Vreugde oor Wonderboom-waterval weer loop
'n Bewaringsprojek om 'n waterval se vloei te herstel het 'n gemeenskap in Pretoria-Noord nuwe moed gegee dat hulle veel kan vermag.
Daar was groot vreugde in Wonderboom en Pretoria-Noord toe die waterval in Wonderboom verlede week weer oor die rotse en kranse gestort het in die Wonderboom-natuurreservaat.
Vir diegene wat deel was van die Wonderboom Waterval-projek, het die tuimelende en bruisende waters die kroon gespan op vier jaar se hande vat, saamdink en fondse insamel.
In die tydperk van vier jaar en reeds ’n paar jaar alvorens, het die waterval nie gevloei nie.
Die amptelike opening van die Wonderboom Waterval sal op 1 September geskied.
Projekleier en paramedikus Xander Loubser het die rolspelers bedank vir hul ondersteuning.
“Ek het moed gehou want ek hou daarvan om iets klaar te maak wat ek begin het. Ek hou ook van uitdagings,” sê Loubser.
Hy verduidelik Lentedag is met ’n rede as die bekendstellingsdag gekies.
“Dis die tyd wat mens weer bewus word van die natuur.”
Loubser glo dit is ook ’n geleentheid om die projek as volhoubare projek aan die nuutgevormde groep, Vriende van Wonderboom, te oorhandig.
Dié groep sal vorentoe as NPO verantwoordelikheid aanvaar vir die volhoubaarheid rondom en ontwikkeling in die omgewing van die waterval.
Ander projekte soos die ontwikkeling van fiets- en staproetes in die omgewing van die waterval en in die Wonderboom-reservaat word beplan.
“Ons wil wys wat op private inisiatief tot stand gekom het. Ek het as individu self verantwoordelikheid geneem vir baie, maar sal wil sien dat van die stadsraad se kant aanspreeklikheid vir die bate deur hulle aanvaar word.”
Loubser se beweegrede was dat hy “met die waterval grootgeword het. Ek is hier gebore en wil enigiets van waarde in ons mooi stad behou vir my kinders”.
Hy sê hul hande is op soveel verskillende maniere gesterk by wyse van vaardighede, skenkings asook vrywilligers se tyd om rondom die waterval skoon te maak.
Die projek het met ’n terloopse opmerking in Maart 2019 van Loubser, op Facebook begin.
Daarna het inligting uit die gemeenskap oor pype wat moontlik gebreek het en ander moontlike oorsake, gelei tot samesprekings met die stadsraad.
Die wiele is op 28 Januarie 2020 aan die rol gesit na samesprekings met burgemeesterskomiteelid, Dana Wannenburg.
Loubser is as projekleier verkies en is gedurende die projek bygestaan deur Johan Van Staden (voorsitter van Hercules GPF), Gerhard Stoop van die Tshwane metro, Ben Janeke, Rikus Prins, Marizka Coetzer, DA- wykraadslede Elmarie Linde en Elma Nel asook Alexander Heunis van die Wonderboom natuurreservaat.

Die groep het deur WhatsApp saamgewerk om die logistieke van die projek uit te voer en te koördineer.
Verskeie struikelblokke sou die projek se vordering agterweë hou, soos die grendeltydperk tydens Covid-19 en lede wat tydens die pandemie siek geword het.
Loubser sê: “Ons almal het twee jaar van ons lewens met die pandemie verloor. Dit is egter nie ’n verskoning vir my gewees om nie die projek klaar te maak nie. Besighede wat ons ondersteun het, het wel toegemaak. Dit het ’n tydjie geneem om weer al die stukke op te tel, maar ons het moed gehou.”
Die doelwitte in die post-Covid-19 fase was om die pomp gediens te kry, die mini-substasie en die pompkontrolebord te herstel sowel as om die pype te herstel en te vervang.
Die projek het egter momentum begin gekry. Loubser het self vir die diens van die pompe deur ’n verskaffer betaal.
Die Tshwane metro se elektrisiteitsafdeling het die substasie en toegang tot elektrisiteit herstel.
Lede van die Hercules GPF en lede van die nie-winsgewende organisasie, Emergency Support Team, het die dam by die mond van die waterval as ’n bewaringsprojek skoon gemaak.
Die waterval is in 1960 deur die stadsraad as monument verklaar.
Verskeie maatskappye in die omgewing het as donasies aan die projek ’n elektroniese paneel vervang, ’n boorgat geboor en pype vervang en herstel.
Raadslid Elma Nel noem Loubser die “Goue Seun van Wyk 54”.
Hy het reeds in 2019 ’n toekenning van die DA gekry vir sy uitstaande diens aan die gemeenskap van Pretoria.
“Die uitmuntende jong man het weereens nie teleurgestel nie. Tussen soveel oordeel en negatiwiteit het hy sy kop laag en skouers stewig gehou. Nou pluk ons met die vloei van die waterval die eindproduk van sy toewyding en leierskap. Ek sal altyd sy grootste ondersteuner bly,” sê Nel.
24 botteltjies koeldrank ‘n belangrike les vir oud-kampioen swaargewig bokser
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
