Veelsydige aktrise sien uit om ontwerpe op loopplank te sien
Centurion-akteur Reandi Grey se veelsydigheid en talente beperk haar uitleef daarvan nie net tot die silwerskerm en sepies nie.
Centurion-aktrise en klere-ontwerper, Reandi Grey, se komiese rol as ’n kwaai juffrou in ’n nuwe film, Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins, pas haar soos die ontwerpe van haar kleurvolle klere-etiket, Grey Creations.
As ’n warm en innemende mens hou sy daarvan om mense te laat lag en hulle te verras.
Die film uit die pen van die gewilde en bekroonde jeugboekskrywer Jaco Jacobs, het sy debuut vroeg in September om 20:00 op kykNET gemaak en beloof om oud en jonk te bekoor.
“Ek is absoluut mal oor komedie. Ek hou daarvan om ’n teks te vat en te dink, dis wat mense verwag, maar dis hoe ek dit gaan laat gebeur,” sê Grey.
Haar rol is die van ’n ernstige juffrou wat tieners moet help om ’n taak oor ’n Afrikaanse boek te doen.
“Dis ’n kort en kragtige rol. Die juffrou is kwaai, maar het ook ’n intense passie as onderwyser. Ek dink met ’n bietjie komedie dring mens eerder na kinders deur.”
Grey is bekend vir rolle in sepies soos 7de Laan en reekse soos Legacy waarin sy onderskeidelik Esti Fouché en Elisabeth Price gespeel het.
Sy is in Pretoria gebore en was op Noordwes Universiteit waar sy ’n graad in Grafiese Ontwerp en Ontwikkelingkommunikasie voltooi het.
Haar twee dogters, Heidi (4) en Lente (2), is nog te klein om werklik van haar loopbaan kennis te neem, meen sy.
“Hulle is egter ernstig betrokke deur my tekste in te kleur met hul potlode!” lag sy.
Om die pas vol te hou tussen ma-wees, akteur, mode-ontwerper en media-beïnvloeder, glo sy jy moet af en toe jouself kan dwing om weg te breek.
“Dit is ’n groot voorreg om soveel gawes en passies te hê, maar dis nie altyd maklik om by alles uit te kom nie. Ook nie om alles so goed te doen soos wat jy wil en tyd daaraan te spandeer soos jy dalk moet nie.”
Sy was onlangs op ’n seevakansie saam met manlief Dewald en het net weereens besef hoe belangrik so ’n wegbreekkansie is.
“As mens nie ’n aftydjie neem nie, is jy nie so produktief soos wat jy moet wees nie. Jy moet jou koppie energie vol kan maak.”

’n Besige tyd breek vir haar aan.
Sy is in die pylvak vir ’n groot bekendstellingsaand in November tydens ’n glansgeleentheid van Grey Creations se twee nuwe afdelings van haar klerereeks.
“Ek is so lief vir Grey Creations. Dis my babatjie wat ek begin het toe ek verveeld was met die klere wat ek in die winkels gekry het,” vertel sy.
Sy glo indien sy self deur die moeite gaan om lap te soek en ontwerpe te doen, sy netsowel ook die eindproduk vir diegene met ’n meer boheemse smaak beskikbaar kan stel.
Die klerereeks is bekend vir die vryheid van beweging wat die skeppings hul draers toelaat.
“Ek sien uit om Grey Creations na nuwe hoogtes te neem.”
As media-beïnvloeder word sy self gereeld op glansfunksies gesien en uitgenooi om produkte te bevorder.
Sy doen die bekendstellings wel met ’n spesifieke aanslag.
“As ’n produk vir my werk, sal ek dit bemark en aanbeveel. As dit my lewe bevorder, deel ek dit met liefde.”
Sy deel wel twee liefdes met oorgawe: haar liefde vir Afrikaans en vir Pretoria.
Vir haar is haar geliefde moedertaal sosiaal, spontaan en vol kultuur.
“Geen taal is so beskrywend soos Afrikaans nie. As jy iets sê, weet almal waarna jy verwys. ’n Enkele Afrikaanse woord kan presies die regte emosie oordra.”
Pretoria se mense steel weer haar hart.
“Ek is mal oor die mense hier, en die feit dat jy enige plek kan vriende maak. Daar is altyd ’n geleentheid om nuwe mense te ontmoet. Pretoria-mense is ontvanklik en vriendelik.”
– Kyk die voorskou van die film hier:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
