Local news

Helpende Hand lei 50 versorgers op

Helpende Hand sê die beroep is onmisbaar in ons samelewing

Nie minder nie as 50 versorgers is so pas deur Helpende Hand opgelei.

Hierdie hoogs opgeleide span sal seker maak dat mense wat versorging benodig die beste hulp kry.

Dit is die tweede jaar wat Helpende Hand sy geakkrediteerde versorgingsopleiding saam met Gratia Via Akademie aanbied.

In 2021 het altesaam 17 persone dié program suksesvol voltooi en die meeste kandidate is vinnig in die versorgingsbedryf opgeraap.

Die 50 studente wat vanjaar se kursus voltooi het se dienste is ook reeds hoog in aanvraag.

Hulle is verlede Vrydag tydens ’n sertifikaatplegtigheid by Leriba Lodge in Centurion vereer.

“Helpende Hand wil graag die studente vereer vir hierdie wonderlike prestasie asook vir hul deursettingsvermoë gedurende die maande wat hulle die opleiding ondergaan het,” het Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, by die geleentheid gesê.

Volgens Noëth het daar die afgelope paar jaar ’n groeiende behoefte aan Afrikaanse tuisversorgers ontstaan, daarom het Helpende Hand besluit om die opleidingsprogram aan te bied.

“Wanneer jy die woord ‘versorger’ hoor, dink ’n mens dadelik aan die woord ‘omgee’.

“Dit is egter eers wanneer ’n mens self ’n versorger nodig het wat die woord ’n ander betekenis kry.

“Dan word versorger nie net ’n woord nie, maar ’n persoon,” vertel Noëth.

“’n Versorger word soos ’n engel uit die hemel gestuur vir diegene wat nie self kan eet of omdraai nie en wat versorg moet word.

“Jy as versorger maak vir sterwendes die juk ligter en vir siekes die pyn draagliker.

“Vir swakkes word jy die krag en vir ’n arm of been wat nie meer wil werk nie, tree jy in as die hand of voet,” sê hy.

Noëth sê die professie van versorging is nie ’n geringe taak nie, dit is ’n gewigtige roeping waarin die verantwoordelikheid van omgee aanvaar moet word.

“Die beroep is onmisbaar in ons samelewing.

“Vir die versorger kan dit voel of die liefdeswerk ongesiens verbygaan, maar vir die een wat versorg word, is hierdie omgee in liefde nie vanselfsprekend nie.

“Dit is die lewensaar na gewone en normale dinge.

Noëth sê dis daarom dit vir Solidariteit Helpende Hand so belangrik is om versorgers op te lei – nie net om gewone mense vaardig te maak vir ’n werk nie, “maar om ’n liefdesroeping te vestig”.

“Om ’n versorger te wees, is kosbaar, spesiaal, noodsaaklik en ’n besonderse roeping,” sê Noëth.

Dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van navorsing, programme en opleiding, het die studente aangemoedig om aansoek te doen vir die volgende opleidingsprogram wat in Februarie begin.

“Die persoon wat hierdie beroep volg, is ’n besonderse hartsmens met ’n omgee-hart, ’n geduldige hart, ’n opregte hart.

“Elke versorger moet ook ’n kop-mens wees – ’n nugter denker wat oor wysheid, onderskeidingsvermoë en lankmoedigheid beskik,” sê sy.

Hannes Noëth en Frieda de Jager.
Foto: Verskaf

Studente wat die kursus suksesvol voltooi, kan as tuisversorger of versorgingshulp in tehuise of residensiële instansies in diens geneem word.

Hulle het ook die keuse om privaat werk te onderneem of hulself verder as ’n au pair of doula bekwaam of selfs palliatiewe sorg verrig.

Die kursus word oor ’n tydperk van ses maande in Pretoria en Bloemfontein aangebied waartydens teorie en praktiese sessies afgewissel word.

Kostes vir die opleiding beloop R10 000 per student en sluit die kursusmateriaal en ’n uniform in.

’n Beperkte aantal rentevrye studielenings is beskikbaar; dit word aan die hand van bepaalde kriteria toegeken.

Kandidate sal ’n streng keuringsproses ondergaan om daarvoor te kwalifiseer.

Die publiek word aangemoedig om ’n hulpbehoewende versorgingstudent te borg.

“Deur een student vir die kursus te borg, voorsien jy iemand van ’n tersiêre kwalifikasie en ’n werk.

“Terselfdertyd sorg jy dat ’n bejaarde of gestremde persoon teen ’n bekostigbare prys in Afrikaans deur ’n goed opgeleide persoon versorg kan word.

“Dit gee die gesin ook gemoedsrus omdat hulle weet hul geliefde word goed versorg,” voeg sy by.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button