Afrikaanse inspirasievroue word deur FAK vereer
Bekende aktrises soos Lizz Meiring en Brümilda van Rensburg, asook vroue vanuit ons gemeenskap, René Roux van Helpende Hand en Elphi Taljaard van die Dameskring, het tydens ’n dames-oggend die FAK se inspirasievrou-toekenning ontvang.
Ter viering van die ystervroue in ons gemeenskap, het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke in hierdie Vrouemaand vyf inspirasievroue aangewys en vereer vir hul harde werk, veral op die front van vrouwees.
Bekende aktrises soos Lizz Meiring en Brümilda van Rensburg, asook vroue vanuit ons gemeenskap, René Roux van Helpende Hand en Elphi Taljaard van die Dameskring, het tydens ’n dames-oggend die FAK se inspirasievrou-toekenning ontvang.
Irma Joubert, die bekende Afrikaanse skrywer, is ook vereer.
Hierdie geleentheid, wat op 6 Augustus in die FAK Afrikaanse Liedjietuin by die Voortrekkermonument plaasgevind het, is ’n bewys van die stelling wat Roux juis in haar “Afrikaanse inspirasievroue deur die FAK vereer” toespraak gemaak het dat vroue die ruggraat van ons samelewing is.
Dit is die tweede keer wat die FAK se kultuurnetwerke die inspirasievrou-toekenning oorhandig. Die vroue is deur die kultuurnetwerke genomineer om die toekennings te ontvang.
Meiring is alombekend vir haar humoristiese uitbeeldings op die silwerskerm, en in lewende lywe helder sy elke vertrek op.
“Ek put my inspirasie vanuit die kreatiwiteit van elke vrou wat ek teëkom,” sê Meiring.
Van Rensburg is ook ’n bekende gesig vir duisende Afrikaners.
“Die vrou is die gom wat alles bymekaar hou,” sê Van Rensburg.
Sy vertel hoe haar ma vir haar ’n inspirasie is en dat elke vrou ’n inspirasie kan wees, eenvoudig deur onwrikbaar te wees en haar plek vol te staan.
Roux, wat tans die adjunk uitvoerende hoof by Helpende Hand is, het ook al diep spore getrap. Met die stigting van die FroueVonds, asook die Susanna Smit Studiefonds, is haar toekenning vir inspirasie-vrou duidelik verdiend.

“Inspirasie kom van die Heilige Gees af en dit is iets binne jou wat jou dryf. Om iemand te inspireer, is jou roeping,” sê René oor haar toekenning.
Eplhi Taljaard dien tans as die president van die Dameskring, wat vroue inspireer en bemagtig om ook ’n verskil in hul gemeenskap te maak.
“Ester het die Here gedien. Sy het ’n roeping gehad, was diensbaar en is tot koningin vereer,” sê Taljaard.
Sy vertel verder dat dit steeds belangrik is om vroue te vereer, selfs in die moderne samelewing waar daar meer geslagsgelykheid is, want “ons moet erkenning gee aan die vroue wat so lang pad gestap het”.
“Vroue moet nie hul eie vlerke knip nie en moet elke geleentheid aangryp,” sluit sy af.
Barry Müller van die FAK se kultuurnetwerke vertel dat dit ’n groot voorreg en plesier is om vroue van hierdie kaliber te vereer tydens Vrouemaand.
“Hierdie inspirasie-vroue het al reeds diep spore op die landskap van die Afrikaanse vrou getrap en ’n ewige indruk gelaat. Die Afrikaanse vrou het deur ons geskiedenis nog altyd ’n groot rol gespeel in die vorming van ons Afrikaner-identiteit.
“Hulle deursettings- en uithouvermoë, durf en daad, moed, selfstandigheid en trots het oor die dekades gestrek.
“Die vrou se rol in ons geskiedenis en ons toekoms moet nooit onderskat word nie. Dit is waarom dit van kardinale belang is dat ons die sterk Afrikaanse vroue van vandag moet vereer en hul leiding volg.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
