Local news

Die VTM help ‘n dekade lange droom bewaarheid

"Herman en Antoinetta se verhaal is een wat baie mense geraak het en die VTM is werklik trots om deel te kon hê daaraan.”

Op 8 April staan Herman du Plooy in ’n groen pak en kyk op na die Voortrekkermonument (VTM); senuweeagtig maar vol hoop vir die toekoms.

Die VTM is al vir jare ’n gewilde troubestemming in Pretoria, maar dié sprokiesverhaal wat die afgelope naweek daar afgespeel het, sal nog lank onthou word.

Toe Du Plooy vroeër vanjaar pakkies springmielies langs die pad verkoop het vir ’n ekstra inkomste, vertel hy, sou hy nooit kon raai dat hy skaars ’n paar maande later ’n sprokiestroue saam met die vrou van sy drome, Antoinetta, sou hou nie.

Die afgelope naweek is hul dekade lange droom uiteindelik verwesenlik.

“Ek en my vrou het aan die begin van die jaar nog baie gesukkel; ek was werkloos en sy was afgetree, so ek moes maar langs die pad springmielies verkoop vir ’n ekstra inkomste.

“Toe ontmoet ek daar ’n man wat ons lewens onherroeplik sou verander: Jacques Papenfus,” vertel hy.

Papenfus is die eienaar van ’n nie-winsgewende organisasie, Moeggesukkel, en toe hy in Februarie vanjaar Du Plooy ontmoet het, het hy dadelik geweet: “Du Plooy is iemand met wie mens ’n pad kan stap”.

“Ek is al vir jare betrokke by liefdadigheid, tog het ek eendag besef die Here roep my dalk tot iets groter en ek het besef ek moet dieper begin kyk na die wêreld en die mense rondom my,” sê Papenfus.

“Toe ek vir Herman ontmoet het, het ek besef hier is ’n man met wie ek ’n pad kan stap en toe ek hom vra wat hy die graagste op aarde wou hê, het hy bloot geantwoord ‘om met my verloofde te trou’.”

Papenfus het dadelik begin rondbel en verskeie borge genader om te help met alles, van blomme, spyseniering, ’n rok en ’n pak en ook die venue …

In Maart vanjaar het die span ook kontak gemaak met FC Pelser, kommunikasiebeampte by die VTM, na hulle ’n radiogesprek oor die monument geluister het en so het die VTM ook die kans gekry om betrokke te raak by die omgeeprojek.

“Van die VTM se kant af is ons ’n kultuurtuiste wat glo in die gemeenskap en die gemeenskap wat moet saamstaan,” sê Pelser.

“Ons werk gereeld saam met liefdadigheidsorganisasies waar ons verskeie projekte aanpak en toe ons genader word deur Moeggesukkel het ons besef hierdie is ’n goeie manier om terug te ploeg in die gemeenskap en weer bietjie hoop te saai.

“Herman en Antoinetta se verhaal is een wat baie mense geraak het en die VTM is werklik trots om deel te kon hê daaraan.”

LEES MEER> Tshwane-burgemeester sê hy sal saak regstel na AfriForum-lede R15k boetes opgelê is

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button