Pretoria skep en bewaar groen erfenis
Van Rietondale tot Salvokop het inwoners, gemeenskapsorganisasies, ondernemings en die regering Erfenisdag gebruik om nuwe bome te plant en Tshwane se groen erfenis te bewaar.
Van Rietondale tot Salvokop het inwoners, gemeenskapsorganisasies, ondernemings en die regering Erfenisdag gebruik om nuwe bome te plant en groen hoekies in Tshwane vir die toekoms met bome te bewaar.
In Rietondale Park en die Lockhuispark in die Moot het inwoners, vrywilligers en organisasies saamgewerk om in elke park 15 bome te plant.
Vyf olienhoutbome is in die suidelike hoek van die Rietondale Park geplant en tien Vaderland-wilgers langs die westelike wandelpad.
Die Moot Projek, Big Trees of Tshwane en die metro was onder die rolspelers by die projek, terwyl Afrit, DB Landscaping en vrywilligers praktiese ondersteuning gebied het.
Ronel de Wet, areaprojek-koördineerder van die Moot Projek, het gesê die boomplantdag is aangepak met die doel om ’n “groener toekoms” te help skep.
“Dit was ’n groot sukses,” het sy gesê en die inwoners en vrywilligers bedank wat aan die projek deelgeneem het.
Volgens De Wet was die samewerking tussen die verskillende rolspelers belangrik om die projek van die grond af te kry.
“Ons kon dit nie sonder Afrit, DB Landscaping en al die vrywilligers wat daar was om te help, gedoen het nie,” het sy gesê.
Joan Greeff, woordvoerder van Big Trees of Tshwane, het ook namens die nie-winsgewende organisasie aan die boomplanting deelgeneem. Sy het die fokus op toekomstige geslagte geplaas en gesê die bome wat nou geplant word, sal deel van Tshwane se landskap word.
“Die bome geplant vanjaar op Erfenisdag gaan vir die geslagte vorentoe die stad verfraai en nuttig wees. Dit was ‘n baie mooi gedagte gewees,” het Greeff gesê.
Sy het ook verwys na die geesdriftige deelname van kinders aan die projek en die langtermynbetekenis daarvan. “Vorentoe gaan die kinders die bome in hul buurt sien groei en eendag daaraan dink hulle het bome geplant waaronder hulle kinders eendag sal sit,” het sy gesê.

Die gemeenskap se betrokkenheid was volgens die organiseerders ’n belangrike deel van die dag. Kinders en ander inwoners het aan die boomplanting deelgeneem, terwyl tien bome aan vrywilligers weggegee is wat met die projek saamgewerk het.
Die boomplantings in die Moot het plaasgevind teen die agtergrond van ’n breër fokus deur die metro op die stad se bome en groen ruimtes.
Lindela Mashigo, woordvoerder van die metro, het gesê Tshwane is die tuiste van verskeie besonderse bome wat in strate, parke, natuurreservate en private tuine voorkom.
Hy verduidelik die metro het hande geneem met die Die Big Trees of Tshwane-projek, wat deur Big Trees of Southern Africa en die Magaliesberg-tak van die Dendrological Society ondersteun word, en waarvan die mikpunt is om groot en besondere bome in die stad te dokumenteer.
Mashigo het gesê die projek fokus onder meer daarop om bome te identifiseer, te meet en aanlyn te plas.Die inligting word ook gebruik om die ekologiese en historiese waarde van volwasse bome onder die publiek te bevorder.
Die Erfenisdag-boomplantings het ook verder as gemeenskapsparke gestrek.
By Freedom Park op Salvokop in Pretoria-Wes, het adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Bernice Swarts, bome by die Forest of Freedom geplant. Verteenwoordigers van lande regoor die wêreld het aan die inisiatief deelgeneem.
Altesaam 30 bome wat verskillende lande verteenwoordig, is op 24 September in dié monument se omgewing geplant. Die bome simboliseer volgens die organiseerders eenheid, herinnering en ’n verbintenis tot ’n groener en meer volhoubare toekoms.
Die inisiatief bring regering, die private sektor, sakeondernemings, geloofsorganisasies, die diplomatieke korps, nie-regeringsorganisasies, jeuggroepe en gemeenskappe byeen.
Swarts het tydens die geleentheid gese dit is deel van die President se Een Biljoen Bome program.
“Hierdie inisitatief is ingestel om langtermyn weer die plantasies in Suid-Afrika te herstel en stedelike vergroeningprojekte aan te moedig.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel