Paalsmeerders in Menlopark fnuik kabeldiewe
Menlopark het met ’n ghriesprojek begin en smeer die lamppale vet om kabeldiewe te uitoorlê.
Hier in Menlopark sing die inwoners deesdae daardie bekende Afrikaanse liedjie so bietjie anders: “Al gly die boewe sit-sit so…”
“Want ons is heeltemal keelvol,” sê Lindie Berelowitz, ’n inwoner van Menlopark, oor hul besluit om die kragpale met ghries te smeer.
Inwoners is keelvol vir die kabeldiefstal wat gedurig daar plaasvind.
Dr Christivan Maas het met die paalsmeerdery-idee vorendag gekom.
“Hierdie is reaktief en dit is omdat daar geen wet en orde in ons streek is nie,” sê Maas.
Hy het ongeveer drie maande gelede ook die pale, as voorbrand teen die kabeldiefstal, geghries.
Hy het dit in die drie blokke van 13e-, 12e- en 11e strate begin met hulp van ’n karwag en sy tuinier om die pale met ’n smeermiddel vet te smeer.
Die kabeldiewe het verlede week in 4e- en 5e strate toegeslaan.
“Die kriminele het geen vrees vir die SAPD nie,” sê hy.
Maas sê dat dit gewoonlik gepaardgaan met beurtkrag.
“Dis wanneer hulle kom.”
Kabeldiewe het Dinsdagaand weer kabels gesteel.
“Dis ongelooflik die hoeveelheid skade wat in ’n oomblik gedoen word,” sê hy.
“Die munisipaliteitwerkers was hier van 16:00 tot 01:00,” sê Maas.
Naas Olivier van MenloWood Sekuriteitsinisiatief (MSI) het na die mees onlangse diefstal betrokke geraak en het binne vyf ure alles gereël, sê Maas.
Hy sê dat daar ’n rekening is waarin mense geld kan inbetaal en dat die smeermiddel en die arbeid daaruit betaal word.
“Die hele Menlopark se pale gaan nou gesmeer word,” sê hy.
“Ons (MSI) is gestig om veiligheid in Menlopark en Lynnwood-Suid te bevorder,” sê Olivier.
Volgens Olivier is Lynnwood-Suid se kabels reeds alles vroeër afgesteel.
Hy sê dat MSI projekte saam met die inwoners koördineer.
“Die ghriesprojek is ’n inisiatief deur Menlopark se inwoners,” sê.
Hy voeg by dat MSI sy bank- en kommunikasiefasiliteite beskikbaar gestel het.
“Ons koop byvoorbeeld die ghries grootmaat aan en lewer dit af waar die inwoners of ons smeerders dit benodig,” sê hy.
“Die MSI se werksaamhede sluit net Menlopark en Lynnwood in en kan slegs inbetalings van daardie twee buurte hanteer,” sê Olivier.
Hy doen ’n beroep op die inwoners om een tree voor die diewe uit te kom en dan een tree voor hulle te bly.
“Die planne mag nie ophou nie,” beaam hy.
DA-wykraadslid Shioban Muller sê sy is bewus van die paalsmeerdery in Menlopark om die diewe te keer om teen die pale op te klim.
Sy waarsku egter dat die ghries elektrisiteit gelei en dat dit gevaarlik is vir die smeerders asook vir die spanne van die Stadsraad wat die instandhoudingswerk doen.
“Wyk 82 het swaar onder die kabeldiewe deurgeloop,” sê sy.
Sy sê dat daar binne die bestek van twee aande nege strate deur die diewe geteiken is, een in Lynnwood self, vyf in Menlopark en drie in die Hazelwood- en Maroelana-area.
“Dit gebeur as daar beurtkrag toegepas word,” sê sy.
Volgens Muller is dit makliker vir die diewe om gedurende die middernagure die areas te betree en dan die kabels buit te maak wanneer daar geen kragtoevoer is nie.
“Dit vat geweldig lank vir die munisipaliteitspanne om daardie kabels dan agterna te vervang,” sê Muller.
Sy doen ’n beroep op alle inwoners om hulle deel te doen en in te skakel by hulle onderskeie GPFs sodat “daar ’n einde aan hierdie teistering gemaak kan word”.
Sy sê dat die Stadsraad van hulle kant af doen wat hulle kan en so ook die GPFs.
“Ek dink ons het nou almal al genoeg gehad van hierdie kabeldiefstalle.
“Word deel van die span wat hierdie diefstal probeer stop,” sê sy.
Indien enige inwoners van Menlopark betrokke wil raak, kan hulle vir Naas Olivier van MSI skakel of WhatsApp by 082 565 6559 of per e-pos by ops.msi@mweb.co.za
“’n Wors het ook ’n einde, en ons is nou ook op die einde van hiérdie wors,” sluit Berelowitz af.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
