Local news

Geestesgesondheidsmaand: Vuurloper raai mans aan om meer sinvol na mekaar uit te reik

Die statige en ellelange Suid-Afrikaner met sy kortbroek en plakkies in die koue van Swede het koppe laat draai toe hy as top-prestasie afrigter ’n seminaar as meestervuurloper in die land aangebied het.

Die statige en ellelange Suid-Afrikaner met sy kortbroek en plakkies in die koue van Swede het koppe laat draai toe hy as top-prestasie afrigter ’n seminaar as meestervuurloper in die land aangebied het.

Vir die pa van twee van Centurion was die uitdaging om in die koue net homself te wees en aspirant vuurlopers op te lei, niks ongewoon nie.

Vuurlopery het sedert ’n wegbreekkans na Naboomspruit in 2011 deel van Cobus Visser se lewe geword, aangesien die ervaring die keerpunt in sy lewe geword het.

Visser sou tydens die naweek leer om oor brandende kole te loop sonder om sy voete te brand.

Hiertydens het die verband tussen denke en waartoe die lyf in staat is, vir die eerste keer in detail by hom tuisgekom.

“Ek het geleer hoe mens verby jou beperkinge kan kom,” sê Visser.

Vandag is hy nie net ’n meestervuurloper nie, maar het hy die kuns baasgeraak om ook oor gebreekte glas te loop.

’n Ware oorwinning vir iemand wat ’n hemofilie-lyer oftewel bloeier is.

“Nog ’n vrees is oorwin,” voeg hy by.

Hemofilielyer Cobus Visser het die kuns van beide vuur- en glaslopery baasgeraak om aan homself en andere te bewys jy kan jou eie beperkings oorwin indien jy werklik wil. FOTO: Elize Parker

Die eertydse leerder van Hoërskool Piet Potgieter op Potgietersrus het vanaf geboorte aan die aandoening gely.

Die oorerflike genetiese siekte belemmer die liggaam se vermoë om bloeding te beheer en het vele gevolge op ’n lyer se algemene gesondheid.

Maar die vuurloop-kantelpunt sou nie sonder die ingryping van ’n vriend gebeur het nie.

Juis hieroor bepleit hy vandeesmaand in Geestesgesondheidsmaand dat mans leer om mekaar die regte vrae oor hul emosionele welstand te vra.

Visser se vriend, Hannes Dreyer, het voor sy Naboomspruit-wegbreek aan hom genoem dat hy opmerk dat Visser nie meer homself is nie.

“Kom ’n bietjie weg saam met my,” het Dreyer genooi.

Visser het minwetend wat werklik op hom wag, die geleentheid aangegryp.

Hy het die vuurlopery in 2012 tydens ’n besoek aan die Tolly Burkan Firewalking Institute in Dallas in die VSA verder gaan ondersoek en baasgeraak.

Vir Visser het die vuurlooptegnieke toe reeds oplossings begin bied om sy lewensuitdagings baas te raak.

Sy gesondheid het in sy dertigs mettertyd só agteruit gegaan dat sy gewrigte nie meer voldoende funksioneer het nie.

“Ek was elke dag in pyn,” vertel hy.

Hy het Berg Kilimandjaro met krukke aangedurf in 2019.

Na ’n hospitaalopname in 2014 kon hy nie meer beweeg nie. Daarna was hy vir twee jaar aan ’n rolstoel gekluister.

Hy sou egter die krag in homself vind om op ’n herstelpad te kom deur weer te leer kruip.

Toe hy eers weer op die been is, het hy Berg Kilimandjaro met krukke aangedurf in 2019.

Die oomblik wat hy die kruin bestyg het, was ’n volgende waterskeiding in sy lewe.

In die stadium was Visser besig om te skei en hy kon sy twee seuns, Wihan en Tiaan, net af en toe sien.

“Ek het op Kilimandjaro geleer as jy dink jy kan nie iets doen nie, dan sal jy dit nie regkry nie. Maar as jy dink jy kan iets doen, gaan jy dit regkry,” verduidelik Visser van die dag toe ’n vriend hom herinner het aan hierdie lewensfilosofie.

Hy het ook ’n ruk gelede tot sy vaardighede glaslopery toegevoeg toe hy self oor stukkende glas begin loop het sonder om homself te beseer – ’n ware kuns vir ’n bloeier.

Sy vuurlopery-klasse word deesdae ook ingelei deur ’n ysbad om sodoende ’n ys-en-vuurervaring aan te bied.

“Ek leer mense om aan te pas. Om getrou aan myself te bly, moes ek dus self ook my vaardighede uitbrei.”

Hy het al twee keer die gesogte Men of Valour-toekenning van Panache International ontvang vir sy werk met sakeleiers, mense met gestremdhede en individue wat geestesgesondheidsiektes wil oorwin.

Omdat hy uit ervaring weet hoe ’n egskeiding jou lewe omver kan gooi, het hy veral raad vir mans wat as gevolg van egskeidingstrauma emosionele probleme het.

“Uit vriende se selfdood en die dag toe ek self oorweeg het om my lewe te neem, het ek geleer hoe sterk mans se behoefte is om na iemand te reik. Ons is groot gemaak om die sterk een te wees en sal dikwels nie eerste uitreik nie. Daarom is dit so nodig om soms net na jou vriende te gaan en uit te vra oor hul welstand. Met die regte vrae en deur self jou kwesbaarheid te wys, sal jy jou verbaas hoe gou iemand aan jou erken: ‘Ek sukkel eintlik’.”

Sy erkenning jare terug met die uitnodiging van Dreyer dat hy hulp nodig het, het ’n nuwe era in sy lewe laat aanbreek.

Visser hoop hy kan ’n nuwe kultuur tot stand bring van mans wat uitreik en in diepte gesels oor wat pla.

“My doel is dat geen man weer vir ’n ander hoef te vra ‘Maar hoekom het jy my nie gebel nie?’ Voorsorg met emosionele probleme is altyd beter as nasorg.”

Cobus Visser se wenke vir volhoubare gesonde geestesgesondheid:

– Teken jou gevoelens en ervarings elke dag in ’n joernaal op.

– Dankbaarheid is kragtig. Lys in jou kop, jou selfoon of jou joernaal klein en groot dinge waarvoor jy dankbaar is.

– Kweek en hou goeie gewoontes soos om volhoubare oefening, veral in die buitelug, te doen saam met iemand wat jou op ’n prettige manier aanspreeklik hou.

– Bespreek jou lewensdoelwitte met ’n lewensafrigter, vertroueling of iemand wat jou verstaan sodat jy gemotiveerd daaraan kan werk.

– Vind jou plek in die kringe waarin jy in die gemeenskap beweeg en behou deurlopend ’n betrokkenheid.

– Loop elke dag kaalvoet in die natuur net om weer in voeling met die seisoene se gang te bly.

– Blok vir jouself ’n tyd van bepeinsing of meditasie van so 20 minute elke dag in jou skedule.

– Kliek hier om te sien hoe Visser individue onder leiding leer om oor glas te loop:
https://www.facebook.com/61550571330453/videos/1051573709349486

– Kliek hier om te sien hoe Visser individue leer om onder leiding ysbaddens te neem:
https://www.youtube.com/watch?v=j5_sXSFuCrI

– Kliek hier om te sien hoe om onder leiding oor brandende kole te stap:
https://youtu.be/n9Lcow45XFc

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button