Local news

Sportskrywer se pen oor Hougaard objektief en ontledend

Die nie-amptelike biografie van Derick Hougaard deur 'n gerekende sportskrywer is ook 'n blik op veral Blou Bul-rugby in die era toe hy die Unie verteenwoordig het.

Gerekende sportskrywer Brenden Nel takel as sportbiograaf die nie-amptelike biografie van Derick Hougaard – Die ware storie van die Liefling van Loftus.

Nel slaag daarin om ook as biograaf oor die speler se persoonlike lewe lesers ’n deurdringende blik te gee op die speler wat sovele rugbyliefhebbers se verbeelding aangegryp het.

Hougaard het in ’n stadium met Nel saamgewerk, maar hom mettertyd onttrek en ook opdrag aan sy gesin gegee om nie betrokke te raak by die skryf daarvan nie.

Ook Hougaard se voormalige eggenoot, Karlien van Jaarsveld, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Die biografie ly egter nie skade onder die gebrek aan ’n persoonlike betrokkenheid deur Hougaard nie aangesien van sy naaste vriende, anoniem of by name, sowel as mense naby aan hom soos sy strooijonkers, in talle opsigte woordeliks aangehaal word.

Veral onderhoude met die altyd humoristiese Schalk Burger dra oor die beginjare van Hougaard se loopbaan veel by om konteks ook oor die later jare te skep.

Brenden Nel

Dit is ’n uitdaging om oor iemand wat oor die jare telkens in die kollig was, nog iets nuuts te skryf.

Nel slaag wel om oor Hougaard se rugbyloopbaan sowel as sy persoonlike lewe, nuwe feite en menings na vore te bring.

Hy slaag veral daarin om rondom Hougaard se gesondheid ’n minder bekende vroeë diagnose in sy loopbaan van skoliose, oftewel verkromming van die ruggraat, uit te lig.

Hy motiveer ook doelgerig hoekom hierdie diagnose dalk een van die redes is hoekom Hougaard self so vroeg soveel met sy loopbaan wou vermag het.

Dit is ook dalk hoekom hy soms verkeerde opsies geneem het. Soos om eerder die Blou Bulle se aanbod aan te neem om vir die Unie rugby op hoëvlak te speel reg na skool, as om in die Westelike Provinsie te wag om deur die range te beweeg.

Nel wy ook deurlopend uit oor die invloed van episodes van harsingskudding vroeg in Hougaard se loopbaan en die effek wat die ernstige beserings dalk later op sy gesondheid sowel as moontlik op sy verslawings kon gehad het.

Nel verf op hierdie onderwerp ook met ’n kwas met breë hale en haal internasionale navorsing aan oor hoe die rugby-hiërargieë se siening hieroor verander het en watter maatreëls vandag hiervoor in plek is.

Hy gee geloofwaardige navorsing weer oor die moontlikheid van ’n oorsaaklike verband tussen harsingskudding en verslawings.

’n Knap sportskrywer is in die eerste gedeelte van die boek aan die woord wat statistiek oor die afgelope 20 of meer jare se toernooie op nasionale en internasionale terrein soomloos verweef met die rugbyfeite rondom Hougaard se loopbaan.

Hy sluit onderhoude met vriende, medespelers, afrigters en ander rugbyskrywers in en plaas Hougaard in die kern van hierdie konteks.

Sy eie waarnemings as jong sportskrywer word ook weergegee asook dié menings van talle ander sportskrywers met verloop van jare.

Nel los ’n paar vrae aan die leser oor om self op te los want sy waarnemings is objektief en hy neem nie standpunt of veroordeel Hougaard nie.

Veral aan die begin van die boek moet die leser aflei hoekom Heyneke Meyer vir jare so lojaal aan Hougaard as speler was. Ook in teenstelling wonder hy waarom het afrigters Rudy Joubert en Jake White weer weerstand geopenbaar om Hougaard in hul spanne in te sluit.

Ook die verskille tussen Morné Steyn se opgang as losskakel by die Bulle en Hougaard se loopbaan word uitgewys, asook hoe die trajek van hul lewens as sportmanne verloop het.

In die tweede helfte van die boek draai die fokus meer na die persoonlike lewe van Hougaard en die era toe sy ster gesak het. Nel se fokus skuif as rugbyskrywer meer na dié van ’n tydskrifjoernalis wat onderhoude voer en antwoorde op sy eie en dalk ook die leser se vrae soek.

Verslawings, gebroke verhoudings en Hougaard se egskeiding kom aan die bod. As biograaf trap Nel nie ligweg oor die feite van die skandale en die agtergrondverhale nie. Hy voer onderhoude met rolspelers soos meisies wat Hougaard in die moeilikheid laat beland het en kyk na die rol wat Karlien van Jaarsveld se ambisieuse ma, Ronel Brink, in hul verhouding kon gespeel het.

Nel trap nie in die slaggat oor die geykte redes waarom Hougaard nie sy volle potensiaal as speler of as mens, eggenoot en pa, bereik het nie.

Algemene wysheid wil dit hê dat die prys van roem wat te vinnig en te gou gekom het, die jong Hougaard onkant betrap het en hom sielkundig beïnvloed het sodat sy spelpeil en sy persoonlike lewe ’n afwaartse kurwe geneem het.

Nel plaas hierdie en ander redes in konteks deur ook te kyk na feite soos Hougaard se hartseer rondom die afsterwe van sy en Van Jaarsveld se dogtertjie in ’n miskraam en sy blywende liefde vir sy voormalige vrou en sy hartseer om nie sy seuns so dikwels te kan sien nie.

Soos te verwagte is die biografie ook ’n blik op Blou Bul-rugby in ’n sekere era, en as jy dan lank verby die verslawing en persoonlike krisisse van Hougaard kan kyk, is die beskrywings en vertellings veral ook rondom gebeure soos Kamp Staaldraad, iets wat jou aandag hou.

Die teks is ongelukkig nie altyd goed versorg nie en daar is vele proefleesfoute, soveel so dat afrigter Brendan Venter in ’n stadium twee keer as Burger aangegee word.

– Derick Hougaard – Die ware storie van die liefling van Loftus is deur Tafelberg Uitgewers uitgegee en kos R260.

Nietemin, Nel se styl van aanbieding, die omvattende navorsing en sy objektiwiteit maak hierdie sportbiografie ’n waardevolle toevoeging tot Afrikaanse boeke oor sporthelde.

– Derick Hougaard – Die ware storie van die liefling van Loftus is deur Tafelberg Uitgewers uitgegee en kos R260.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button