Local news

Bas-bariton en keramiekkunstenaar ontgin sy kreatiwiteit

Twee talente kom in een aand saam waneer bas-bariton en keramiekkunstenaar, Christiaan Snyman, beide inspan ten bate van pasiënte in 'n Lynnwood-hospies.

Die bekende bas-bariton en keramiekkunstenaar van Rietondale, Christiaan Snyman, stap met sy keramiekpotte in skakerings van blou die kunsstudio binne.

Hy plaas die armsvol potte met respek op ’n staander, tree terug en kyk hoe die kleure in die enkele sonstraal skakeringe van blou weerkaats.

Hy streel ’n oomblik oor sy grys baard en glimlag half ongelowig, asof hy steeds nie kan glo die oes van potte in die klassieke tradisie asook met Afrika vorms, is die werk van sy fyngevormde hande nie.

Snyman, bekend vir sy optredes in verskeie operarolle in Duitsland en New York, het tydens die eerste aanslag van Covid-19 in die winter van 2020 besluit om keramiekkuns baas te raak.

Nou, bykans drie en ’n half jaar later, is die harde werk tydens sy opleiding by keramiekkunstenaars en pottebakkers soos Sharon Mitrie, John Shirley, Anthony Shapiro en Michelle Legg, sigbaar in sy versameling uitstallingswerke.

Op 22 Oktober gee hy ’n sanguitvoering met ’n orkes onder leiding van Schalk van der Merwe en stal hy sy versameling keramiekwerke uit saam met skilder Brindley Pritchard by die Kretschmann-galery in Menlyn Maine ten bate van die Sungardens Hospice in Lynnwood.

Bas-bariton en keramiekkunstenaar Christiaan Snyman. FOTO: Elize Parker

Hy glo God gee jou talente om jou gemeenskap te dien.

“Dis nie iets wat jy vir jouself mag hou nie. Om jou talente uit te leef in kuns, kan jou roeping word en juis hierin kan jy jou identiteit vind,” sê die sanger wat reeds in 2001 sy sangloopbaan begin het.

Snyman se besluit om met die uitvoering, uitstalling en ’n veiling van werke van ook ander kunstenaars fondse vir die instelling in te samel, is gebore uit dankbaarheid.

’n Soortgelyke hospies-instelling in Klerksdorp het sy gesin met die versorging van ’n familielid gehelp.

Vir dié gulhartige Snyman is dit boonop ’n aanwins om met die vriendelike en gasvrye Morné en Belinda Kretschmann sowel as mede-kunstenaar, Brindlay Pritchard, saam te werk.

Hy het eers net een keer per week klas geneem by Mitrie. Toe die klei-gogga behoorlik begin byt, het hy ook tuis met klei begin werk.

Die talentvolle Snyman wou egter eers bevestiging in sy hart kry of hy ook hierdie nuwe koers in die kunste moes inslaan.

Toe sy gebed om ’n kleiwiel te besit, binne ’n dag bewaarheid is, het hy geweet sy nuwe kunskoers kry ook van Bo die groen lig.

Die leerproses het veel meer toewyding behels as wat hy oorspronklik gedink het.

“Jy leer om geduldig te wees wanneer jy met klei werk. ’n Stuk werk kom selde uit soos wat jy beplan het. Dit is ook onvoorspelbaar want ’n werk kan breek of kraak in die vuurproses. Jy wil eintlik elke dag opgee,” vertel Snyman van sy ure in die ateljees van sy kleimeester, Lesley-Ann Hoets.

By haar het hy geleer: “Die pot skryf vir jou voor. Sy het my ruimte gegee binne die streng dissipline van handbou.”

Toe hy leer om hom los te maak van sy sin vir perfeksie, het die leerproses vergemaklik.

“Toe kon ek die eindproduk begin geniet,” sê hy nadenkend.

Hy het ook by Hoets die waarde van ’n besonderse tegniek geleer: Om klei dun te gooi om die pot opsigself ligter te maak.

Vir hom was dit moeilik om hom los te maak van die eise van die ander kreatiewe sy van sy lewe: sang. Hierdie kunsvorm verg juis ’n groot mate van perfeksie in die uitvoering van tegnieke, soos hy geleer het by sy geliefde en welbekende leermeester operalegende, Nellie du Toit.

Die kunstenaars Christiaan Snyman (heel links) en Brindlay Pritchard (agter) by Morné en Belinda Kretschmann. FOTO: Elize Parker

Hy wil juis tydens die uitstalling eer aan Du Toit gee deur ’n lied van Tchaikovsky wat sy hom geleer het, vir die eerste keer voor ’n gehoor te sing.

Hy glo nou met beide kunsvorme moet jy jouself die vryheid gun om tegnieke te bemeester en dan jou eie te maak.

“Die een kan nie sonder die ander nie. As jy nie die regte tegniek gebruik met sang nie, kan jy jou stem skade aandoen. Met keramiek weer sal verkeerde tegnieke jou net met gekraakte potte laat. Dis die kombinasie van tegnieke en persoonlike vertolking wat ’n eiesoortige produk tot stand bring,” meen Snyman.

Alhoewel blou oorheersend die kleur van die werke is vir die uitstalling, is dit is nie noodwendig sy gunstelingkleur nie.

“Dit is die eerste keer wat ek groter werk begin maak en aandag begin gee aan versierng waar ek my teken- en skildertalent kan gebruik op die potte wat dan my skilderdoek word.”

Hy vermoed die Delft-tradisie het hom onbewustelik beïnvloed om meesal sy keramiekwerk in skakerings van blou aan te bied.

“Die wonderwerk bly vir my om grond in glas te verander. Dit sal my elke keer ’n tree of wat terug laat staan om hierdie proses na waarde te kan skat.”

Die uitstalling ten bate van die Sungardens Hospice word op 22 Oktober aangebied by Die Kretschmann-galery. Gaan na Quicket se webblad (https://bitly.ws/Xkv6) vir navrae en kaartjies.

Kliek hier om ’n voorskou te sien:

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button