Local news

Geliefde veearts se collie-hond nou weer uit en tuis

Die besonderse band tussen 'n veearts wat 40 jaar diens aan die Pretoria-gemeenskap gedoen het, en haar hond, is duidelik tydens ’n besoek aan haar by 'n aftree-oord in Die Wilgers.

Die Border Collie-hond met die wit bles oor haar regterwang kyk liefdevol op na die 90-jarige geliefde en gewilde veearts eens van Waterkloof, en nou van Die Wilgers, dr. Selma van Schouwenburg.

Ounooi se honne se blik verlaat nie die vrolike en geselserige gryskop waar sy ookal in haar tuin vol wit ysbergrose of haar karaktervolle woning vol onthougoed van haar dae as ’n viertrekvoertuigreisiger stap nie.

Dan gaan maak sy haar gerieflik tuis op die matjie voor Van Schouwenburg se gesellige etenstafel waar sy haar in die oog kan hou.
Geliefde bal in die bek, iets wat sy sekerlik tydens haar omswerwinge ter oorlewing in die bosse en berge gemis het.

“Sy is maar nog effe skugter vir mense,” sê Van Schouwenburg en streel teer en liefdevol oor die swart en wit spitsore.

Geliefde veearts vir 40 jaar, dr. Selma van Schouwenburg en haar Border Collie-hond, Haiku is op Maandag, 2 Oktober weer herenig na ’n misdaadvoorval.

Die skaaphond van Pretoria-oos, Haiku, was vir ’n paar dae in die kollig toe sy uit Van Schouwenburg se gesteelde motor op 22 September in Mamelodi gegooi is.

Van Schouwenburg was die slagoffer van skelms wat haar in ’n winkelsentrum in die Wilgers met ’n trollie in ’n lokval gelei het en haar motorsleutels sonder haar medewete uit haar sak gesteel het.

Haar motor is in Mamelodi-Wes opgespoor, danksy die voertuigopspoortoestel, maar ’n soektog is ver en wyd na Haiku onderneem.

Haiku met die wit bles oor haar een oog en die digterlike naam is tevrede om weer tuis op haar gunstelingmatjie te lê.

Tot die groot vreugde van Van Schouwenburg is die hond met haar digterlike naam (’n Haiku is ’n versvorm) na tien dae in Derdepoort gevind.

Sy kon haar in Mamelodi gaan haal waar diereliefhebbers soos Anna Maringa haar kos gegee het.

Elaine Papastefanou het hande geneem met Teboga Maredi van ’n plaaslike diereskuiling, na talle sosiale mediastatusse en pamflette oor Haiku berig het. Hulle het die hond nadergelok met kos en ’n leiriem om haar kop geplaas.

Van Schouwenburg en Haiku se paaie het juis ook die eerste keer op ’n ongewone manier gekruis.

Sy is reeds sedert 2019 in haar besit. Van Schouwenburg het eers in Waterkloof gewoon.

Sy het dikwels verby die woning gestap waar Haiku gereeld na die hek gekom het en ’n rukkie met haar gespeel het.

Nadat sy verhuis het na Die Wilgers het ’n maat van haar opgemerk dat Haiku nou soms lusteloos by die hek lê. Die inwoners was dikwels nie tuis nie.

Van Schouwenburg kon met hulle onderhandel om die hond aan te neem. Haar eie Border Collie, Misha, was toe reeds ’n rukkie afgesterwe.

Geliefde veearts van Brooklyn en Waterkloof vir 40 jaar, dr. Selma van Schouwenburg, het eers vir 15 jaar (soos haar vermaarde skoolhoofma van Oranje Meisieskool) in die onderwys gestaan voordat sy op 38-jarige ouderdom veeartsenykynde gaan studeer het.

Die 40-jaar wat Van Schouwenburg as ’n veearts gewerk het, was die uitleef van ’n kleintyddroom.

“Ek was maar nog altyd lief vir diere,” sê sy.

Sy het grootgeword in Ermelo en het skole in Rustenburg en Pretoria bygewoon.

Haar ma, Elizabeth Maarten, was een van die eerste skoolhoofde aan Meisieskool Oranje in Bloemfontein en haar pa, Floris van Schouwenburg, ’n skoolinspekteur.

Met so sterk familie-onderwystradisie, het Van Schouwenburg haar eers as ’n onderwyser bekwaam en 15 jaar skool gegee onder meer op Rustenburg.

Hier het sy ’n leerling gehad wat in veeartsenykunde belanggestel het.

By die saamlees van brosjures oor die kursus het Van Schouwenburg besluit om ook die kursus op 38-jarige ouderdom aan te pak.

Na ’n kursus van vyf jaar moes sy egter hoor by werksonderhoude dat “vrouens moet nie veeartse wees nie”.

Die standpunt het die klein en fyn Van Schouwenburg nie gestuit nie. Sy het in 1976 ’n aanbod aanvaar van die bekende dr. David Meltzer om by sy praktyk in Waterkloof aan te sluit, aangesien sy werk met jagluiperde op De Wildt baie van sy tyd in beslag geneem het.

“Jare daarna sou ek hom terg en sê hy het darem ’n kans gevat met my!”

Dr. Selma van Schouwenburg se herinneringe aan haar betrokkenheid in die veeartsberoep strek ver en wyd.

Sy het in 1979 eienaar van die praktyk geword.

Die gulhartige en gasvrye Van Schouwenburg het maats begin maak met die praktyk se personeel en kliënte.

Vriendskappe soos dié met diereverpleegster Marlene Brink sou ’n leeftyd hou.

Wanneer sy terugkyk na die 40 jaar van praktykwerk is dit die troeteldiereienaars en hul liefde vir diere wat goue herinneringe bring.

“Ek was elke dag opgewonde om werk toe te gaan,” sê die liefhebber van boeke oor veeartse soos dié van James Herriot en diereboeke deur Paul Gallico.

Sy glo in die vier dekades het troeteldiersorg en veeartspraktyke gebaat by die vooruitgang in tegnologie.

Van Schouwenburg dink veral rekenaars het ’n bydrae gemaak om praktyke en diere-eienaars te bevoordeel.

Haar hoogtepunte van vele spreekkamerdae was om keisersnitte op troeteldiere te doen.

“Om so die een kleintjie na die ander uit te haal, het my ’n besonderse bevrediging gegee,” sê sy verlangend en kyk na die fotosamestelling van personeel oor die jare.

Sy voel sterk daaroor dat mense troeteldiere vir die regte redes moet kry.

“Jy moenie ’n dier kry omdat jy dink jy behoort ’n dier te kry nie,” voel sy.

Een van haar suksesverhale was besoeke saam met ’n diereorganisasie as die toesighoudende veearts vir ’n mopshond Floyd.

Saam met die klein rakker met sy terapiehondjassie het sy menige ouetehuis en hospitaal besoek.

“Mens dink soms verkeerdelik jy moet ’n hond kry om jou huis op te pas. Maar soms is dit juis jy wat die oppaswerk moet doen,” sê Van Schouwenburg en plaas haar hand beskermend op Haiku se kop.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button