Local news

Driestuks ervare musikante maak van heilige liedere-middag ‘n kragtoer

Die vertolking van heilige liedere en musiek deur 'n driestuks musikante in die Nazareth-huiskapel was 'n welkome en sielsverheffende ervaring so skuins voor die Kersseisoen.

Die driestuk-vertoning van dramatiese koloratuursopraan Michelle Veenemans, vioolspeler Miroslav Chakaryan en begeleier op die vleuelklavier, Paul Ferreira in die Nazareth-huiskapel van 11 heilige liedere en werke was ’n kragtoer.

Wyle Wouter de Wet, bekend vir sy klassieke musiekprogramme op RSG, het Veenemans nie verniet Suid-Afrika se nagtegaal genoem nie.

Paul Ferreira.

Veenemans het met die ware emosie wat sy na haar vertolkings van liedere met ’n heilige toon en stemming uit operas sowel as liedere van komponiste soos Handel gebring het, soos altyd ’n liriese interpretasie gegee.

Die gehoor van sowat 90 mense in die kapel met die mistieke gebrandskilderde vensters en kandelaarkerse wat vooraf deur Veenemans se ma, die 85-jarige sanglegende Barbara aangesteek is, het bygedra om ’n stemming van gedempte ontsag te gee.

Veenemans het met haar sjarmante vertellings en voorstellings tussenin vermaak en kleur gegee aan die meer as uurlange vertoning. Haar opulente ivoorkleurige rok het glans na die geleentheid gebring.

Die bekroonde Miroslav Chakaryan, die konsertmeester van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes, se sjarmante inleiding en geselsies tot sy vertolkings van werke soos Bach se Arioso for violin and piano van die Cantata en Mein Herze schwimmt im Blut, was vermaaklik.

Michelle Veenemans.

Hy ken die kuns met sy formele voordrag, voorkoms en vertolking om ’n sekere diepte en erns van emosie aan die werke te gee.

Miroslav Chakaryan.

Chakaryan het wel ook warmte en lewe gegee aan Mozart se Adagio for violin and piano in E-majeur met die bekwame en knap begeleiding van Paul Ferreira.

Die duo het ook ’n ekstra porsie applous van die gehoor ontvang vir hul vertolking van Mozart se Rondo in C-majeur vir viool en klavier.

Op die program vir die middag was ook werke van Bach soos Air on a G-string waaraan Chakaryan sy eie verwerking aangebied het sowel as Bach se Wie freudig ist mein Herz en uit die Mattheus-passie het die lied Erbarme Dich, mein Gott menige lid van die gehoor aangedaan gehad.

Maar dit is wel die virtuoosvertolking van verskeie liedere deur Veenemans met haar dramatiese gebare wat die liedere se diepte van emosies ontgin en ’n veelsydige en liriese interpretasie nalaat wat jou bybly.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button