Moot-bejaardes in nood sonder pensioengeld
Sommige bejaarde huishoudings sit sonder hul verwagte pensioen en ander sukkel steeds om toegang tot hul geld te kry. Gryskrag waarsku oor die uitgrekte vervanging van Sassa-kaarte, terwyl die omgee-organisasie, Because We Care Moot, ’n dringende beroep op die gemeenskap doen om kos aan bejaardes in nood te voorsien.
Sommige bejaardes wat van maatskaplike toelaes afhanklik is, staan voor ernstige finansiële probleme omdat hulle nie tans toegang tot hul verwagte toelaes het as gevolg van die vervanging van Sassa-kaarte nie.
Hul kaarte kon vir verskeie redes nie voor die afsnydatum van 31 Augustus vervang word nie.
Vir mense wat reeds met beperkte middele leef, beteken so ’n onderbreking in inkomste dat noodsaaklike uitgawes soos kos, vervoer, verblyf en medisyne in die gedrang kan kom.
In die Moot doen die organisasie Because We Care Moot ’n beroep op die gemeenskap om bejaardes wat sonder hul verwagte pensioen sit, met noodsaaklike voorraad by te staan.
Terselfdertyd waarsku ’n organisasie wat met senior burgers se regte werk, Gryskrag, oor die probleme wat ouer persone met die vervanging van Sassa-kaarte ondervind.

Voorsitter Ina Wilken sê die organisasie doen namens ouer persone ’n beroep op Sassa en Postbank om dringend op te tree en te verseker dat mense wat nog nie hul nuwe swart Postbank-kaarte ontvang het nie, nie onnodig lank sonder toegang tot hul toelaes bly nie.
Postbank het aangedui dat maatskaplike toelaes steeds in begunstigdes se rekeninge inbetaal word, maar dat persone wat nog die ou goue kaarte gebruik, eers nuwe kaarte moet bekom voordat hulle weer toegang tot die geld deur dié betaalmetode kan kry.
Vir bejaardes wat op die ouderdomstoelae staatmaak om hul basiese behoeftes te dek, is dié onderskeid belangrik.
Geld wat in ’n rekening beskikbaar is, help nie noodwendig ’n begunstigde wat dit nie kan onttrek of gebruik om noodsaaklike aankope te doen nie.
Wilken sê die 2026-kaartvervangingsproses het reeds in 2025 probleme opgelewer, waaronder veranderende sperdatums, lang toue en stadige stelsels.
Volgens haar is daar ook berig oor ouer persone wat ure lank moes wag, soms sonder voldoende sitplek, en uiteindelik sonder ’n nuwe kaart huis toe moes gaan.
Die parlement se portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling het voor die jongste sperdatum in Augustus kommer uitgespreek oor ouer persone en mense met gestremdhede wat sukkel om die proses af te handel.
Wilken vra dat kaartuitreikpunte betroubaar moet funksioneer, dat genoegsame kaarte beskikbaar moet wees en dat mense wat nie lank kan staan of ver kan reis nie, toeganklike hulp moet ontvang.
Terwyl hierdie kwessies voortduur, probeer Because We Care Moot bejaardes in die gemeenskap ondersteun wat weens probleme met hul Sassa-inkomste en -kaarte nie in hul basiese behoeftes kan voorsien nie.
Desiré Sanders van die organisasie sê verskeie bejaardes wat op die Sassa-ouderdomstoelae staatmaak, het nie hul verwagte Oktober-pensioen ontvang nie as gevolg van die feit dat hulle kaarte nog nie hernu is nie en hulle moet nou weer deur ’n heraansoek- of hersieningsproses gaan.

Sanders doen daarom ’n dringende beroep op inwoners, ondernemings en ander organisasies om noodvoorrade te skenk totdat die betrokke bejaardes weer hul pensioeninkomste ontvang. Sy en vrywilligers berei reeds al ’n geruim tyd kos- en ander pakkies voor om die nood op talle vlakke in die Moot aan te spreek.
Die organisasie benodig onder meer pasta, rys, blikkieskos, brood, hawermout, graanprodukte, meel, kookolie, melk, suiker, koffie, tee, soppoeier en grondboontjiebotter. Vars vrugte en groente, vleisprodukte en onbederfbare voedselsoorte sal ook help om noodvoorraad aan te vul.
Toiletware en skoonmaakmiddels, waaronder toiletpapier, waspoeier, skottelgoedwasmiddel, badseep, sjampoe, skeermesse, rol-aan-deodorant en petroleumjellie, is eweneens nodig.
Groot volwasse doeke is volgens haar ’n besondere prioriteit vir mense wat hulp met persoonlike versorging benodig.
Sanders sê die organisasie wil ook ’n ouma ondersteun wat twee kinders onder haar sorg het en weer om hulp met kos gevra het.
“Die versoek beklemtoon dat die gevolge van onvoldoende inkomste nie net die bejaardes raak nie, maar ook ander familielede wat van dieselfde huishoudelike hulpbronne afhanklik is,” verduidelik Sanders.
Volgens haar kan die organisasie nie elke behoefte alleen hanteer nie en is gemeenskapsondersteuning noodsaaklik om onmiddellike verligting te bied.
Postbank het aangedui dat die vervanging van die goue Sassa-kaarte ná die sperdatum van 31 Augustus nie beteken dat begunstigdes se ouderdomstoelaes gekanselleer word nie.
Die toelaes word steeds in begunstigdes se rekeninge inbetaal, maar persone wat nog hul ou goue kaarte gebruik, kan nie meer dié kaarte gebruik om geld by OTM’s te onttrek of aankope te doen nie.
Bejaardes wat nie hul nuwe swart Postbank-kaarte ontvang het nie, kan dus steeds sonder toegang tot hul geld sit.
Begunstigdes wat nog nie hul nuwe swart Postbank-kaarte ontvang het nie, moet hul geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokument, slim-ID-kaart of tydelike identiteitsdokument na ’n aangewese kaartvervangingspunt neem.
Nuwe kaarte is volgens Postbank gratis beskikbaar by aangewese Postbank- en deelnemende kleinhandelwinkels, waaronder Shoprite, Checkers, Pick n Pay, Boxer en SPAR.
Begunstigdes kan *120*355# op hul selfone skakel om ’n nabygeleë kaartvervangingspunt te vind of Postbank se tolvrye hulplyn by 0800 53 54 55 kontak vir verdere inligting. Hulle word aangeraai om vooraf te bevestig dat die betrokke uitreikpunt kaarte beskikbaar het en die vervanging kan hanteer.
Because We Care kan bereik word op die volgende e-posadres: becausewecare26@gmail.com.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
