CrimeLifestyleLocal news

Dieretuin se oudste dier word 50

Die Pretoria Dieretuin se Reptielsentrum het met verjaarsdagkoek en al Gunther, die Amerikaanse krokodil, oftewel Alligator, se verjaarsdag prettig gevier.

Die oudste dier by die Pretoria Dieretuin, Gunther, die Amerikaanse krokodil (oftewel alligator) is vanjaar 50 jaar oud. ’n Partytjie is spesiaal Vrydag vir hom gehou.

As verjaarsdagdier het die bykans 2m-lange reptiel spesiaal ’n bederfgereg of twee in sy swemkampie vir die dag van reptielbewaringsbeampte, Ramarotha Mothwa, ontvang – ’n groot stuk vis en ’n stuk beeshaas.

Die partytjie met sy swierige koek met ’n foto van Gunther daarop, het afgeskop toe die 50-jaar kersies aangesteek is en die koek deur die vorige kurator van die reptielsentrum, Chris de Beer, en kurator van die diereversamelings en bewaring by die dieretuin, Tracy Rehse, gesny is.

Die koek en ander verversings is aan meer as 50 gaste by die plaza voor die reptielsentrum onder luide toejuiging en die sing van verjaarsdagliedjies bedien.

Die verjaarsdagman se kampie is netjies met pakkies, verjaarsdagwimpels en vrolike linte opgemaak.

‘n Vrolike koek was deel van die vieringe van Gunther se 50e verjaarsdag. Foto: Elize Parker

Groepe skoolkinders het hom telkens tydens hul besoeke toegesing.

Mike Adams, die huidige kurator van die reptielsentrum, het die verjaarsdaggaste toegespreek.

Die gehoor het die dieretuinbestuur, opvoedingsentrumbestuur, personeel en Vriende van die Dieretuin se lede plus internasionale besoekers ingesluit.

“Dit is ’n voorreg om hierdie verjaarsdag te vier met die wete Gunther is een van ons baie diere wat gesond en gelukkig is. Deur hom kon ons besoekers al veel van reptiele en hul lewenswyses leer,” het Adams gesê.

Gunther is in 1973 in Amerika gebore en is in 1974 na die destydse Transvaal Slangpark in Midrand uitgevoer om daar sy lewe voor te sit. Hy het saam met sy broer na Suid-Afrika gekom.

Toe die Slangpark in die negentigerjare toegemaak het, het die Pretoria Dieretuin verantwoordelikheid vir die twee krokodille geneem. Gunther se broer is in 2019 oorlede.

Adams het benadruk die krokodilspesie waaraan Gunther behoort, kan so oud soos 50 jaar in die natuur word en selfs ouer onder omstandighede in aanhouding soos dieretuine.

De Beer, het ’n nadenkende draai by Gunther gaan stap en sy kleinseun, Dewald van Wyk, meer van die diere geleer.

Chris de Beer en Mike Adams. FOTO: Elize Parker

As hoof van die sentrum, het hy die reptiel destyds ingeneem en versorg.

“Hy was toe al ’n rustige knaap en ek sien hy het so gebly,” het De Beer geskerts.

Nog ’n belangrike gas by die feestelikhede was Muano Khakhu, ’n reptielbewaringsbeampte, wat al sewe jaar lank vir die versorging van Gunther instaan.

“Wat ’n voorreg om te lewe in hierdie interessante tye wat ’n dier soos Gunther 50 jaar oud kan word. Hoe besonders dat ons ’n dier se bestaan en verjaarsdag kan vier,” het ’n opgewonde KhaKhu gesê.

Saam met Gunther se verjaarsdag, het die reptielsentrum ook die inwyding van hul nuut opgeknapte sentrum gevier met die vrystelling van sewe eenjarige Nyl-krokodille en die verwelkoming van twee Amerikaanse krokodille (alligators) uit kwarantyn nadat hulle uit Melbourne in Australië ingevoer is.

KhaKhu het saam met Adams die Nyl-krokodille in ’n aparte kamp vrygestel.

Die sewe krokodille is nadergedra in ’n krat en het vinnig uitgeskarrel nadat die houer oopgemaak is en onder die water verdwyn.

Die twee nuwe Amerikaanse krokodille, Lulu (7) en Pipsqueak (4) is sedert Mei in kwarantyn in die dieretuin.

Laasgenoemde is nou vrygelaat in ’n toegemaakte kampie deur Khakhu en reptielbewaringsbeampte Liezl Oosthuizen waar die temperatuur van die lug en water aangepas kan word.

Muanao Khakhu met een van die Nyl-krokodille se vrylating by die Pretoria Dieretuin.
Muano Khakhu en Liezell Oosthuizen met Pipsqueak se vrylating.

Hier het ’n troppie waterskilpaaie haar ingewag terwyl sy haar nuwe blyplek verken het.

Aldrie die waterkampe, sowel as die reptielsentrum waar die slange en ander reptiele gehou word, is onlangs deur die dieretuin opgeknap.

Die Vriende van die Dieretuin se lede het ook met verf en kwas ingespring en veral gesorg dat Gunther se waterkamp uitgeverf is vir sy verjaarsdag.

Lettie en Jan Appelgrein was deel van die groep wat sedert Februarie aan die werk is.

“Ons kom so een keer per maand bymekaar om ’n projek soos die opknapping aan te pak en seker te maak dis vir die diere gemaklik en vir besoekers aantreklik om die dieretuin te besoek,” het Lettie gesê.

Dewald van Dyk het saam met sy oupa Chris de Beer kom pret maak op die 50e verjaarsdagpartytjie van die Amerikaanse krokodil, Gunther.

Kliek hier om die vrylating van die Nyl-krodille by die Pretoria Dieretuin te sien:

Kliek hier om te sien hoe Guntheraan sy verjaardaglekkernye smul:

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button