News

Veearts eis ondersoek na taxitoeters se lawaai

Die aanhoudende gebruik van minibus-taxi se toeters in Hertzogstraat, Villieria, is steurend volgens ’n wêreldbekende veearts wat in die area praktiseer. Hy het ’n formele klagte ingedien waarin 'n ondersoek geëis word na die geraas, passasierswerwing en of die minibustaxi’s op ’n gemagtigde roete ry.

’n Formele klagte is by die metro ingedien oor die aanhoudende gebruik van minibus-taxi se toeters in Hertzogstraat, Villieria.

Dr Peter Caldwell, ’n bekende en gewilde veearts wat in Villieria praktiseer en eienaar is van Old Chapel Veterinary Clinic, sê die toetergebruik vind herhaaldelik deur die dag plaas en duur ook oor naweke voort.

Volgens Caldwell het die gereelde toetergebruik tot ’n voortdurende geraasprobleem in die woonbuurt gelei.

Hy vra dat die munisipaliteit, verkeersowerhede en openbare vervoerowerhede die saak formeel ondersoek.

Hy beklemtoon dat sy beswaar nie teen openbare vervoer of die wettige bedryf van minibus-taxi’s gerig is nie.

“My kommer is spesifiek of die wyse waarop hierdie voertuie bedryf word, en of dit voldoen aan die toepaslike padverkeer-, geraasbeheer- en openbare vervoerwetgewing,” verduidelik hy.

Een van die hoofpunte in die klagte is die rede waarom die taxi’s se toeters gebruik word.

Caldwell sê die toeters word volgens sy waarneming in talle gevalle gebruik om die aandag van potensiële passasiers te trek en om met passasiers of mense langs die pad te kommunikeer.

Hy vra dat ondersoek ingestel word na die vraag of die toetergebruik met passasierswerwing verband hou.

Sy klagte verwys spesifiek na Regulasie 310A van die Nasionale Padregulasies.

Volgens Caldwell bepaal die regulasie wanneer ’n voertuig se toeter gebruik mag word.

“Die gebruik van ’n voertuig se toeter herhaaldelik vir passasierswerwing, waar daar geen identifiseerbare padveiligheidsnoodsaaklikheid is nie, behoort daarom ondersoek te word,” skryf hy.

Hy verwys ook na voertuiggeraas en vra dat die geraas wat deur die voertuie veroorsaak word, binne die toepaslike wetlike raamwerk ondersoek word.

Vir Caldwell, wat ’n besige praktyk bedryf en nasionaal sowel as internasionaal bekend is vir sy werk met die redding van wildlewe, is die geraas en lawaai ’n groot probleem.

Caldwell vra dat die metro se Munisipale Gesondheidsdienste die saak ook ondersoek ingevolge die toepaslike geraasbeheermaatreëls.

Hy vra dat ’n omgewingsgesondheidspraktisyn, waar nodig, die geraas beoordeel en bepaal of die herhaalde toetergebruik ’n verbode of onredelike geraasoorlas daarstel.

Caldwell vra ook dat die bevoegde Gautengse openbare vervoerowerheid bevestig of Hertzogstraat, of die spesifieke gedeelte van die straat waar die taxi’s ry, deel van ’n gemagtigde minibus-taxiroete is.

Dr. Peter Caldwell, ‘n veearts met spreekkamers in Hertzogstraat in die Moot wat dikwels met wildlewe werk, het ‘n formele klagte by die metro aanhangig gemaak oor die geraas en steurnisse in die straat. Foto: Facebook/Old Chapel Veterinary Clinic.

Hy vra dat dié inligting uit amptelike bedryfspermit- en roeterekords bevestig word.

Caldwell wil ook weet waar taxi’s gemagtig is om passasiers op en af te laai. Hy vra dat vasgestel word of taxi’s op enige plek langs Hertzogstraat passasiers mag optel en of hulle tot aangewese stop- en laaiplekke beperk is. Hy vra verder of die betrokke bedryfspermitte naweekbedryf toelaat en of daar spesifieke voorwaardes vir passasiers-optel en stilhou geld.

Die klagte vra ook vir ’n ondersoek na moontlike passasierswerwing deur middel van die toeters.

Caldwell wil hê die owerhede moet bepaal of sodanige optrede strook met die verkeersregulasies, Gautengse geraasbeheerwetgewing, die voorwaardes van die betrokke bedryfspermitte en enige toepaslike munisipale bepalings.

Die kwessie raak volgens Caldwell direk sy werk met diere.

Hy bedryf ’n veterinêre praktyk en wildlewe-eenheid in die gebied. Volgens hom word wilde diere sowel as siek en beseerde diere daar behandel, gerehabiliteer en waargeneem.

“Wilde diere kan besonder sensitief wees vir skielike, herhalende en onvoorspelbare eksterne stimuli,” skryf hy.

Volgens Caldwell is ’n toepaslik beheerde omgewing sonder onnodige geraas belangrik vir goeie veterinêre sorg, dierewelsyn en kliniese bestuur.

“Die herhaalde en onnodige gebruik van voertuigtoeters onmiddellik langs die praktyk veroorsaak steurnisse en kan inmeng met die stil omgewing wat nodig is vir die behoorlike versorging en rehabilitasie van hierdie diere.”

Caldwell sê hy is bereid om bewyse aan die owerhede te verskaf.

Dit kan volgens hom foto’s, video- en klankopnames insluit wat die frekwensie en aard van die toetergebruik dokumenteer.

Hy sê hy sal ook ’n gedateerde voorvalregister byhou waarin die tye, frekwensie en omstandighede van die voorvalle aangeteken word.

Caldwell sê die saak kan ook ander inwoners en ondernemings in Villieria raak.

Hy vra daarom dat die owerhede ondersoek instel na die omvang van die probleem en bepaal of ander mense dieselfde geraas ervaar.

Kommentaar is van die metropolisie en die provinsiale regering se Department van Padvervoer aangevra en sal toegevoeg word wanneer ontvang.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button