Brindley Pritchard se ondekkingstog met kuns gaan steeds voort.
Brindley Pritchard se paadjie met sy kunstenaarskap het hom weer terug na Pretoria vir 'n wyle gebring, hier waar hy kleintyd in ontsag na die natuur begin kyk het.
Skilder Brindley Pritchard lees lig soos ’n boek.
Op sy esel is juis ’n onvoltooide seetoneel waar die spel van lig jou dadelik opval.
Die skildery is een van vele seetonele in ’n palet van groen en blou, ’n ineenvloeiing van kleure terwyl die lig op die horison tussen wolke kantel.
“Ek hou daarvan om die drama wat daar tussen lig en skaduwees afspeel, vas te vang,” sê hy en draai sy kop skuins en nadenkend terwyl hy na ’n toneel van die see bo Valsbaai kyk.
Maar landskappe is nog lank nie al waarin dié oudleerder van die Pro Arte Kunsskool en oudstudent van die Pretoria Technikon spesialiseer nie.
Pritchard is ook bekend vir sy skilderwerk rondom geestelike temas.
Hy en sy vrou, Janine, het hul onlangs weer tydelik in Pretoria gevestig waar hy deelgeneem het aan ’n uitstalling van sy werke in die Kretschmann Galery. Sy werk is ook deel van ’n permanente uitstalling by die galery.
In 2005 het hy in Pretoria klas begin gee in skilderkuns. Die vaardigheid om sy kennis oor te dra is ’n nering waarna hy met sy onlangse hervestiging in Pretoria na teruggekeer het.
“Om aan ander oor te dra wat jy van kuns en tegnieke weet, gee my ’n besondere vreugde. Dis nou deel van my kunstenaarskap om ook aan ander leiding te gee om hul slapende talente te ontdek,” vertel Pritchard.
Hy wys na die doeke op esels van sy studente in sy studio in Menlyn Maine.
Hy neem klein groepe in om voor klas te gee in veral olieverf.
“Klasgee help my ook om dele van my eie kunstenaarskap te ontgin. Dis nou deel van my kreatiewe lewe,” sê hy nadenkend.
Vir hom draai klasgee ook rondom die aangee van inspirasie.
“Jy is in die koesterplek van jou lewe as jy jou talente ontdek het en dit kan uitleef,” voel hy.
Veral as dit by sketswerk kom, raak Pritchard ernstig.
“’n Skilder moet ook aan die skets bly. Dit gee jou die selfvertroue om verby die groter eise van skilder op ’n doek te kan kom,” meen hy.
As seun van die bekende beeldhouer, Tienie Pritchard, het hy reeds van ’n jong ouderdom die wondere van die natuur ontdek.
Hy het grootgeword op ’n plot in die Skurweberg naby Pretoria waar die natuur jou buurman is.
“My oorlede pa het ’n groot invloed op my werk gehad,” sê hy.
Op 12-jarige ouderdom was hy reeds onder die indruk dat kuns ’n manier is om uitdrukking aan die natuurskoon te gee. By die kunsskool kon hy hieraan uiting gee.
As ’n gekwalifiseerde grafiese ontwerper het hy besef skone kunste, méér as ontwerp, is sy ware nering.
Hy het in sy vroeë veertigs die geleentheid aangegryp om in 2007 die Overberg sy tuiste te maak vir tien jaar op stranddorpies soos Rooi Els en Kleinmond.
Dit was juis in Kleinmond by die hawe waar hy ook ’n kunsgalery, Brindley Pritchard Art Studio, kon vestig om klas te gee en sy eie werk uit te stal.
Juis omdat die fynbosveld in sy Overberg-omgewing so besonders was, het hy ook met meesterlike kwashale die veld en kronkelpaadjies rondom plekke soos prentjiemooi McGregor en erfenisryke Greyton begin skilder.
“Die Overberg-landskappe se oop vryheid het my en Janine gelok om dikwels sommer op ’n kronkelende afdraaipaadjie te gaan ry,’ sê die skilder met sy kwas in die linkerhand terwyl hy met meesterlike hale ’n seetoneel afrond.
“Daar is ’n tipe rustigheid daaraan om oor die fynbosheuwels die pad in te slaan. Die fynbos is so ryk aan ’n verskeidenheid van plante en diere.”
Met die skilder van seelandskappe is hy dikwels deur die onvoorspelbaarheid van die Kaapse weer beïnvloed.
“Met die veranderende Kaapse weer oor die see, kom die wondere van die spel van lig by jou tuis. Dit skep stemming en intrige wanneer jy begin verf,” sê Pritchard met sy oog op die vertes.
Dit is juis hier in die Overberg waar Pritchard begin sukkel het om aan die verf te kom en ’n nuwe rigting ingeslaan het.
Na ’n lewensveranderende oomblik in sy ateljee toe hy ’n geestelike ervaring gehad het, het sy lewens- sowel as kunstenaarskoers verander.
“In my studio in Rooi Els het ek ’n ontmoeting met God gehad. Daarna het tien jaar van heelmaking en herstel in my lewe gevolg.”
Pritchard het hierna op ’n nuwe en ander manier begin kuns maak. Reekse met geestelike temas, Die Leeu en die Bruid asook Die Woord het Vlees geword, het die lig gesien.
Saam met die vernuwing in sy werk het ook ander geestelike ervarings gekom wat tot ’n verdieping in sy lewensbenadering gelei het.
“Om die see nou uit te beeld is deel van hierdie nuwe manier van sien. Water is vir my ’n simboliese voorstelling van die Gees. Die krag van water is ook so kragtig en tonele voor jou verander voortdurend, net soos God in sy almag,” sê hy.
– Kliek hier om die kunstenaar aan die werk te sien:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.