Local news

Burgemeester: Maalkolk van verval in Tshwane kan met moed en integriteit gestuit word

Met die nodige reddingsplanne in plek, private vennootskappe en 'n verandering in die kultuur van die werkerskorps, kan uitdagings in die Tshwane metro oorkom word glo burgemeester Cilliers Brink.

Daar is hoop dat die Stadsraad van Tshwane die reuseprobleme wat tans die stad teister, sal kan oorkom.

Hierdie proses gaan egter integriteit en waagmoed verg, aangesien daar aansienlike weerstand is van groepe met gevestigde belange.

Die verandering sal ook nie kan geskied sonder die verandering van die kultuur binne die werkerskorps nie.

“Die maalkolk van verval kan net gestuit word indien moeilike besluite geneem en uitgevoer word. Ons kan nie bekostig dat die stadsraad of die staat ineenstort nie, maar verandering kan nie oornag geskied nie. Transformasie moet geleidelik wees.”

So het die Tshwane-burgemeester, Ciliers Brink, aan die Pretoria Sakekamer se lede tydens hul onlangse vergadering gesê.

“Daar is geen manier vir die stad se bestuur om uit hierdie moeilikhede te kom as ons nie die huidige kultuur onder die werkerkskorps kan verbreek nie.”

Brink het benadruk die verandering sal gepaard moet gaan met ’n houdingsverandering by werknemers.

“Die werkerskorps moet besef die stadsraad bestaan nie vir hulle gerief nie, maar wel vir die 900 000 geregistreerde belastingbetalers, sakelui, die inwoners en diegene wat vir waardetoevoeging rondom dienste betaal. Denke rondom intimidasie sal ook moet verander,” sê hy.

“Tans word gedink as daar genoeg geweld gebruik word, sal ons ingee.”

Brink het dit duidelik uitgespel: “Ons kan nie met kriminele elemente onderhandel nie.”

Hy het verwys na die klinkklare bewyse dat ’n Samwu-lid van die stakende werkers by die onlangse geweld rondom die staking betrokke was en afgedank is.

Brink het verduidelik dat die vordering met die prioriteite van die veelpartykoalisie hom laat moed skep.

Hierdie prioriteite sluit in om meer onafhanklik van Eskom te wees.

“Ons het verlede jaar ’n R2-biljoen verlies op die verkoop van elektrisiteit aan inwoners en sakelui ervaar en moet ’n plan met hierdie uitdaging maak. Ons vorder om tans ’n energieplan saam te stel en met planne vir ’n energie-indaba om die moontlikheid te ondersoek om surplus krag wat ingevoer kan word van privaat individue, te kan versprei,” sê hy.

Brink het ook vordering uitgelig oor beloftes aan inwoners oor beter stadsbestuur.

Hy het daarop gewys dat die belofte om die agt kritiese bestuursposisies in die stadsraad met nuwe aanstellings te vul, reeds nagekom is.

Hy is veral opgewonde oor die aanstelling van ’n nuwe hoof vir die metropolisie.

Onder luide toejuiging van die gehoor, het hy vermeld dat die hoof van die toekenning van tenders by Tshwane uit hierdie pos verwyder is.

Aankondigings is gemaak oor verskeie bestuurstrategieë waarby sakemanne, inwoners en belastingbetalers kan baat.

Met ’n verwysing na ontwikkelingspraktisyns se uitdagings om onder meer bouplanne goedgekeur te kry, het hy melding gemaak van ’n forum vir beraadslaging oor die boubedryf in Tshwane.

Hy hoop om die forum eersdaags in die lewe te roep.

“Hier sal professionele persone soos stadsbeplanners en argitekte openlik oor hul uitdagings rondom die goedkeuring van planne kan gesels.”

Een van die grootste uitdagings steeds is Tshwane se begrotingstekort van R3-biljoen.

Brink het verwys na sy onlangse samesprekings met die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, om ’n uitweg saam met Tesourie hierrondom te ondersoek.

Deel van die reddingsplan vir die Tshwane metro vorentoe behels die aangaan van vennootskappe met die privaatsektor.

’n Voorbeeld hiervan is ’n voorstel vir die uitverhuur van Rooiwal-kragstasie wat tans vir openbare kommentaar oopgestel is.

Brink het benadruk dat die aangaan van sulke vennootskappe een van die waardevolle lesse is wat uit die onwettige staking van die afgelope paar weke geleer is.

“Deur die saamstaan van veral privaat sekuriteitsmaatskappye en die bande wat burgermeesterskomiteelede soos Grandi Theunissen met sulke kundigheid in die private sektor het, kon ons moontlike erger sekuriteitsrisiko’s, soos die vergiftiging van reservoirs, afweer. Sulke vennootskappe is beslis deel van die pad vorentoe.”

Brink het verwys na ’n kritiese tussenverkiesing vir stadsraadslede wat op 11 November voorlê.

“Ons was in ’n gyselaarsituasie voor 2021, maar het veld gewen met die koalisieregering. Ons moet die meerderheid van twee kan behou om werklik vorentoe te kan gaan.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button