Local elections newsLocal newsNews

Verkiesing 2026: Moot wag nog op antwoorde

Vyf jaar ná die 2021-plaaslike verkiesing bly verkiesingsbeloftes wat nie verwesenlik is nie, steeds ‘n probleem in die Moot. Van paaie en straatligte tot elektrisiteit, veiligheid en gemeenskapsprojekte wys inwoners en raadslede na projekte en probleme wat steeds aandag vereis.

Toe inwoners van die Moot in November 2021 hul kruisies getrek het, was dienslewering een van die belangrikste kwessies op die plaaslike politieke agenda.

Voorstede soos Queenswood, Villieria, Rietondale, Waverley, Moregloed en Rietfontein het reeds met kwessies soos swak paaie, straatligte, onwettige storting, elektrisiteitsprobleme en die hantering van munisipale klagtes geworstel.

Vyf jaar later voel inwoners is talle verkiesingsbeloftes hierrondom steeds nie nagekom nie. Sommige projekte is aangepak of voltooi, ander het vasgeval, terwyl van die probleme wat voor die vorige verkiesing bestaan het steeds deel van inwoners se daaglikse ervaring is.

Vir Susan Marais, voorsitter van die Tshwane Toerismevereniging, is beloftes rondom betroubare basiese dienslewering veral belangrik vir ondernemings in die toerisme- en gasvryheidsektor.

Sy sê ondernemings moet elke dag aan inwoners en besoekers ’n goeie ervaring kan bied, wat afhanklik is van infrastruktuur wat so betroubaar moontlik funksioneer.

“Voortgesette investering in infrastruktuur en voorkomende instandhouding bly daarom baie belangrik en ons luister na beloftes hierrondom en let op na hoe dit nagekom word.”

Volgens Marais is dienslewering egter nie net ’n kwessie van infrastruktuur nie. Die manier waarop die metro met ondernemings kommunikeer wanneer probleme ontstaan, is volgens haar net so belangrik.

Ondernemings wil volgens haar weet waar om ’n probleem aan te meld, wie dit hanteer, wat die verwagte tydlyn is en, waar moontlik, gereelde terugvoer ontvang totdat die probleem opgelos is. Sy voel beloftes hierrondom word nie altyd gestand gedoen nie.

“Ons kan ’n bestemming bemark en wonderlike ervarings skep, maar uiteindelik is die stad self en die beloftes wat gemaak word, ook deel van die toerismeproduk,” sê sy.

Vir Moot-inwoner Hetta Pieterse is die politieke rekord van politieke partye die afgelope vyf jaar moeiliker om bloot aan individuele verkiesingsbeloftes te verbind.

Sy het die afgelope vyf jaar meer bewus geword van die struwelinge rondom koalisieregerings op plaaslike vlak en hoe dit moontlik verkiesingsbeloftes kon benadeel.

Wanneer dit kom by die uitvoering van verkiesingsbeloftes, voel Pieterse lê een van die uitdagings by die aanstelling van kundiges binne munisipale strukture en dat verkeerde aanstellings die uitvoering van beloftes kan benadeel.

“Politici sukkel nog om die regte kundiges aan te stel. Hulle voel veiliger om liewer een van hulle eie mense aan te stel, sodat hulle steun het van binne,” sê sy.

Pieterse wys terselfdertyd op kwessies waar gemeenskapsbetrokkenheid volgens haar ’n sigbare verskil maak eerder as die beloftes van politici. Sy beklemtoon positiewe gemeenskapsinisiatiewe en verwys na Die Moot Projek, wat daarin slaag om op praktiese vlak met die metro en die gemeenskap saam te werk.

Sy sê straatgroepe speel ook ’n rol, met raadslede wat inwoners help om probleme soos kragonderbrekings en groot waterprobleme op te volg, dikwels waar beloftes nie gehou word nie.

Vir Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder, kom onverwesenlikte beloftes rondom drie diensleweringskwessies oor ’n langer tydperk herhaaldelik in die Moot na vore: padinfrastruktuur en verkeersligte, water en elektrisiteit, en die toestand van openbare ruimtes.

Volgens hom skep paaie, slaggate en verkeersligte wat vir lang tydperke buite werking is nie net frustrasie nie, maar ook veiligheids- en verkeersprobleme.

Hemmens sê die metro behoort ’n instandhoudings- en reaksieplan met duidelike tydraamwerke te hê sodat beloftes wat in verkiesingstyd gemaak is, nagekom word.

Hy glo die metro behoort meer klem op voorkomende instandhouding te plaas eerder as om hoofsaaklik op probleme te reageer nadat dit ontstaan het sodat beloftes gemaak moet word.

Volgens Hemmens het die toestand van parke, oop ruimtes, sypaadjies en ander openbare gebiede ’n direkte invloed op inwoners se veiligheid en lewenskwaliteit en hy voel dat talle beloftes hieroor nie nagekom is nie. Spanne van sy organisasie moes op gemeenskapsvlak inspring om die werk te laat realiseer.

Hy sê ’n verdere probleem is dat inwoners dikwels self moet organiseer, probleme aanmeld, opvolg en druk uitoefen voordat daar op diensleweringskwessies gereageer word.

“Ons glo gemeenskappe en organisasies soos AfriForum kan en wil ’n vennoot wees, maar dit kan nie beteken dat gemeenskappe die stad se basiese verantwoordelikhede moet oorneem nie,” sê hy.

Teen dié agtergrond staan die konkrete projekte wat wel aangepak is.

Peter Meijer, verkiesingskandidaat vir die Vryheidsfront Plus, verwys onder meer na ’n straatligprogram wat volgens hom in Bergtuin, Waverley en ’n gedeelte van Villieria begin is en later na Breyer- en Moultonlane uitgebrei is. Hy sê die program was aanvanklik suksesvol, maar dat onderhoud daarna volgens hom ’n probleem geword het.

Meijer verwys ook na gemeenskapsopheffingsprojekte by Melgisedek en ’n parkie op die hoek van Johan Heynsstraat oorkant die Melgisedek-terrein. Volgens hom is dié projek afgehandel om sluislapers en dwelmsmouse se gebruik van die park te ontmoedig.

’n Verdere voorstel van hom word tans bewaarheid deurdat daar besluit is om die Tjaart van der Walt-swembad by die registrasie van ’n gemeenskapsopheffingsprojek te betrek en skole daarby in te sluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button