Local news

Pretoria-Noord boekwurms bring talle versamelboeke vir bekende skrywer se ondertekening

Vir boekwurms in die noorde was die boekbekendsteling van ’n gewilde skrywer se nuutste roman ’n uitstekende geleentheid om talle boeke uit haar oeuvre wat hul al jare versamel, te laat onderteken.

Meer as 50 boekwurms van Pretoria, veral Pretoria-Noord en Montana, het gesellig saamgekom om ’n boekbekendstelling van Marita van der Vyver se mees onlangse boek, Laaste Kans, in ’n koffiewinkel in Montana by te woon.

Organiseerder van die geleentheid, Leonie van Rensburg van Graffiti Boeke, sê die boekbekendstelling was ook ’n ontmoeting tussen boekwurms van die Noorde en bewonderaars van Van der Vyver wat al jare wag vir van haar titels en boeke om geteken te word.

Amelia Evans (agter) en Cilna Maritz van Montana het al die boeke wat hulle deur die jare van Marita van der Vyver versamel het gebring om tydens haar boekbekendstelling van ‘Laaste kans’ te teken.

Twee sulke bewonderaars is Amelia Evans en Cilna Maritz wat saam meer as 15 boeke uit Van der Vyver se oeuvre gebring het vir ondertekening.

Evans sê sy versamel graag boeke aangesien sy van lees hou en boeke haar horisonne verbreed.

Sy heg waarde aan boeke wat onderteken word deur skrywers omdat sulke boeke vir haar persoonlik word veral met ’n besonderse inskrywing vooraan.

Vir Elné Diedericks van Pretoria-Noord was dit juis besonders om een van Van der Vyver se eerste romans, Griet skryf ’n sprokie, in die hand te kon hou vir ondertekening.

Bekende fotograaf en boekredakteur van Pretoria, Phyllis Green, het in gesprek getree met Van der Vyver oor haar nuutste roman wat ’n opvolg is op een van haar eerste boeke, Wegkomkans (1999). Beide boeke is deur Tafelberg Uitgewers uitgegee.

Van der Vyver sê hierdie nuutste roman is ’n ode aan vriendskap.

“Ek dink ons het almal na Covid-19 intens besef wat vriendskap werklik vir ’n mens beteken. Ek wou hieraan gestalte gee met karakters wat die waarde van ou vriendskappe besef,” het sy aan die waarderende gehoor verduidelik.

In die roman het die karakters mekaar 25 jaar laas gesien en ontmoet mekaar met hul veranderde gesinne en bespreek hul lewenspaaie na 25 jaar.

Veroudering kom onder die loep in die boek.

SKrywer Marita van der Vyver het van Frankryk na Suid-Afrika gereis om haar nuutste roman, Laaste Kans, tydens ‘n boekbekendstelling in Montana aan Pretoria-gehore bekend te stel.

“Dis nie so fantasties om oud te word nie, maar dis beter as die alternatief,” lag Van der Vyver oor die lotgevalle van haar karakters.

Green het die sterk temas van die nuutste boek benadruk soos ouerskap.

Van der Vyver, self ma van vier kinders, het breedvoerig hieroor uitgewei.

“My ouer karakters besef nie almal wil noodwendig ouers wees nie. Die jongeres weer glo jou familie is nie altyd noodwendig jou bloedfamilie nie,” sê Van der Vyver.

Elné Diedericks het ‘n oorsponklike eksemplaar van Marita van der Vyver se eerste gewilde maar destyds opspraakwekkende roman wat in 1992 uitgegee is, gebring na die boekbekendstelling vir die skrywer om te teken.

Sy benadruk ander sterk temas is depressie, geslagskwessies, rou en verlies.

Van der Vyver verduidelik egter dat sy nie doelbewus relevante kwessies aanroer of sosiale kommentaar lewer nie.

“Dis onvermydelik dat mens die tydsgees in boeke saamvat, maar ek besluit nooit om oor sekere kwessies te skryf nie omdat my boeke eerder karaktergedrewe is.”

Die gehoor het Van der Vyver uitgevra oor die rol wat kos ook in die roman speel soos in vele van haar ander romans soos Dis koue kos, skat.

Sy het verskeie resepteboeke soos Winterkos in Provence gepubliseer.

“Kos is altyd belangrik. Nie almal verstaan politiek of kwessies nie, maar ons almal verstaan kos!”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button