Jongmense help bou aan Voortrekkermonument
"Ons voorouers het hierdie monument vir ons gebou en nou moet ons ook help bou aan ’n toekoms vir die monument,” sê Welmari Ostler.
Drie jongmense van Pretoria het hierdie week hul hande diep in hul eie sakke gesteek met een doel voor oë: die opbou en uitbou van die Voortrekkermonument (VTM).
Ernst van Biljon (13), Welmari Ostler (11) en Lee-Anne Kotze (13) van Laerskool Wonderboom-Suid, het vandeesweek besluit om hul eie hardverdiende sakgeld te vat, hardewarewinkel toe te ry en sakke vol sement te koop om aan die VTM te skenk.
Dié drie het 150kg se sement aan die monument geskenk.
Die VTM is destyds steen vir steen met die hulp van die gemeenskap en kerke van regoor die land wat fondsinsamelings-inisiatiewe aangepak het, gebou.
“Vandag is die VTM weer afhanklik van die gemeenskap vir ons voortbestaan en die groep jongmense se voorbeeld het die spreekwordelike sirkel voltooi toe hul die eerste stene begin lê het vir die pad wat ons die toekoms in gaan dra,” het die VTM in ’n persverklaring verduidelik.
“Toe ons op die VTM se sosiale media sien dat hulle op soek is na skenkings, het ons dadelik besluit ons wil graag help,” het ’n opgewonde Kotze vertel.
“Ek en my gesin kom vreeslik baie na die Voortrekkermonument toe, so ek het nie twee keer gedink om betrokke te raak nie, want dis vir ons belangrik. Nie net vir ons geskiedenis nie, maar vir ons persoonlik.
“Die Voortrekkermonument het al vir jare ’n groot plek in ons harte,” het sy uitgebrei.
“Dit is ons monument.”
Vir Van Biljon was dit ook belangrik om betrokke te raak, want hy glo dat dit hulle plig is om te help bou aan ’n toekoms vir die VTM.
“Dit is belangrik om iets terug te gee, veral aan een van ons land se grootste historiese bakens. Ek is baie bly ek het gehelp,” het hy vertel.
Ostler, die jongste van die groep kinders, het op haar beurt gesê sy wil graag eendag weet sy het help bou aan die Voortrekkermonument en daarom was hierdie skenking vir haar so spesiaal.
“Ons voorouers het hierdie monument vir ons gebou en nou moet ons ook help bou aan ’n toekoms vir die monument.
“Ons kan eendag vir ons kleinkinders sê ons het gehelp.”
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het self ’n draai kom maak om elk van die jongmense persoonlik te bedank vir hul skenking.
“Ek is baie beïndruk met julle,” het hy trots aan hulle gesê.
Langner het afgesluit en gesê dié jongmense is ’n ware voorbeeld vir nie net hul maats nie, maar vir alle Suid-Afrikaners.
“Ek is regtig trots om julle te kon ontmoet en te sien dat daar jongmense is wat sélf inspring om hul kulturele erfenis te beskerm.”
Die drie daag nou hul vriende uit om in hulle voorbeeld te volg, hulle moue op te rol en hulle deel te doen om die monument te help voortbestaan.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
