News

Jong pianiste berei voor vir nasionale kompetisie

Meer as 40 jong pianiste van regoor Suid-Afrika maak later vandeesmaand gereed om hul talent op die nasionale verhoog te wys. Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie bied aan hulle 'n waardevolle ervaring.

Vir 43 jong pianiste van regoor Suid-Afrika lê daar later vandeesmaand ’n besondere uitdaging voor: om hul liefde en toewyding aan klaviermusiek te bewys.

Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie vind van 21 tot 25 Oktober by die Fairtree Atterbury Teater in Pretoria plaas.

Vanjaar is daar besonder baie belangstelling, met 51 inskrywings, waarvan 43 jong pianiste ná die keuringsproses gekies is om deel te neem.

Vir Janet Becker, woordvoerder van die Atterbury-klavierkompetisie, is die getal iets belangriks oor jongmense se verhouding met musiek.

“Dit toon dat jongmense steeds ’n belangstelling in en waardering vir musiek en kultuur het, waarde daaraan heg en dat daar ’n groeiende belangstelling in klavier en klassieke musiek is,” sê sy.

Die deelnemers is gekeur op grond van video-opnames wat hulle ingestuur het. Elke kandidaat moes twee kontrasterende werke speel voordat hulle vir die kompetisie gekies is.

Nou moet hierdie stukke voor ’n gehoor en ’n paneel ervare beoordelaars uitgevoer word.

Die kompetisie is in 2011 gestig en is daarop gemik om jong pianiste nie net die geleentheid te gee om mee te ding nie, maar ook om ervaring op te doen.

Volgens Becker is dit juis een van die belangrikste redes waarom die kompetisie bestaan.

“Die doel van die kompetisie is om ’n platform te skep, waar jong pianiste op ’n wêreldklasverhoog, op ’n uitmuntende Steinway-konsertvleuel, kan meeding en hul talent aan ’n gehoor kan wys.”

Die jongste deelnemers is 12 jaar en jonger, terwyl daar ook kategorieë vir deelnemers van 15 jaar en jonger en 19 jaar en jonger is.

Vir sommige sal dit hul eerste groot nasionale kompetisie wees, terwyl ander reeds meer ervaring op die verhoog het.

Die beoordelaars van vanjaar se kompetisie is prof. Hubert van der Spuy, dr. Esthea Kruger en prof. Waldo Weyer. Dr. Jannie Le Roux het die oudisies beoordeel.

Die musiek wat tydens die kompetisie gespeel word, strek oor verskillende tydperke en style. In die eerste ronde moet deelnemers ’n Barok- en ’n Romantiese werk uitvoer. Die tweede ronde bring Klassieke en Impressionistiese of Moderne werke.

“Ons fokus op musikaliteit en die internasionale standaard van teksgetrouheid, akkuraatheid, persoonlikheid en kommunikasie deur die uitvoering,” sê sy.

Op die openingsaand op 21 Oktober om 18:30 word al die deelnemers en beoordelaars aan die publiek bekendgestel.

Die geleentheid sluit ook ’n uitvoering deur Hermanus Schmidt, die wenner van die 2025-kompetisie, in.

Die kompetisie eindig 25 Oktober om 12:30 met die gala-geleentheid en finale ronde, waartydens die finaliste twee werke uitvoer wat hulle reeds tydens die kompetisie gespeel het.

Becker sê ouers en onderwysers se ondersteuning aan musikante moet nie onderskat word nie.

Volgens haar neem elke deelnemer elke jaar veel van die ervaring saam huis toe.

“Alle deelnemers doen tydens die kompetisie waardevolle ondervinding op en kry die geleentheid om met groter selfvertroue in hul eie omgewing en op ander verhoë, op te tree.”

Vir die wenner is daar verdere geleenthede, waaronder ’n volledige program tydens die volgende jaar se openingskonsert en ’n geleentheid om tydens Atterbury Klassiek op te tree.

“Die klavierkompetisie is vir baie deelnemers die beginpunt van hul loopbaan, dit is ’n belegging in hul toekoms en gee hoop,” sê Becker.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button