Local news

Ouers van leerders in Moot-skole ontstoke oor boeliegedrag

"Ons ouers in die Moot is baie, baie moeg vir die manier waarop boelies hanteer word in skole," sê ’n ma van ’n Moot-skoolleerder.

’n Ouer van ’n laerskoolleerder in die Moot is ongelukkig oor beide die dissiplinehoof en skoolhoof wat boeliegedrag ontken.

“My kind het huis toe gekom en vertel hoe hy geslaan word.

“Daar is ook deur ander leerders aan hom gesê: ‘Hoekom maak jy nie jouself dood nie?’

“Hy was ’n goeie krieketspeler, maar die ander spelers het hom met hul vernederende woorde uit die span gewerk,” vertel die ontstelde ma.

Sy het die skool sowel as die Doxa Deo-kerk in die Moot geraadpleeg vir ’n oplossing.

By die kerk is sy aanbeveel om hom in te skryf by ’n Bytjie-program waar konflikhantering tussen die boelie en die slagoffer onder toesig hanteer kan word.

Haar versoek dat haar kind in ’n ander klas geplaas word, is ook van die hand gewys by die skool.

“Van die personeellede het my aangemoedig om weer die saak met die hoof op te neem en ek is verseker daar word aksie geneem, maar ek het niks daarvan in ons geval gesien nie,” bevestig die ma.

Sy wil liewers anoniem bly uit vrees vir viktimisering van haar kind.

“Jy weet hy moet ook nog hoërskool toe gaan,” waarsku sy.

Haar kind kry berading en is nou in ’n nuwe skool.

Nog ’n ma sê: “Ons ouers in die Moot is baie, baie moeg vir die manier waarop boelies hanteer word in skole. En ook vir die feit dat daar selfs onnies is wat boelie.”

Sy het haar kind al by ’n sielkundige gehad omdat haar kind sy lewe oor die boeliegedrag wou neem.

Die berader word deur verskeie kinders in die skool se ouers ingespan om kinders teen die een spesifieke boelie te help.

“Baie kinders word geteiken, en die boelie is uitgewys. Die boelie was selfs saam met die kind by sy sielkundige, maar dit het net ’n rukkie goed gegaan. Ons beraders het ook aangebied om die skool te help, maar daar is geen reaksie nie,” vertel sy.

“Dis asof hulle nie konflik kan hanteer nie en maak asof jy alleen is,” sê sy.

Hierdie en ander moontlike toenemende aantal voorvalle van boeliegedrag by skole in die Moot, het in die kollig gekom nadat ’n ma op Facebook die boeliegedrag by haar dogter se skool uitgewys het deur ’n ontstellende foto van haar gesigbeserings te plaas.

Die plasing is sedertdien afgehaal.

’n Kundige in die voorkoming van boeliegedrag, Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap, sê hulle het vanjaar skole regoor Pretoria en ook in die Moot besoek.

Die burgerlike organisasie se teenboelieveldtog bestaan sedert 2017 en 235 skole is reeds landwyd besoek. Meer as 177 000 leerders is al bereik.

Sy verduidelik die boeliegedrag waaroor kinders by Pretoria-skole met haar en haar span gesels het, is verbale, sosiale, emosionele en kuberboeliery.

Sy het bevind verbale boeliery kom voor by meeste kinders wat oor boeliegedrag kla.

“Fisiese boeliery kom meer by jonger kinders voor. Kuberboeliery neem ook al hoe meer in die moderne samelewing toe en die ouderdomsgroep waarin hierdie vorm van boeliegedrag plaasvind word al hoe jonger,” wys Bräsler uit.

Een van die skole wat deur die teenboeliespan besoek is, is Laerskool Voorpos.

“By Laerskool Voorpos word boeliegedrag nie geduld nie. Boeliegedrag breek leerders se selfbeeld-en emosionele welstand af, dus is dit vir ons baie belangrik om die leerders bewus te maak van boeliegedrag en dat dit ontoelaatbaar is by ons skool.”

So sê Jeanette Fourie, tydelike departementshoof by die Laerskool Voorpos.

“Ons werk baie hard om ons skool se waardes in ons leerders te vestig en sodoende suksesvolle en emosionele gesonde leerders die wêreld in te stuur,” sê Fourie.

’n Maatskaplike werker van Pretoria wat dikwels met kinders in die Moot-omgewing sowel as Pretoria-Noord werk, dr. Annelieze Naudé van die SAVF, sê algemene navorsing het bewys een uit elke vyf hoërskoolkinders word geboelie op skoolterreine.

Sy wys daarop dat boeliegedrag in skole op enige plek op die terrein, maar veral in gange en toilette gebeur. Sulke gedrag vind meer as gewoonlik tydens pouses plaas. Sy sonder spesifiek ook uit dat sulke gedrag ook voorkom op skoolbusse en bushaltes.

“Boelies gebruik ook dikwels groepaktiwiteite en na-skoolse bedrywighede om hul slagoffers te teiken,” verduidelik Naudé.

Sy het ’n uitnodignig gerig aan ouers en onderwysers om ’n e-pos aan haar te stuur by gauteng3.rm@savf indien hulle enige vrae oor boeliegedrag het. Die SAVF besoek ook skole met praatjies hieroor teen ’n minimum fooi.

Die Gauteng se Department van Onderwys is genader om spesifiek kommentaar te gee oor boeliegedrag in skole in die Moot, maar het teen druktyd nog nie op herhaalde versoeke van Rekord reageer nie.

AfriForum se teenboeliegids is deur hul teenboelieveldtogafdeling, privaatvervolgingseenheid, die SAPD, die Universiteit van Johannesburg, Unisa en Solidariteit Helpende Hand saamgestel. Die gids is in Engels, sowel as in Afrikaans hier beskikbaar:

– Afrikaans: https://protect-za.mimecast.com/s/fAdgCqj8rBcJzRZgHrFMTP?domain=afriforum.co.za
– Engels: https://protect-za.mimecast.com/s/jnYhCr07vDc416EyTGTWBl?domain=afriforum.co.za

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button