Pretoria paneelklopper se raaiselagtige dood verg meer omsigtigheid van polisie – familie
Die omstandighede rondom die voorval verlede week waartydens Apie du Plessis sy lewe verloor het verg 'n deegliker ondersoek as tans volgens sy familie, terwyl die polisie sê daar is baie bespiegeling wat rondgaan.
Geliefdes en vriende van wyle Apie du Plessis het kommer uitgespreek oor die polisie se ondersoek rondom ’n voorval in Jan Niemandpark in sy werkwinkel waartydens hy sy lewe op 6 Oktober verloor het.
Hulle is van mening die ondersoek word nie na behore gedoen nie en dat kommunikasie met die gesin gebrekkig is.
Du Plessis is na bewering deur twee persone gekonfronteer wat sy paneelklopperwerkswinkel op sy huis se werf betree het.
Die familie is van mening hierdie klaarblyklike aanvallers het hom in die kop geskiet en daarna weggehardloop.
Hulle is agterna gesit deur iemand na aan Du Plessis, maar is nie vasgetrek nie.
Die voorval het in Jan Coetzeestraat in Jan Niemandpark rondom middagete plaasgevind.
’n Sekuriteitsmaatskappy sowel as die polisie het kort daarna by die toneel opgedaag.
Du Plessis se bebloede lyk is deur ’n vriend se seun in die werkswinkel gevind.
Hy het ’n halfuur voor die skoot afgegaan het, nog ’n gesprek met hom gevoer en toe na sy huis teruggekeer.
Beeldmateriaal rondom die voorval is op kameras by die ingang na die perseel gevind.
Polisiewoordvoerder Adjudant-offisier Johan van Dyk het aan Rekord gesê ’n geregtelike doodsondersoek word tans afgehandel.
“Die lykskouing is op Maandag, 9 Oktober gehou en die ondersoekbeampte wag vir die verslag. Daar is reeds met die patoloog gepraat en bevindinge is bespreek vir verdere ondersoek. Alle inligting sal opgevolg word tydens die ondersoek,” verduidelik Van Dyk.
Hy waarsku daar is tans “baie stories wat rondgaan wat nie op feite gebaseer is nie”.
Van Dyk het bevestig die toneel is deur ’n forensiese deskundige nagegaan en bewysstukke is reeds versamel.
“Alle inligting sal opgevolg word en feite en bewysstukke sal deel vorm van die dossier vir beslissing deur die hof.”
Du Plessis se begrafnis sal op 21 Oktober gehou word.
Lees: Naas Botha terug in skole-rugby – én terug in Pretoria – ná Hoërskool Eldoraigne hom werf
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
