Local news

Tweelingduo bring nuwe skop in Afrikaanse alternatiewe rock

Of hulle agter ’n wedrenmotor se stuurwiel, ’n ingenieurstekentafel of ’n klavier inskuif, die Oates-tweeling weet hoe om spoed te vang met ’n projek.

Eerstehandse ervaring – dit is duidelik die basis van die popmusiek-sangduo, AlterEgo, se inspirasie.

Veral met die skryf van die nie-identiese tweeling se onlangse enkelsnit oor ’n ontluikende romanse “Jy is lief vir my”.

Toe Darren Oates se meisie hom vra, “Nou maar wanneer gaan jy vir my ’n liedjie skryf?” kon hy nie anders as om aan die skryf te kom nie.

“Vir die eerste keer in ’n lang tyd was ek verlief. Ek wou weergee hoé sy my laat voel. Ek het wel geweet hoe sy oor my voel. Ek kon dit in haar oë sien. Sy hoef dit nie eers te gesê het nie!”

Hierdie emosionele wipwaentjierit was die aanloop van die enkelsnit se refrein: “Ek weet jy is lief vir my, ek kan dit in jou oë sien. Ek weet jy sê dit nie. Hoekom voel dit so?”

Darren verduidelik hy en sy tweelingbroer, Justin, komponeer gewoonlik hul liedjies saam. Toe Justin van die liefdestema hoor, het hy saam daaraan begin werk.

Hul eerste album, Skree net sag, het tien liedjies insluitend “Jammer” en “Die Ontploffing” op.

Die twee slimkop meganiese ingenieurs wou ook met hierdie liefdesliedjie ’n speletjie met hul bewonderaars speel. Lirieke van ander Afrikaanse liedjies is slim by die liedjie ingevleg.

Dit is nog lank nie waar hul eksperimente rondom musiek ophou nie.

“Wanneer jy in die ateljee is, kan jy ook ander instrumente gebruik om die konsep en emosies van die liedjie lewe te gee. Ek hou van die produksiekant van liedjies maak,” sê Darren.

Vir Justin weer is sy gunsteling deel van liedjies skryf die kokon waarin hy tydens die liedjieskryfproses kan verdwyn.

“Dis ’n kreatiewe wêreld waarin enigiets moontlik is. Dis heerlik om so weg te kom uit die werklikheid.”

Hy skuif graag voor die klavier in en wag vir sy emosies om hom te lei.

“Soms is jy geïnspireer en ander tye begin jy sommer net. Meesal gaan die lirieke oor wat ek in daardie stadium in my lewe ervaar,” sê Justin.

Die twee liedjieskrywers dink selfs na vele liedjies se skryf steeds na oor wat maak ’n liedjie ’n dawerende sukses.

Hulle nooi maklik vriende oor om hul reaksie op ’n nuwe liedjie te toets.

“As iemand die liedjie neurie al het jy dit net een keer gespeel, weet jy dit gaan ’n sukses wees.”

Op feeste is ’n skare wat gees vang vir hulle ’n goeie riglyn oor ’n liedjie se sukses.

Darren hou van ’n groot verhoog waarvandaan hy en Justin behoorlik hul bewonderaars aan die dans kan kry.

“Ons waardeer ’n vertoning waar baie mense op en af spring.

“Maar dit bly moeilik om te bepaal watter liedjie sal ’n sukses wees. Ons toets hulle maar eers gewoonlik akoesties tuis,” sê Justin.

Die vernuftige en verbeeldingryke duo is egter nie bang vir ’n eksperiment of twee nie – dis nou ook as opgeleide meganiese ingenieurs en eienaars van die besigheid Gaztron.

Wanneer hulle hul koppe vir innovatiewe ingenieursdenke bymekaar sit, is dit juis om nuwe planne te maak om voertuie aan te pas om alternatiewe energie te gebruik.

Hierdie belangstelling spruit uit hul kleintyd. Reeds op vyfjarige ouderdom het die tweeling saam met hul ervare amateur wedrenryerpa, Cecil, langs die motorresiesbane geboer.

“Ons is mal oor karre,” sê Darren.

Cecil het hulle van jongs af aan knortjorwedrenne laat deelneem. Mettertyd het hulle tot deelnemers aan nasionale kampioenskappe gevorder.

Beide was ook betrokke by motorwedrenne en het selfs ’n groot petrolmaatskappy as borg gehad.

So ’n wegglip na die wêreld van vinnige motors en besige renbane, is vir beide ’n uitkoms.

Darren glo motorwedrenne is ’n veilige rusplek vir sy gemoed wanneer hy effe uitgebrand voel. “Dit gee my weer energie.”

Vir Justin is deelname aan motorwedrenne ’n tussenfase totdat hy weer terugkeer tot die klavier of die ingenieurstekentafel.

Met hul volgende enkelsnit (reeds opgeneem) het hulle ook ’n eksperiment gemaak en heeltemal onvoorbereid in die ateljee die liedjie se lirieke en musiek onder leiding van die produksiespan aanmekaar gesit.

“Ons het in die ateljee sonder enige liedjie ingegaan en toe het die liedjie so stuk vir stuk aanmekaar gekom. Dit was ’n goeie manier om onsself uit te daag,” sê Justin.

Olievenhoutbosch community unites against GBVF and murders in Tshwane

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button