Moot-swembad steeds gesluit al bied inwoners hulp aan
Inwoners en ondernemings wil help met herstelwerk maar regulasies laat dit glo nie toe nie.

Die Tjaart van Vuuren-swembad in die Moot bly gesluit weens probleme met sy pomp en motor, al is inwoners en ondernemings bereid om geld, tegniese kundigheid en ander hulp aan te bied om die fasiliteit te herstel.
Peter Meijer, Vryheidsfront Plus-raadslid, het ’n beroep gedoen op die metrobestuur om dringend duidelikheid te gee oor die herstelproses en die moontlike heropeningsdatum.
Hy verduidelik die sluiting van die swembad het kommer onder inwoners en gemeenskapsrolspelers laat ontstaan, veral met die naderende skoolvakansie en die behoefte aan toeganklike openbare ontspanningsgeriewe gedurende die warm somermaande.
Volgens Meijer is die swembad die enigste openbare een in die Moot-gebied en dien dit duisende inwoners.
Hy het in ’n skrywe aan die stadsbestuurder en metrobestuur versoek dat dringend ingegryp word om die herstel of vervanging van die pomp en motor te bespoedig.
Hy sê hy het ook probeer om die groepbestuurder van hul streek bereik, maar kon nie daarin slaag om kontak te maak nie.
Die swembad is volgens hom veel meer as net ’n plek waar mense kan afkoel.
“Dit bied inwoners van verskillende ouderdomme ’n ruimte vir oefening, ontspanning, gesinsaktiwiteite en sosiale kontak. Dit kan ook ’n rol speel in jeugontwikkeling en die bevordering van ’n aktiewe leefstyl,” brei Meijer uit.
Hy meen die gemeenskap se bereidwilligheid om te help, behoort as ’n geleentheid beskou te word om die herstelproses te versnel en openbare infrastruktuur in stand te hou.
Volgens Meijer het plaaslike ondernemings, organisasies en gemeenskapslede aangedui dat hulle bereid is om by te dra deur finansiële ondersteuning, tegniese kundigheid of ander direkte hulp.
“Hulle wil help om die probleem op te los, maar die bestaande verkrygingsproses van die metro wil blykbaar nie tans sulke bystand toelaat nie.”
Hoewel hy erken dat die stad wetlike en bestuursvereistes moet nakom, vra hy dat moontlike wettige en praktiese oplossings ondersoek word om die proses te bespoedig.
Die belangrikste vrae wat volgens hom steeds onbeantwoord is, handel oor die status van die verkrygingsproses, wanneer ’n diensverskaffer aangestel sal word, wanneer herstelwerk kan begin en wanneer inwoners die swembad weer sal kan gebruik.
Hy versoek dat die stad ’n opdatering oor die herstelproses verskaf en ’n aanduiding gee van die verwagte tydlyn vir die herstel en heropening.
Hy doen ook ’n beroep op die metro om alle toepaslike opsies te ondersoek om die proses te versnel en deursigtige maniere te vind waarop ondernemings en inwoners binne die geldende reëls kan bydra.
Meijer benadruk hy het die afgelope jaar met verskeie skole en ander belanghebbendes in die Moot-gebied oor die swembad beraadslaag. Die uiteindelike doel is om ’n CUP, oftewel ’n gemeenskapsgebruikvennootskap, te vestig.
Volgens hom is dié saak vir moontlike implementering volgende jaar onder bespreking.
Die voorstel is volgens hom daarop gerig op ’n moontlike groter rol vir die gemeenskap in die ondersteuning en instandhouding van plaaslike fasiliteite.
Vrae is aan die metro gestuur oor die huidige stand van die verkrygingsproses en die aanstelling van ’n diensverskaffer, maar geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel