AfriForum Moot het groot planne vir 2023
Lid verduidelik dat dit noodsaaklik was om die buurtspanne te begin om hulle omgewing te red van verval.
AfriForum se Groter-Moot-tak het vanjaar groot planne om die verval van hul dorp se infrastruktuur te stop en om reg in hul eie hande te neem.
Die buurtspanne het skouer aan die wiel gesit verlede jaar om die omgewing skoon te hou en het veral gefokus op parke en strate in die area wat in ’n toestand van verval was.
“2023 het reeds volspoed afgeskop,” sê Andries Opperman, buurtbeampte vir AfriForum Groter-Moot.

“Die gras by De Moot Noordspruit van Fratesweg is tot by 14e Laan gesny.
“Fratesweg se padhoeke is gif gespuit vanaf Cunninghamlaan tot by Pierneefstraat.”
Die buurtspan het verlede jaar geweldig gegroei en bewys dat Moot-inwoners omgee oor hul omgewing.
“Die AfriForum Groter-Moot-buurtspan het nou agt betaalde lede.

“Ons stel slegs Moot-inwoners aan, want die geld kom uit die Moot en daarom wil ons alles doen wat ons kan om die Moot-inwoners ook op te hef,” sê Opperman.
“Ons sien hierdie as die ontkieming van ’n klein dorpsraad.
“Ons werk daarna toe dat daar vir elke woonbuurt sy eie oranjespan kan wees.
“Drie van ons buurtspanlede se salarisse word betaal deur sakeondernemings terwyl die ander vyf deur die AfriForum-ledebydrae in die Moot betaal word.”
Opperman verduidelik dat dit noodsaaklik was om die buurtspanne te begin om hulle omgewing te red.

“Daar word dikwels vir ons gevra, waarom moet ons bydra om die Moot in stand te hou as ons reeds belasting betaal daarvoor?
“Die antwoord is eenvoudig: die staat se verval is besig om te versnel en daarom moet ons versnel met selfbestuur.
“Die staat vat met geweld belasting by ons. Wanneer hulle nie dienste lewer nie, is dit bullebakkery en diefstal.
“Soos hulle verval toeneem, sal hulle ook minder in staat wees om gemeenskappe te beroof van eiendomsbelasting.”
Opperman se daar is nog baie werk vir hulle om te doen, maar is tevrede met die vordering wat hulle tot dusver gemaak het. Hy moedig inwoners aan om hande saam met hulle te vat as hulle ’n verskil wil sien in hul woonbuurte.

“Daarom werk ons daarna toe om ’n klein dorpsraad te vestig vir die Moot, ’n voertuig waardeur die Moot-gemeenskap self inkomste vir dienslewering kan genereer.
“Ons wil graag sakeondernemings en inwoners nooi om hulle gewig in te gooi by die AfriForum Groter-Moot-tak in 2023 om ons te help om plaaslike dienslewering in die Moot te versnel.
Diegene wat belangstel om betrokke te raak, kan ’n e-pos na grotermoot@afriforumtak.co.za stuur.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
