Local news

Tshwane se toekoms in gedrang met aanpassingsbegroting wat sneuwel

Dis nadat politieke partye daarin gefaal het om ’n meerderheid in die stemmery te verkry: hul moes 108 stemme hê om die begroting goed te keur, maar kon net 107 inpalm.

Daar is ’n groot kans dat die Tshwane metro weer onder administrasie geplaas kan word nadat dit die 14 April sperdatum gemis het om hul aanpassingsbegroting goed te keur.

Dis nadat politieke partye daarin misluk het om ’n meerderheid in die stemmery te verkry: hul moes 108 stemme hê om die begroting goed te keur, maar kon net 107 inpalm.

Die enkele stem wat uitstaande was vir die veelparty-koalisie, is die minderheidsparty Good se raadslid, Sarah Mabotja.

Mabotja sê informele nedersettings word nie in die aanpassingsbegroting verteenwoordig nie siende dat hul steeds probleme met elektrisiteit, water en ongeteerde paaie in die gesig staar.

“Ons wil hê dat informele nedersettings geakkommodeer word – en hierdie begroting is op ’n té kort kennisgewing deurgegee. Good sal nie vir hierdie begroting stem nie.”

Republican Conference of Tshwane-raadslid Lex Middelberg het ook teen die begroting gestem omdat hy sê die tyd wat gegee is om die aanpassingsbegroting te bestudeer “te onrealisties kort” was.

Die doel van die aanpassingsbegroting was om die herstrukturering van die R44.9-miljard begroting van laas jaar goed te keur om verskeie diensleweringsvereistes vir die 2023 finansiële jaar te ondersteun.

Die totale begroting van R44.9-miljard bestaan uit ’n bedryfsbegroting van R42.1-miljard en ’n kapitaal infrastruktuur beleggingsbegroting van R2.8-miljard.

Die nuwe Tshwane-burgemeester Cilliers Brink sê die aanpassingsbegroting moes goedgekeur word; indien nie sal staatstoelaes (of te wel grant funding) van Tshwane weerhou word.

Tshwane mayor Cilliers Brink. Photo: Reitumetse Mahope.

LEES MEER: Moot Project remains committed to community

“Dit sal noemenswaardige uitdagings aan dienslewering aan alle dienste oplewer.

Hy sê die feit dat die begroting nie op Vrydag goedgekeur is nie, sal lei tot nog ’n kommerwekkende oudit. Tshwane sal verdere ongemagtigde besteding aangaan en dienslewering sal verder agteruitgaan.

Hy sê die doel van die voorgestelde begroting deur die veelparty koalisie is om die metro op ’n “gesonde finansiële grondslag te plaas om die Ouditeur-Generaal se kommer aan te spreek en dienste te verbeter”.

“Hierdie aanpassingsbegroting moes op kort kennisgewing voorberei word. Ons was onder druk en wou die 14 April sperdatum haal.”

Burgemeesterskomiteelid van Finansies Peter Sutton sê daar is te min staatsinkomste wat ingesamel is deur Tshwane.

“Ons verhoog nie ons staatsinkomste nie. Dit sit druk op ons waar ons reeds ’n negatiewe likwiditeit het.”

Sutton sê dit hou hewige verwikkelinge vir dienslewering in deur dat die begroting nie goedgekeur is nie.

Hy sê die begrotingskapitaal is reeds beroerd in kerndienste soos elektrisiteit, water, sanitasie en vullisverwydering.

“Hierdie is ’n mislukking vir die munisipale raad om hul statutêre verpligtinge na te kom en inwoners ly omdat basiese dienste nie voorsien word nie,” sê Gauteng LUR vir Cogta Mzi Khumalo.

“Ek sal met die finansies burgemeesterslid vergader om die mees toepaslike plan van aksie vas te stel vir die provinsie om hierdie situasie reg te stel.”

Khumalo het benadruk dat die provinsiale regering “baie teleurgesteld is”.

“Inwoners sal nou ongelukkig aan die ontvangkant van die raad se mislukking wees.”

LEES MEER: Oos-Moot se nuwe sporthoof droom groot en werk met ‘n plan

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button