Musikant ontdek tydkapsule met ou foto’s, dokumente van Pretoria
’n Onverwagte vonds het op ’n Boland-musikant gewag toe hy sy huis in die Strand vernuwe het. 'n Gids van 1905 oor Pretoria in die ou dae het welkome herinneringe by hom opgeroep.

Oud-Pretorianer en musikant Conrad Jamneck kon hom nooit indink toe hy verbouings aanpak aan ’n eeue-oue huis in die Strand-kusdorp dat hy ’n tydkapsule sou vind nie.
Die kardoes vol ou dokumente, onoopgemaakte briewe, ou koerante soos Die Burger en tydskrifte was vir meer as 100 jaar in die kelder onder die vloerplanke versteek.
Die eksemplare van die koerante was uit 1921 en dié van Die Kerkbode uit 1918.
“En vreemd genoeg, talle motortydskrifte uit die ou dae!” vertel Jamneck.
Heel gepas vir die reënerige Kaap, was daar ook ’n paar sambrele!

Geen dokumente of ander leesstof was jonger as 1925 nie.
“Die papiervondse daarin was in ’n goeie toestand. Geen mot- of erge ander skade nie,” vertel ’n steeds verbaasde Jamneck.
Dit ten spyte van die feit dat die Sarel Cilliersstraat-woning binne loopafstand van die Valsbaai-see is.
Dié eienaar van die bekende kroeg in Stellenbosch, The Daisy Jones Bar, het tydens die konstruksiewerk opgemerk dat een vloerplank in die hoofslaapkamer los is.


Daaronder het hy ’n valdeur na ’n 3m-by-6m kelder ontdek.
Nié die eienaars by wie hy die huis gekoop het, of die eienaars voor hulle het van die valdeur of kelder geweet nie.
“Ek het die vorige eienaar, die bekende skrywer Maretha Maartens, geskakel. Sy was ongelooflik verbaas oor my ontdekking.”
Jamneck verduidelik toe hy op die kartondoos in die kelder afkom, het hy besef hy moet versigtig met die inhoud omgaan.
Uit datums van die koerante het dit gou geblyk hulle is vir meer as 100 jaar in die kelder geberg.
Jamneck het ook op ’n afskrif van ’n 300-bladsye gids van 1905 oor bakens in Pretoria en Johannesburg afgekom.


Hy is meegevoer met herinneringe toe hy die foto’s uit toeka se tyd sien.
Daar is onder meer foto’s van Daspoort, oud-president Kruger se begrafnis en Pretoria Boys High sowel as Girls High se hoofgeboue.
Die foto’s het Jamneck veral aan bakens in Pretoria laat dink van die laat tagtigs toe hy hier ’n seun was.
“Die foto’s van Andriesstraat in die ou dae het my teruggeneem na toe ons daar met ons BMX-fietse gery het,” sê Jamneck nostalgies.
Hy verduidelik die ou foto’s in die gids het hom ook laat dink aan die dae toe hy dikwels werk by die Voortrekkermonument moes doen.
Foto’s in die gids van bakens in strate, na en van die monument, het hom weggevoer na die verlede.
Sy dae aan Hoërskool Silverton het veral by hom opgekom toe hy foto’s van die buurt in die gids teëgekom het.
“’n Foto van die Sesmylspruit agter die skool het my opgeval. Dit is ongelooflik hoe dit daar gelyk het.”


Jamneck het wyd belangstelling met sy ontdekking ontlok.
Hy het ook aanbiedinge ontvang om die materiaal te verkoop.
Die musikant beoog om van die geskiedkundige eksemplare van Die Burger en Kerkbode aan die betrokke mediahuise te skenk vir bewaring en navorsing.
Drie dae nadat sy vonds bekend geword het, het die nageslag van die oorsponklike eienaars van die huis, die Weichs, hom gekontak.
Hy beoog om veral die onoopgemaakte briewe wat aan die gesin gerig is uit Brittanje eersdaags aan hulle te oorhandig.
Jamneck, wat met voormalige politikus wyle Pik Botha se kleindogter Jessica getroud is, sê hy wens Botha het nog gelewe.


Hy sou die foto’s in die ou gids in Pretoria met hom wou bespreek.
“Hy was so lief vir die geskiedenis van Pretoria. Ek weet hy sou dit so interessant vind en sou my kon verwys na diegene wat my nog meer daaroor sou kon vertel,” sê Jamneck verlangend. Hy verwys veral na die foto van die brug tussen Arcadia en die stad.
As kreatiewe kunstenaar het die ontdekking ook ’n emosionele uitwerking op hom gehad.
“Ek het weer van die sirkels van die lewe bewus geword. Om aan Pretoria terug te dink, was goed vir my. En nou het ek ook ’n stukkie van my geskiedenis om vir my seuntjie Jaxon aan te gee.”

LEES MEER: Geliefde geestelike leier vir 20 jaar vader van stilkerkbeweging
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
