News

Boek vertel van ’n lewe tussen twee wêrelde

Ná 11 jaar se navorsing, herskryf en besinning het die roman, Swerwerskraal, uiteindelik sy eie pad na die leser gevind. Wat met ’n bejaarde man se begeerte om ’n familieverhaal te bewaar begin het, het ’n roman geword oor mense wat tussen lande, tye en herinneringe beweeg. En miskien lê die besondere krag daarvan juis hierin.

Soms begin ’n boek nie by ’n idee of ’n droom om ’n roman te skryf nie, maar by ’n telefoonoproep wat ’n mens se lewe onherroeplik verander.

Vir skrywer Keina Swart het Swerwerskraal só begin: met die versoek van ’n bejaarde man wat sy familie se geskiedenis wou bewaar voordat dit in die vergetelheid verdwyn.

“Ek het in 2015 ’n oproep ontvang van ’n 80-jarige oom van Potgietersrust, deesdae Mokopane,” vertel sy.

Die bejaarde man het die volgende oor die foon aan haar gesê: “Soos wat ’n mens ouer word, begin jy terugloop op sekere paadjies. En dan word van daardie paadjies mettertyd dof. Ons familie het ’n mooi paadjie; ’n besondere storie. Ek wil terugstap daarop en ek wil hê jy moet dit opskryf.”

Dit was die begin van ’n merkwaardige reis wat uiteindelik 11 jaar sou duur. Die oom was die seun van Alida (Kein) Mees, die jongste van Job en Alida Mees van Rotterdam se vyf dogters. Sy familie se verhaal sou Swart na Nederland en die Soutpansberg neem, deur generasies se herinneringe, persoonlike dokumente en die geskiedenis van ’n plaas wat ’n besondere plek in die familie se geheue beklee het.

“Dinge was nie daarna vir my weer heeltemal dieselfde nie. Ek het anders aan die anderkant uitgekom ná hierdie reis.”

Keina Swart, skrywer van Swerwerskraal, se 11 jaar lange reis deur familiegeskiedenis het ’n verhaal van twee Nederlandse susters en hul lewens in Suid-Afrika opnuut tot lewe gebring. Foto: Verskaf

Die bejaarde man is ongelukkig oorlede voordat die boek voltooi is.

Swerwerskraal vertel die verhaal van Ita en Alida Mees, twee Nederlandse susters wie se lewens tussen Europa en Suid-Afrika ontvou. Die roman strek van 1901, die jaar waarin Alida se geboorte in ’n Nederlandse koerant aangekondig is, tot 1982 in Suid-Afrika.

Die plaas Swerwerskraal, in die destydse Limburg-distrik buite Potgietersrust, was ’n werklike plek en nie bloot ’n naam wat Swart vir haar roman geskep het nie.

Sy is ook die skrywer van prosa wat insluit ryk herinneringsbundels soos Die potlooddief se bruid en ander stories (rubrieke en kortverhale) en Koms van die biblioteekbus en ander stories (kortverhale en essays). Vir jonger lesers het sy die treffende Bloujaar (jeugverhaal) geskryf. Haar gewilde kinderboeke sluit titels in soos Hoekom praat grootmense so snaaks?

Om dié wêreld van Swerwerskraal geloofwaardig in te kleur, moes Swart veel meer doen as om familieherinneringe in ’n verhaal te omskep.

Sy het oor ’n enorme hoeveelheid materiaal beskik: foto-albums, briewe, koerantuitknipsels, bandopnames en dokumente wat soms verweer of deurmekaar was nadat dit jare lank weggepak gelê het.

Die dagboeke van haar eie Nederlandse grootouers uit die 1930’s en 1940’s was van die kosbaarste bronne. Hulle is noukeurig bygehou, met datums, foto’s, beskrywings en vertellings wat ’n besonderse blik op die alledaagse lewe bied.

“Die dagboeke was ’n lieflike skat,” sê sy. Daarin kon sy lees oor die lewe van ’n plaaskind, kindersiektes, skool- en koshuiservarings en die werklikhede van ’n tipiese Afrikaanse huishouding op ’n afgeleë plaas.

Een ontdekking het egter ’n besondere deurbraak gebring: ’n brief wat die Afrikaanse dramaturg en Hertzog-pryswenner, Johannes Grosskopf, aan die mense van Swerwerskraal geskryf het. Die brief is op 10 Mei 1934 aan boord van die SS Hamburg geskryf. Grosskopf het in die sewe bladsye ’n belangrike geheim van Swerwerskraal onthul.

“Dié brief het dekades lank in ’n versteekte laai gelê voordat dit ontdek en aan my beskikbaar gestel is. Eers nadat ek Johannes se brief gelees het, kon ek begin om die legkaartstukke in plek te pas.”

Die ondersoek het Swart ook laat nadink oor haar rol as joernalis. As voormalige redakteur en mede-eienaar van die gemeenskapskoerant Die Pos was sy gewoond daaraan om feite te versamel en ’n verhaal noukeurig te dokumenteer.

’n Oproep van ’n bejaarde het skrywer, Keina Swart, op ’n 11 jaar lange reis deur familiegeskiedenis, ou dagboeke en vergete briewe gestuur. Die resultaat is Swerwerskraal, ’n roman oor twee Nederlandse susters, Afrika en die geheime wat families bewaar. Foto: Verskaf

Die koerant dek die hele Waterberg-distrik, insluitend dorpe soos Bela-Bela en Modimolle (Nylstroom).

Met die skryf van Swerwerskraal het dié ingesteldheid van ’n joernalis om feite te respekteer, aanvanklik egter teen haar getel.

Die uitdaging vir haar was om tussen dokumenteerbare feite en verbeelding te onderskei.

“Wanneer jy oor iemand anders se lewe skryf, betree jy heilige grond,” sê Swart.

Die karakter Alida se agtergrond het die kontras tussen die Europese en Suid-Afrikaanse wêrelde verder verdiep. As ’n welgestelde, opgevoede botanis uit Rotterdam was sy avontuurlustig en gewoond daaraan om te reis, soms maande lank op see, om blommeskoue by te woon of spesery-eilande te ondersoek. Sy het ook praktiese ervaring van tuinwerk gehad.

Swart voeg by hoe die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog en die Ossewabrandwag-jare Suid-Afrika se families en gemeenskappe diep geraak het. “Mense was kwaad: Vir die Britse regering, vir die Suid-Afrikaanse regering, vir mekaar,” vertel sy.

Tog het sy nie begin skryf met ’n bepaalde boodskap of lesersgroep in gedagte nie. Sy het bloot gevoel dat die verhaal vertel moes word.

“Dit was vir my soos die gesegde lui: ‘As jy ’n storie in jou het, moet hy uit’.”

  • Die boek word op 7 November om 11:00 by The Book Keeper Shop in die In Shere Lifestyle Centre in Pretoria-oos bekend gestel. Skakel: 065 575 1125.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button