Local elections newsNews

Verkiesing 2026: Groepe wil almal rol in verkiesing kan speel

Mense met gestremdhede sê hulle wil vanjaar aan die munisipale verkiesing deelneem, maar wys op verskillende uitdagings. Terwyl jongmense groter betrokkenheid by plaaslike sake wil hê, vra kiesers met gestremdhede vir beter toeganglikheid van lokale en privaatheid.

Jong volwassenes en mense met gestremdhede sê hulle wil vanjaar aan die munisipale verkiesing deelneem en ’n rol speel in besluite wat hul gemeenskappe raak.

Terwyl jong kiesers meen hulle kan meer betrokke raak by plaaslike politiek, sê kiesers met gestremdhede dat praktiese uitdagings steeds hul deelname aan verkiesings kan bemoeilik.

Carmen Botha, ’n student van die Moot, sê jong volwassenes moet meer aandag gee aan wat in hul eie gemeenskappe gebeur. Volgens haar raak plaaslike politiek jongmense direk, selfs al voel hulle soms dat munisipale sake niks met hulle te doen het nie.

Sy sê besluite wat op plaaslike vlak geneem word, beïnvloed alle inwoners se daaglikse lewens. Botha meen jong volwassenes moet onder meer munisipale of gemeenskapsvergaderings bywoon waar inwoners hul menings oor probleme in hul gebied kan deel.

“Sosiale media het ook ’n groot deel van ons lewens geword. Dit kan gebruik word om jongmense bewus te maak van plaaslike kwessies sowel as om opinies te deel,” sê sy.

Volgens Botha is gesprekke binne gemeenskappe ook belangrik. Jongmense kan volgens haar met ander inwoners praat om uit te vind wat die grootste probleme in hul gebiede is.

Sy meen dié betrokkenheid kan daartoe lei dat hierdie groep beter ingelig is oor plaaslike sake en hul plek binne hul gemeenskappe verstaan.

Botha sê kiesers het ook ’n rol om te speel om munisipaliteite en verkose raadslede aanspreeklik te hou nadat die verkiesing verby is.

Sy voeg by kiesers moet onthou wat kandidate voor die verkiesing belowe en daarna kyk of daardie beloftes nagekom word.

“As ’n raadslid byvoorbeeld belowe om ’n sekere probleem in die gemeenskap aan te spreek, kan inwoners later vra wat met daardie belofte gebeur het,” sê Botha.

Sy sê inwoners kan ook munisipale of gemeenskapsvergaderings bywoon en vrae stel oor probleme wat nog nie opgelos is nie.

“Dit is ook belangrik om probleme amptelik by die munisipaliteit aan te meld en rekord te hou van klagtes sowel as die terugvoer wat ontvang word,” sê sy.

Die OVK in Gauteng het deelgeneem aan die Tshwane Disability Forum se streeksverkiesings om deelname van persone met gestremdhede te versterk. Die OVK het nuwe komiteelede help verkies, kiesersopleiding verskaf en burgers gehelp om te registreer. Foto: Facebook/OVK

Volgens Botha behoort kiesers nie net tydens verkiesingstyd belangstelling in plaaslike regering te toon nie.

“Ek dink kiesers moet ook deur die hele termyn belangstel in wat raadslede doen en nie net tydens verkiesingstyd aandag gee nie,” sê sy.

Vir mense met gestremdhede kan deelname aan die verkiesing egter ander uitdagings inhou.

Lizette de Beer, ’n 50-jarige kwadrupleeg van die Moot, sê sy het vrae oor hoe mense met ernstige fisieke gestremdhede hul stem kan uitbring wanneer hulle nie self ’n merk op die stembrief kan maak nie.

De Beer het haar nek tydens ’n motorbotsing gebreek en is al 29 jaar in ’n rolstoel. Sy het voor haar ongeluk reeds ’n paar keer gestem.

Een van haar bekommernisse is of mense met gestremdhede ’n persoon wat hulle vertrou kan saambring om hulle met die stemproses te help.

“Daar is van ons mense met gestremdhede wat nie self kan skryf nie en ons ken nie die mense wat in die verkiesingslokale is nie,” sê De Beer.

Sy sê sy sal verkies om iemand naby aan haar te kan saamneem om haar te help indien sy nie self haar stem kan aandui nie. Vir haar beteken dit haar privaatheid en die geheimhouding van haar stem word gerespekteer.

