CrimeLocal news

Man ses keer gesteek in 18e Laan

Plaaslike polisie sê daar is 'n toename in geweld onder herwinners in die Moot.

Moot-inwoner Elsabe Weyers het wakker geword met ’n bloedige toneel toe ’n man ses keer buite haar huis met ’n mes gesteek is Maandagoggend in 18e Laan in Wonderboom.

“Daar was bloed orals en ek was nie seker of hy dit sou oorleef nie,” sê Weyers.

Weyers se tuinier het gesien hoe die man gesteek word en het haar dadelik geroep.

Sy het by die gewonde man gebly totdat ’n ambulans hom na die naaste hospitaal gehaas het.

Weyers is die voorsitter van die Moot GPF en sê die man was ’n herwinner.

Sy vermoed die insident was deel van ’n beplande aanval weens ’n gebieddispuut tussen die herwinners.

“Dit word ’n groot probleem in ons area,” het Weyers aan Rekord vertel.

“Hulle baklei oor wie se area aan wie behoort, en as een van hulle in die verkeerde area skoonmaak, dan gebeur so iets.

“Ons het dit al baie gesien en dit word net erger.

“Herbenutting is belangrik en ons waardeer wat hulle doen, maar as dit meer geweld en misdaad bring dan word dit ’n probleem.”

Sy het bygevoeg dat herwinners wat die aanval gesien het, die man ken en het vir haar gesê hy het al in verlede iemand vermoor.

Kaptein Anton Breedt van die Moot-polisie het die geval bevestig.

“Die man is nog in die hospitaal,” sê Breedt.

“Nadat hy ontslaan word kan hy na die stasie toe kom en ’n klagte lê.”

Breedt sê daar is ’n toename in herwinners in die Moot-area.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button