou wanneer dit voel asof niemand jou raaksien nie.
Een van die belangrike hoogtepunte van sy loopbaan het uiteindelik gekom toe hy ’n platekontrak gekry het en deel van VONK Musiek se span geword het.
Ná jare se harde werk was dit vir die nederige Pienaar ’n belangrike bevestiging dat sy volharding nie verniet was nie.
Hierdie geleentheid om sy musiek op ’n groter platform te deel, is iets waarop hy besonder trots is. Dit het ’n nuwe hoofstuk in sy loopbaan ingelui en hom die kans gegee om sy werk aan ’n groter gehoor bekend te stel.
Een van die liedjies wat tans vir Pienaar die meeste beteken, is Daar sal jy my kry, wat onlangs op digitale platforms vrygestel is.
“Die liedjie voel vir my baie persoonlik, omdat dit ’n stukkie van myself, my drome en my wense bevat.”
Vir hom lê die waarde van ’n liedjie daarin dat iets van die kunstenaar se eie verhaal daarin vasgevang kan word. Daarom weerspieël Daar sal jy my kry ook die rigting waarin sy musiek oor die jare beweeg het.
“Ek dink dit is ook waar my musiek vandag is. Meer persoonlik, volwasse en eerliker as ooit tevore.”
Hy glo sy musiek het saam met hom as mens ontwikkel. Waar sy vroeëre liedjies dikwels op liefde, verliefdheid en gebroke liefde gefokus het, skryf hy vandag oor onderwerpe wat deur sy lewenservaring beïnvloed word.
Hy meen sy huidige werk wys soms humor, lewenslesse wat hy geleer het en dikwels ’n dieper blik op sy eie menswees. Ook sy klank en verhoogvertonings het mettertyd verander.
“Jy skryf anders wanneer jy meer van die lewe verstaan.”
Deur sy loopbaan was daar verskeie mense wat ’n rol in sy ontwikkeling as kunstenaar gespeel het. Sy pa was die eerste groot invloed, maar ná sy pa se afsterwe het sanger en musikant Gerhard Steyn ’n belangrike rol in Pienaar se lewe gespeel en hom verder aangemoedig om te sing en op te tree.
Hy sal altyd ’n geskiedkundige ontmoeting met Theuns Jordaan onthou. Terwyl Pienaar in ’n nagklub gewerk het, het Jordaan vir hom gesê: “Jy hoort nie daar nie. Jy hoort op ’n verhoog.”
Pieter Smith het hom aangemoedig om sy eie musiek te begin skryf, terwyl Christa Steyn hom gehelp het om sy eerste enkelalbum op te neem.

Vir Pienaar het elkeen van hierdie mense ’n unieke bydrae tot sy loopbaan gelewer.
Die uitdagings van die bedryf het hom egter net soveel geleer. Een van die belangrikste lesse was om te aanvaar dat nie almal van jou of jou musiek gaan hou nie.
“Jy moet bereid wees om jare lank vir leë tafels en stoele te sing, soms net vir ’n pizza en ’n Coke, voordat iemand jou dalk eendag raaksien.”
Pienaar sê ’n kunstenaar moet ook besef dat erkenning nie noodwendig beteken dat die hele Suid-Afrika jou naam ken nie. Soms lê ware erkenning binne die bedryf self, in die respek wat ’n mens deur jare se werk verdien.
“Die belangrikste les is egter om deur alles nederig te bly, aan te hou leer en aan te hou werk, selfs wanneer dit voel asof niemand kyk nie.”
Een van die geleenthede wat hy nooit sal vergeet nie, het tydens die Covid-19-pandemie plaasgevind. Pienaar het deelgeneem aan Droogte Hulp se Geloftedag vir Boere, ’n aanlyn vertoning wat in ’n moeilike tyd ondersteuning aan boere gebied het.
Die musiekbedryf self het sedert sy beginjare ingrypend verander. Pienaar het die opkoms en ondergang van die CD-era beleef en gesien hoe die bedryf toenemend na enkelsnitte en digitale platforms verskuif het.
Hy wys daarop dat waar kunstenaars vroeër hoofsaaklik volledige albums gemaak het, het die digitale era die manier waarop musiek vervaardig, versprei en geluister word, verander.
Die Afrikaanse musiekmark het terselfdertyd ontwikkel. “Ek dink die Afrikaanse mark het ook verander van ’n baie lewendige orkes- en saamsing-kultuur na ’n meer pop- en alternatiewe gedrewe klank.”
Ten spyte van al die veranderinge glo hy daar sal altyd plek wees vir musiek wat eg is.
Met sy eerste 20 jaar nou agter die rug, sien Pienaar met verwagting uit na die volgende twee dekades. Hy droom steeds van daardie een besondere liedjie wat wyd aanklank sal vind, maar sy groter doel is om aan te hou groei. “Ek wil beter vertonings lewer en steeds iets hê om vir mense te sê.”
– Pienaar vier die mylpaal in sy loopbaan die aand van 17 Oktober in Kapstadt Brauhaus in Centurion.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
