Pierneefrant span saam om buurt se verval te stuit
'n Nuwe belastingbetalersorganisasie ondersoek moontlike uitbreiding van veiligheidskameras en samewerking met plaaslike sekuriteitsmaatskappye. Volgens voorsitter Henri Raubenheimer is inwoners se deelname en beskikbare befondsing belangrik om veiligheidsinisiatiewe te ontwikkel en die buurt se openbare areas beter te bestuur.
Die huiseienaars- en inwonersvereninging, Pierneefrant Ratepayers and Residents Association (PRRA), wat in Augustus vanjaar gestig is, beoog om op straatbeligting, gemeenskapsveiligheid, infrastruktuur en die instandhouding van openbare ruimtes in hulle deel van die Moot te fokus as prioriteite vir hul eerste bestaansjaar.
Pierneefrant is ’n bekende historiese en geografiese georiënteerde area binne die gevestigde woonbuurt Villieria, geleë in die hartjie van die Moot.
Henri Raubenheimer, voorsitter van die vereniging, sê die assosiasie wil inwoners en ondernemings ’n gesamentlike stem gee in hul skakeling met die metro en ander rolspelers.
“Die visie en missie van die PRRA se bestuurslede is om ons buurt met onvoorwaardelike oorgawe te dien, te beskerm en voortdurend op te hef,” sê Raubenheimer.
Die vereniging se planne vir die volgende 12 maande sluit ’n loodsprojek vir straatbeligting, optrede oor beweerde onwettige ontwikkelings en die verbetering van buurtveiligheid met intelligente kameras by ingange tot Pierneefrant in.
Die herstel van straatligte is een van die vereniging se eerste prioriteite. Volgens Raubenheimer is inwoners van 27ste Laan op eie inisiatief besig met ’n loodsprojek.

Die vereniging wil die ervaring gebruik om as model te dien vir moontlike uitbreiding na straatligte in Pierneefstraat, en Stead- en 18de lane.
Die doel hiervan volgens hom is om sekuriteit en veiligheid in die buurt te verbeter. Hy verduidelik die omvang en tydsraamwerk van die verdere projekte sal onder meer van befondsing en die resultate van die loodsprojek afhang.
Die vereniging voer verder tans ’n oudit van straatnaamtekens tussen 18de en 34ste Laan uit om te bepaal watter naamtekens herstel of vervang moet word.
Raubenheimer sê daar is reeds werk aan verkeersirkels by 25ste en 26ste Laan in Pierneefstraat gedoen, en die hernuwing van verkeersirkels, lamppale en ander infrastruktuur word in samewerking met Die Moot Projek gedoen.
Gemeenskapsveiligheid is die vereniging se derde prioriteit.
“Inwoners van 29ste Laan het reeds gevorderde kameras met kunsmatige intelligensie op eie inisiatief geïnstalleer as ’n toetsprojek vir die beplande skepping van ’n virtuele sekuriteitbuurt in Pierneefrant,” beklemtoon hy.
Die vereniging wil ook probleme met sluipslapers in die omgewing van 30ste Laan en die brug by 24ste Laan aanspreek.
“Die kwessie vorm deel van ’n breër aksieplan oor veilige openbare ruimtes,” voeg hy by.
Raubenheimer sê PRRA het reeds met die Moot- en Villieria-polisiestasies kontak gemaak om samewerking oor wetstoepassing en veiligheid te bevorder.
Die PRRA wil ook sy samewerking met Die Moot Projek en die Tshwane Residents’ Alliance for Civic Coordination (TRACC Moot) uitbrei.
Die vereniging is nog in sy beginfase, maar het reeds lidmaatskapvorms en fakture versprei.
Raubenheimer bedank plaaslike ondersteuners, waaronder Minuteman Press en die Snyman-familie, vir hul bydraes en ook Die Moot Projek wat met die verspreiding gehelp het.
Die PRRA se maandelikse ledegeld is op R100 vasgestel tydens die stigtingsvergadering. Raubenheimer sê finansiële deursigtigheid en verantwoordbaarheid is krities en dat lede se bydraes vir gemeenskapsprojekte geoormerk word.
Hy sê besluite moet deur demokratiese bespreking en stemming tydens openbare vergaderings geneem word. Inwoners kan daar vrae stel, voorstelle maak en oor belangrike sake stem.
Om meer inwoners te bereik, word pamflette en inskrywingsvorms tans tussen 18de Laan en Steadlaan versprei. Die vereniging gebruik ook ’n amptelike WhatsApp-groep en Facebook-blad om nuus en vordering met die gemeenskap te deel.


Raubenheimer sê die vereniging se benadering tot die metro is om samewerking te bevorder, maar ook om raadslede en die metro vir deeglike en tydige dienslewering aanspreeklik te hou wanneer openbare dienste agterweë bly.
“Waar die Stad Tshwane na ons uitreik, werk ons konstruktief saam. Waar openbare dienste egter agterweë raak, hou ons hulle aanspreeklik in die openbare belang van belastingbetalers en bied ons hulp aan,” sê hy.
Die vereniging verwag dat inwoners binne die volgende jaar, onderhewig aan beskikbare befondsing, vordering met straatbeligting, straatnaamtekens en virtuele sekuriteitsbuurt met kameras sal kan sien. Dit sluit ook pogings in om probleme met bourommel en openbare ruimtes aan te spreek.
Raubenheimer sê die vereniging se uiteindelike doel is om inwoners en ondernemings by die verbetering van Pierneefrant te betrek.
“As ek een blywende boodskap aan elke inwoner van Pierneefrant kan oordra, is dit eenvoudig: Hierdie buurt behoort aan elkeen van ons, en sy toekoms lê stewig in ons eie hande,” sê hy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
