Local news

Liefling van Loftus-liedjie wyd oor sosiale media gedeel, Bokke bid vir Hougaard

Hougaard is sedert 10 Junie in 'n koma in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria en het inflammasie in sy longe. Verskeie bemoedigings word aan hom opgedra soos 'n liedjie, Liefling van Loftus .

Die jong en gewilde 30-jarige Afrikaanse countrymusieksanger, Chris Else, sê dat Springboklegende Derick Hougaard (40), se siekbed en daelange koma hom die pasafgelope Saterdag so aangegryp het, dat hy ‘n liedjie, Liefling van Loftus, vir hom gekomponeer het.

Hy het die liedjie op die pasafgelope Vadersdag bekend gestel en dit het oornag ‘n treffer op sosiale media geword.

Die liedjie kan hier gehoor word:

 

“Rugby lê my na aan die hart. Toe ek Saterdagmiddag die nuus gehoor het, het ek net spontaan die ghitaar opgetel en die lirieke en die musiek het net gevloei.

Derick se lewensverhaal en sy komatoestand gryp my aan. Hy is, nes ek, ook ‘n pa en ek het gevoel ek wil vir hom iets gee vir Vadersdag.”

Hougaard is die pa van die negejarige tweeling seuns, Daniel en Eliah.  Sy toegang tot die tweeling is al ‘n geruime ‘n omstrede kwessie tussen Hougaard en sy voormalige vrou, sangeres Karlien van Jaarsveld.

Volgens sy sangeres Nadine se verteenwoordiger, het Hougaard se mediese personeel gisteraand aan hulle bevestig daar was gister beslis beterskap by hom te bespeur.

Hougaard is sedert 10 Junie in ‘n koma in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria en het inflammasie in sy longe.

Else het nie eers die woorde neergepen nie, maar gou daarna die kamera nadergeskuif en die liedjie opgeneem en met aanhangers gedeel. Hy spreek daarin hoop uit dat God se vrede oor Hougaard se lewe rus.

Geliefdes uit Kaap omring Liefling van Loftus nou ook tydens koma in Pretoria-hospitaal
Sangeres Nádine deel tans herinneringe aan haar en Derick Hougaard se goeie tye saam op sosiale media. Sy bly positief oor sy moontlike herstel nadat hy in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria opgeneem is en tans al tien dae in ’n koma lê.

Else het Vadersdag saam met sy vrou Chanelle en hul vier maande oue dogter Clara deurgebring en by die Blou Hond-teater in Pretoria opgetree.

“Ek glo ons moet sulke tye in gebed staan vir mekaar en wou mense net in ‘n eenheid saamkry om in te tree vir Derick.”

Else sing alreeds vir meer as 15 jaar, het drie albums die lig laat sien en tree landwyd op. Hy is ook bekend vir sy 2019-liedjie, Hoor my roep.

Hougaard se ma het Else bedank vir die liedjie en dit met haar Facebook-volgelinge gedeel.

“Ek het haar bedanking so waardeer. Die liedjies se skryf was maar net genade uit die Here se hand.”

Meer as 180 000 gebruikers van die sosiale media platform Facebook het reeds aangedui dat hulle daarvan hou en die video van Else is wyd gedeel. Else is veral ook bekend vir sy liedjie, Jy is my huis, wat in April 2022 vrygestel is.“Ek wil hom graag hiermee bemoedig en die Here dankie sê vir wat hy met sy lewe bereik het.”

Sanger Chris Else is so aangeraak deur Derick Hougaard se opname in 'n hospitaal in Pretoria, dat hy vir hom 'n liedjie geskryf het. Die liedjie, Liefling van Loftus, is reeds gewild op sosiale media platforms. Foto: Verskaf.
Sanger Chris Else is so aangeraak deur Derick Hougaard se opname in ‘n hospitaal in Pretoria, dat hy vir hom ‘n liedjie geskryf het. Die liedjie, Liefling van Loftus, is reeds gewild op sosiale media platforms. Foto: Verskaf.

Meer as 68 000 countrymusiekliefhebbers het al via bekende musiekkstroomdiens, Spotify, na Else se musiek geluister.

Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, het gister tydens ‘n mediakonferensie sy hoop uitgespreek dat Springbokrugbylegende, Derick Hougaard, se toestand gou sal verbeter.
“Ek ken nie die situasie of die omstandighede nie, maar wens hom beterskap toe. Ek weet nie presies waarteen hy veg nie, maar ons bid vir hom en sy gesin.”

Liefling van Loftus-liedjie wyd oor sosiale media gedeel, Bokke bid vir Hougaard
Rassie Erasmus (links), direkteur van SA Rugby, het gister by ‘n mediakonferensie gese dat die Bokke vir Derick Hougaard se spoedige beterskap bid asook vir sy familie vir sterkte tydens sy siekte. Ook by die konferensie was Springbokkaptein Siya Kolisi (middel) en afrigter Jacques Nienaber. Foto: SA Rugby

Erasmus het hom veral Hougaard se afskoppe herinner in wedstryde waarin hy teen hom uitgedraf het.

Sangeres Nádine sê die Springboklegende se geveg om lewe en dood, hou haar op haar knieë.
Hougaard is in die waakeenehid en is met longprobleme gdiagnoseer nadat hy bewusteloos by sy tuiste op die oggend van sy opname deur haar gevind is.

Sy toestand word nog steeds as krities beskou. Nádine het bevestig op haar Facebook vanoggend dat dokters vind dat die voorgeskrewe antibiotika goed vir Hougaard se longinflammasie werk. Beide sy longe het platgeval maar ‘n longspesialis het met die regte behandeling gesorg dat hy nou veel beter af is. Hy sal egter steeds onder verdowing moet wees sodat sy longe nie teen die ventilator inwerk nie.

Sy het ook verduidelik dat Derick op aanbeveling van ambulanspersoneel na die Steve Biko Akademiese Hospitaal vervoer is en dat sy bly is dat sy hierdie aanbeveling op 10 Junie ter harte geneem het.

Sy het aan Pretoria Rekord gesê sy bid konstant vir “Dirks”, haar troetelnaam vir Hougaard.
Sy glo sonder ophou dat hy sal wakker word en opstaan.

“Mens leer in so ‘n situasie geestelike geduld waar die vlees haastig raak. Elke klein vordering is ‘n oorwinning, en elke struikelblok voel onmoontlik om te dra sonder vaste geloof. Ek waak elke dag by Derick se bed. Ek bid vir hom, praat met hom.”

Sy het net lof vir die personeel van die hospitaal.
“Die ongelooflike dokters en susters is altyd besig om die beste behandeling te gee en hom te monitor.

“Hougaard se ma, Riana Hougaard en sy suster, Anneri Laing, is ook sedert Maandag aan Hougaard se sy. Hulle woon onderskeidelik in Piketberg en die Paarl.

“Vriende, familie, kennisse en ondersteuners se gebede dra ons meer as wat jul besef en ons sê dankie daarvoor. Ons vertrou die Heer vir genesing en weet Derick is nie alleen nie,” sê Nádine.
‘n Bewonderaar van Hougaard, Antoinette van der Nest, het op Facebook ‘n foto van haar en haar gesin saam met Hougaard gedeel wat die aand voor sy opname ‘n konsert van bekende Gospelsanger, Michael W. Smith, in Pretoria bygewoon het.

 

Van der Nest het aan Pretoria Rekord bevestig dat Hougaard aan hulle gesê het dat hy gevoel het die konsert was sy afspraak met God. Sy skryf verder dat hy ook aan hulle vertel het dat hy die afgelope paar weke weer soos die ‘ou’ Derick gevoel het.

Voormalige Springbokrugbyspeler en sy ma Riana Hougaard op sy verjaarsdag in Januarie 2021.Sy het hom gister in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria besoek waar hy reeds langer as 'n week in 'n koma le. Foto: Facebook
Voormalige Springbokrugbyspeler en sy ma Riana Hougaard op sy verjaarsdag in Januarie 2021.Sy het hom gister in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria besoek waar hy reeds langer as ‘n week in ‘n koma le. Foto: Facebook

Hougaard het sy rugbystewels in 2015 opgehang nadat hy Loftus Versfeld-rugbystadion aan die brand gespeel het as ‘n negentienjarige en in die 2002 Curriebekereindstryd Naas Botha se 15-jaar oue rekord vir die meeste punte deur een speler in so ‘n eindstryd oortref het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button