De Beer wys ook op die toeganklikheid van stemlokale. Volgens haar is daar mense in rolstoele wat sukkel om by stemlokale en stemhokkies uit te kom omdat alle plekke nie noodwendig rolstoelvriendelik is nie.

“Ons moet ook sukkel om net in die stemhokkie in te kom want dit is dikwels te klein en nie ingerig vir rolstoele nie,” sê sy.

Sy erken dat dit nie noodwendig oral maklik is om bestaande fasiliteite meer toeganklik vir mense met gestremdhede te maak nie, maar sê dit is een van die redes wat deelname aan verkiesings deur mense met gestremdhede juis belangrik maak.

“Maar dis juis hoekom ons as mense met gestremdhede met vertroue in toeganklik plekke moet kan stem sodat ons met ons stem omstandighede kan verbeter,” sê De Beer.

Kragonderbrekings is volgens haar nog ’n praktiese uitdaging. Sy gebruik ’n elektriese rolstoel en moet dit gereeld laai om daarmee te kan beweeg.

“Sou kragonderbrekings rondom verkiesingsdag gebeur, kan dit ook die stemmery vir ons moeiliker maak want ek moet my elektriese rolstoel kan laai om daarmee oor die weg te kom,” sê sy.

Die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) is gevra om te verduidelik watter opsies beskikbaar is vir kiesers met fisieke gestremdhede wat nie self ’n merk op ’n stembrief kan maak nie.

OVK-woordvoerder Kate Bapela sê Artikel 48(2) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Verkiesings, Wet 27 van 2000, maak voorsiening vir bystand aan ’n kieser wat dit versoek.

“Die voorsittende beampte of ’n stembeampte moet, op versoek van ’n kieser waarna in die wet verwys word, of ’n kieser wat nie kan lees nie, daardie kieser met stemming help en sodanige bystand verleen in die teenwoordigheid van een of twee agente en ’n waarnemer, indien beskikbaar,” sê Bapela.

Sy sê ’n persoon met ’n gestremdheid moet nie as ’n ongeletterde persoon behandel word nie.

Kate Bopela, woordvoerder van
die Onafhanklike VerkiesingskommissieFoto: Facebook/OVK

Volgens Bapela mag agente, kandidate of waarnemers nie die uitbring van die stem sien wanneer ’n persoon met ’n gestremdheid gehelp word nie.

“Die helper moet 18 jaar of ouer wees en nie ’n kandidaat wees nie,” sê sy.

Die OVK maak volgens Bapela ook voorsiening vir kiesers wat rolstoele gebruik. Hulle kan na ’n spesiale stemhokkie verwys word met ’n skryfoppervlak wat laer is as dié van ’n standaardstemhokkie.

Bapela sê die OVK het saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Blindes ook ’n stemhulpmiddel ontwikkel.

“Die Verkiesingskommissie, saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Blindes, het verder ’n stemhulpmiddel ontwikkel wat die Universele Stembriefsjabloon genoem word om persone met gestremdhede en spesiale behoeftes te help om tydens verkiesings in die geheim te stem,” sê sy.

Volgens Bapela kan mense met gestremdhede ook vir spesiale stemme aansoek doen.

“Spesiale stemme is tans oop vir aansoeke tot 12 Oktober,” sê sy.

Spesiale stemme stel kwalifiserende geregistreerde kiesers wat nie op verkiesingsdag, 4 November, by ’n stemlokaal kan stem nie, in staat om vooraf te stem.

Volgens die OVK kan ’n kieser vir ’n spesiale stem deur middel van ’n tuisbesoek aansoek doen deur ’n aanlyn aansoekvorm te voltooi of ’n plaaslike OVK-kantoor te besoek. Iemand anders kan ook namens die aansoeker die vorm indien.

Spesiale stemme sluit tuisbesoeke en stemming by ’n stemlokaal op 2 en 3 November in.

Mense met gestremdhede, swanger vroue, bejaardes en mense met werkverwante verpligtinge kan volgens haar vir spesiale stemme aansoek doen.

– Doen hier aansoek om ’n spesiale stem uit te bring: www.elections.org.za. Jy kan ook aansoek doen deur jou identiteitsnommer na 32249 te SMS (R1.00 per SMS). Let wel hierdie is slegs vir ’n spesiale stem by ’n stemlokaal.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button