Sakke vol genade ingesamel en oorhandig vir Genadesak-projek
'n Aantal vroue gaan baatvind by skenkings van handsakke deur twee instansies aan die Genadesakke-projek van sanger Corlea Botha.
Drie vennote het hande gevat om waardigheid te bring aan vroue deur handsakke vol selfsorgprodukte bymekaar te maak.
Die radiostasie Groot FM en Solidariteit Helpende Hand het saam meer as 100 sulke handsakke bymekaar gemaak en op ’n funksie in die Afriforum-teater aan sanger Corlea Botha oorhandig.
Botha het drie jaar gelede die projek begin om vroue wat aan mishandeling en geweld blootgestel is, toe te rus om ’n pad van genesing te stap.
Vroue wat by huise van veiligheid aankom nadat hulle van mishandelde agtergronde ontsnap het, kry so ’n sak om hulle vir ’n nuwe lewe toe te rus.
Sanet Stofberg, skakelbeampte van Groot FM, sê die insameling tydens hul Ontbytprogram het harte oopgemaak van luisteraars wat graag wou help.

Die radiostasie het gou meer as 100 handsakke ontvang, gevul met basiese selfsorgprodukte en ’n bederfie of twee in sommige gevalle.
“Die projek wys ons luisteraars se harte vir vroue wat dit nie so maklik het nie. Ons ontvang steeds handsakke,” sê Stofberg.
Mariana Kriel, koördineerder van Solidariteit Helpende Hand, benadruk die uitreikgeleentheid rondom die handsakke is aangepak om die nood in vele behoeftige vroue se lewens aan te spreek.
“’n Handsak en basiese toiletware is ’n luukse vir vele. Ons wou uit ons oorvloed by ’n projek soos die Genadesakke aansluit om vroue te bemagtig,” sê Kriel.
Vroue wat nog verder ook sakke wou skenk, het Helpende Hand se Maak daai bolla los-funksie bygewoon.

Dié geleentheid was ook die organisasie se eerste jaarlikse netwerkgeleentheid spesiaal vir sakevroue.
Stylghoeroe en voorkomskonsultant, Sandra Taljaard, het tesame met tenoor Coert Grobbelaar ’n multimedia musikale motiveringstoneelstuk rondom handsakke aangebied.
Taljaard sê in haar werk as voorkomskonsultant meet sy maklik ’n kliënt se waardes aan haar gesindheid rondom ’n handsak.
“Diegene wat geen waarde aan ’n handsak heg nie, gee gewoonlik ook nie veel om oor ander aardse goed nie,” sê Taljaard.
Sy het die geskiedenis en nut van handsakke oor die eeue op ’n prettige wyse uitgebeeld en wenke oor die dra van handsakke en klere uitgedeel.

“Sit ’n bietjie teater in jou klerekas en voeg iets by wat niemand anders in jou kring sal dra nie,” beveel sy aan.
Om jou klere- en ander begroting te laat klop, beveel sy aan dat tussen twee en drie persent van jou inkomste aan klere gespandeer moet word. ’n Slim kombinasie van kledingstukke en bykomstighede kan die gapings in jou beursie en klerekas vul.
Grobbelaar het Taljaard se praatjie aangevul met gepaste liedjies en afgesluit met sy haan-tussen-die-henne waarneming oor handsakke.
“Selfs in my ma se ouer jare was dit haar bekommernis: “Waar is my handsak my kind?
“Ek lei af ’n handsak bring vir ’n vrou sekuriteit. Om een te kan besit, beteken sy het ’n oorwinning oor armoede en talle ander uitdagings gehad.
“Ek wens hierdie gevoel vir alle vroue toe.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
