NewsUpdate

Sky-dood: Finale antwoorde nog uitstaande, sê SAPD

Die SAPD het nog nie sy finale verslag uitgereik oor polisiehond Sky se beserings en dood nie. Die ondersoek fokus op moontlike individuele, operasionele en bestuursgebreke volgens 'n woordvoerder.

Die SAPD het nog nie ’n finale openbare verslag uitgereik oor die omstandighede waarin polisiehond, Sky, ernstig beseer is en later van kant gemaak moes word nie.

Polisiewoordvoerder, kolonel Amanda van Wyk, het aan Rekord gesê die ondersoek duur voort en sluit moontlike individuele, operasionele en bestuursgebreke in.

Sy het op 9 Oktober bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nog nie sy finale bevindings oor Sky se beserings en dood bekendgemaak het nie.

Die interne ondersoekspan se sperdatum vir die voltooiing van sy aanvanklike bevindings was 9 Oktober, maar geen finale openbare ondersoekverslag is teen daardie datum uitgereik nie.

“Die polisie beskou die omstandighede rondom die beserings en daaropvolgende dood van Sky met die grootste erns,” het Van Wyk aan Rekord gesê.

Sky, ’n vyfjarige Belgiese Malinois wat as ’n brandstigtingsopsporingshond gewerk het, is op 7 September ernstig beseer in haar kennel by die SAPD se veeartsenyhospitaal by Roodeplaat, Pretoria, aangetref. Sy is na die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal geneem, waar sy op 9 September uitgesit is nadat haar toestand versleg het.

Volgens Van Wyk het die waarnemende nasionale polisiekommissaris, luitenant-generaal Puleng Dimpane, onmiddellik ’n ervare senior offisier, ’n generaal-majoor, aangestel om die voorval volledig te ondersoek.

Sy het gesê dat die polisie-ondersoek begin het voordat Sky uitgesit is.

Sy het verduidelik bewyse is van die begin af versamel, terwyl verklarings en ander getuienis steeds opgevolg en geverifieer word.

“Gegewe die erns van die saak, het die ondersoekbeampte met gespesialiseerde eksterne kundiges geskakel,” het Van Wyk gesê.

Die instansies wat ook ondersoeke hieroor doen, sluit die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad, die Onafhanklike Polisiedirektoraat en die Nasionale Raad van Dierebeskermingsvereniging in.

Van Wyk het gesê die ondersoek sal nie net die optrede van individuele werknemers ondersoek nie, maar ook moontlike probleme met die stelsels, bedryfsprosedures en bestuur wat met die behandeling en welsyn van SAPD-honde verband hou.

“Die doel is om die feite vas te stel, enige tekortkominge te identifiseer en, waar nodig, maatreëls in te stel om ’n herhaling te voorkom,” het sy gesê.

Die polisie het ook erkenning gegee aan die openbare reaksie ná Sky se beserings en dood.

Volgens Van Wyk is polisiehonde waardevolle vennote wat saam met polisielede werk om die land te dien en te beskerm.

Sy het terselfdertyd die publiek versoek om nie dreigemente, onbevestigde bewerings of verkeerde inligting op sosiale media te versprei nie, en gevra dat die ondersoek toegelaat word om voort te gaan.

Die SAPD se ondersoek vind plaas terwyl die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings sy eie ondersoek afgehandel en aangekondig het dat hy ’n dossier oor beweerde oortredings van die Wet op Dierebeskerming, Wet 71 van 1962, teen SAPD-amptenare geopen het en kriminele klagtes gaan lê.

Die raad het bevind dat Sky se veeartsenykundige rekords reeds maande voor haar dood ernstige kennelstres en skeidingsangs aangedui het. Sy het voorheen beserings opgedoen terwyl sy probeer ontsnap het, en haar toestand het volgens die organisasie nie binne die SAPD-omgewing verbeter nie.

Arno de Klerk, senior inspekteur en bestuurder van die raad se Spesiale Projekte-eenheid, het gesê: “Geen werkende dier behoort ooit as ’n bate behandel te word nie.”

Die SAPD het gesê sy ondersoek sal voortgaan om die feite vas te stel en te bepaal of enige tekortkominge voorgekom het.

Volgens Van Wyk sal toepaslike stappe gedoen word indien die ondersoek enige versuim aan die lig bring.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button