Local newsNews

Vrees en mites vertraag vroeë borskankerdiagnose

Borskanker is Suid-Afrika se algemeenste kanker onder vroue, maar kenners meen vrese oor die diagnose, behandeling en moontlike gevolge, tesame met wanopvattings oor mammogramme en biopsies, kan veroorsaak dat vroue ondersoeke uitstel en die siekte eers later ontdek word.

Oktober is Borskankerbewustheidsmaand en die Borsbeeldingsvereniging van Suid-Afrika (BISSA) waarsku dat vrees, mites en verkeerde inligting steeds hindernisse vir vroeë diagnose is.

Borskanker raak ongeveer een uit elke 28 Suid-Afrikaanse vroue en is die algemeenste kanker wat by vroue in die land gediagnoseer word.

Dit maak sowat ’n kwart van nuwe kankerdiagnoses onder vroue uit en is die tweede grootste oorsaak van kankersterftes onder vroue.

Dr. Peter Schoub, voorsitter van BISSA, sê uitgestelde diagnose en behandeling kan daartoe lei dat kanker verder versprei voordat dit opgespoor en behandel kan word.

Hierdie uitstelproses kan dus volgens hom beteken dat meer intensiewe en indringende behandeling vereis word.

“’n Diagnose beteken egter nie noodwendig dat ’n vrou ’n mastektomie of chemoterapie sal moet ondergaan nie. Behandeling word volgens die eienskappe van die gewas en die pasiënt se individuele omstandighede bepaal,” verduidelik hy.

Hy wys daarop dat vroue met vroeëstadium-borskanker in toepaslike gevalle borsbewarende chirurgie, soos ’n lumpektomie, kan ondergaan, gewoonlik gevolg deur bestraling.

Hormonale en geteikende behandelings bied ook opsies vir sekere pasiënte.

Schoub benadruk dat navorsing wys dat vrees vir die verlies van ’n bors, veranderinge aan vroulikheid en liggaamsbeeld, of moontlike verwerping deur ’n lewensmaat, sommige vroue daarvan kan weerhou om simptome te laat ondersoek.

Volgens hom is daar ook praktiese struikelblokke wat tydige diagnoses belemmer. Koste, vervoer, afstand na gesondheidsgeriewe, wagtye en probleme met verwysings kan diagnose en behandeling vertraag.

“Hierdie probleme is veral belangrik in Suid-Afrika, waar die grootste deel van die bevolking op openbare gesondheidsdienste staatmaak,” wys hy uit.

Volgens BISSA word pasiënte in die openbare sektor dikwels eers in ’n later stadium met kanker gediagnoseer. Wanneer die siekte dan reeds verder gevorder het, kan behandeling meer intensief wees.

Hy waarsku dat die meeste borsknoppe nie kankeragtig is nie, maar ’n nuwe of aanhoudende knop moet steeds deur ’n gesondheidswerker beoordeel word. Dit kan ’n kliniekverpleegkundige, algemene praktisyn of ginekoloog wees.

“Dieselfde geld vir ander nuwe veranderinge aan die bors. Vroue moet mediese hulp soek indien hulle ’n verandering opmerk, selfs al was ’n onlangse mammogram normaal.”

Schoub voer aan dat mammografie ’n belangrike metode is om borskanker vroeg op te spoor, maar mites oor die ondersoek kan sommige vroue daarvan weerhou om dit te ondergaan.

Hy merk op dat die drukking tydens ’n mammogram ongemak of kortstondige pyn kan veroorsaak, maar wys daarop dat dit slegs ’n paar sekondes duur vir elke beeld om geneem te word. Die drukking help om duideliker beelde te verkry en moontlike gewasse op te spoor.

Die bestraling wat tydens ’n mammogram gebruik word, is baie laag. Volgens BISSA word mammografie streng gereguleer en is die bestraling wat vir roetine-sifting gebruik word, laag genoeg vir gereelde ondersoeke.

Nog ’n algemene mite, voer Schoub aan, is dat ’n naaldbiopsie borskanker deur die liggaam kan versprei.

Volgens Schoub is daar geen bewys dat ’n naaldbiopsie die verspreiding of herhaling van borskanker veroorsaak nie. Die prosedure is belangrik om die aard van ’n verdagte verandering vas te stel en behandeling te beplan.

“’n Familiegeskiedenis van borskanker is ook nie ’n aanduiding dat iemand die siekte sal ontwikkel nie. Familiegeskiedenis en oorerflike geenvariante kan die risiko verhoog, maar ouderdom, borsdigtheid, voortplantings- en hormonale faktore en algemene gesondheid speel ook ’n rol,” verduidelik Schoub.

Hy stel dit ook dat die afwesigheid van pyn eweneens nie as ’n rede beskou moet word om ’n knop te ignoreer nie. Vroeë borskanker kan sonder pyn voorkom en kan te klein wees om met die hand gevoel te word.

Volgens hom kan gereelde mammogramme veranderinge opspoor voordat die borskanker opmerkbaar word. Dit is ook nuttig om vorige mammogrambeelde na ondersoeke saam te bring, sodat radioloë dit met nuwe beelde kan vergelyk.

Hy raai vroue wat nog menstrueer aan om hul mammogram vir die week ná hul menstruasie te bespreek, wanneer die borste gewoonlik minder teer is.

Hy moedig vroue aan om hul borste te ken en gereeld bewus te wees van veranderinge in voorkoms en gevoel.

“Veranderinge wat aandag verg, sluit in ’n verandering in die grootte, vorm of simmetrie van ’n bors, swelling, kuiltjies of rante in die vel, velirritasie, rooiheid of verdikking,” waarsku Schoub.

Ander tekens sluit in pyn aan die tepel, ’n tepel wat na binne trek, afskilfering van die tepel of borsvel, en afskeiding wat nie borsmelk is nie. Spontane, eensydige of bloederige afskeiding vereis veral ondersoek deur ’n mediese kundige.

’n Knop of verdikking naby die oksel moet ook ondersoek word.

“Hoewel baie van hierdie veranderinge uiteindelik onskadelik kan wees, kan slegs ’n behoorlike mediese ondersoek die oorsaak bepaal. Vroeë ondersoek bly daarom belangrik wanneer ’n nuwe of aanhoudende verandering voorkom.”

Secret Swim 2026 is ’n vrouebyeenkoms op 10 Oktober 2026 by 25 geheime plekke regoor Suid-Afrika. In Pretoria sal dit in Pretoria-Oos en Centurion plaasvind. Vroue van alle ouderdomme is welkom. Inskrywing kos R200, en voorafregistrasie is noodsaaklik. Die geheime ligging word op 9 Oktober per SMS en e-pos gestuur. Meer inligting is beskikbaar op ILoveBoobiesCharity se sosiale media.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button