Local news

Groenligte flikker vir Tshwane met fikse stadsbestuurder aan die stuur

Wanneer die stadsbestuurder soggens om seweuur in sy warm stoel in sy onberispelik netjiese kantoor inskuif, kan jy weet nou gaan dinge beweeg. Sy wens is nie verniet om 'n 27-ure dag te leef nie.

Na 14 maande as Tshwane se stadsbestuurder is Johann Mettler steeds besig om sy professionele motto te handhaaf.

“Ek fokus op wat is in die beste belang van die munisipaliteit, sowel as wat is in beste belang van inwoners,” sê hy.

Die voormalige regsman met ’n stewige rekord van 20 jaar se munisipale administrasie agter die blad, erken ruiterlik sy tipe persoonlikheid verdra nie middelmatigheid nie.

Mettler is bekend as ’n man van doeltreffende langtermyn-oplossings.

Hy is reeds deur die Nasionale Tesourie gevra om regrukplanne in munisipaliteite soos Lekwa, Gqeberha en Mzunduzi in te stel en deur te voer.

“Dit was moeilike munisipaliteite om te bestuur, maar ek hou nie van teater by die werk nie. Ek laat my nie deur drama meevoer nie. Dit is nie goed vir bestendigheid nie.”

Die fikse voormalige rugbyspeler bedink strategieë wanneer hy soggens op en af met die heuwels van Pretoria draf.

Sewe-uur sit hy egter gereed in sy netjiese kantoor in Tshwane-huis om die dag se pligte onder beheer te kry.

Nie ’n los papiertjie of iets persoonlik breek die onberispelikheid daarvan nie.

“Ek hou daarvan om werk toe te kom. ’n 27-uur dag sal egter ook nuttig te pas kom,” lag hy.

Sy sin vir humor en selfspot kom telkens deur, al bespreek hy sy ernstige aanslag van dag-tot-dag uitdagings vir die metro.

Hy vind so ’n ligter stemming ook nodig wanneer hy ’n span moet motiveer.

“Die span is krities. Ek probeer altyd die dinamika daarvan regkry. ’n Goeie span bestaan vir my uit gesoute en ervare administrateurs van hul departemente.”

Die metro het onlangs sewe nuwe aanstellings in sy topbestuur gemaak.

“Met hierdie mense aan die stuur van sake sal Tshwane ’n suksesverhaal word waaroor almal gaan praat,” glo Mettler.

Hy draai nie maklik doekies om nie. “Ek kan hardkoppig wees indien ek moét.”

Tydens onlangse samesprekings met vakbonde, het hy sterk standpunt ingeneem oor wat is in die beste belang van Tshwane en sy inwoners.

“Ek vereis dat elkeen sy beste lewer. Ek verdra nie verskonings nie en sal aandring op net die beste,” vertel die voormalige regsman.

Hy kan regsgrade van Lund University in Swede en die Universiteit van die Wes-Kaap agter sy naam skryf. Hy het as prokureur tot in 1995 gepraktiseer.

Voor Mettler se aanstellings was Tshwane drie jaar sonder ’n stadsbestuurder.

In die net meer as 14 maande is Cilliers Brink die derde burgemeester waarmee hy saamwerk.

Nie ’n resep vir volhoubare bestendigheid in ’n stad se geskiedenis nie, maar sulke veranderinge ontsenu nie die kenner van munisipale adminstrasie nie.

Hy het in ’n stadium vir sewe jaar (1998-2003) vir die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regering Vereniging regsake behartig asook munisipale raadslede en amptenare opgelei.

“Die kuns om te bestuur in tye van verwarring is om weer aan vertroue tussen alle partye te bou,” meen Mettler.

Vir hom is daar ’n reeks hoogtepunte in die pas afgelope 14 maande wat hy aan die stuur van sake is.

Een hiervan is om wiele aan die rol te sit om die Rooiwal-kragstasie saam met privaat instellings te bedryf.

Oplossings vir die geldkrisis van Tshwane is ’n deurlopende kopseer vir Mettler.

Met die doel voor oë het hy begin om interne administratiewe stelsels op te knap.

Hy wil ook die skroewe aandraai rondom die insameling van uitstaande skuld.

Vir Mettler en sy span is daar ook ’n ander uitdaging: die metro het agt jaar gelede laas ’n waardasierol gefinaliseer.

Die opdragte om so ’n nuwe rondte van waarderings van eiendomme te doen is reeds gegee.

Volgens hom is die plan om die nuwe waardasierol op 1 Julie 2025 in plek te hê.

“Daar was taamlike skuiwe in die markwaardes van eiendomme en daar moet opnuut waardasies gemaak word,” verduidelik hy.

Maar dit is darem nie net plig en geen plesier nie. Hy sit graag agteroor om sport te kyk.

Hy het ook onlangs van die dienste van ’n persoonlike afrigter begin gebruik maak.

“Ek het hulp nodig met balans in my lewe en ook om persoonlike doelwitte te behaal.”

Kliek hier om te sien hoe die burgemeester van Tshwane en die stadsbestuurder onlangs saam oor munisipale sake gesels het:
https://www.facebook.com/TheCityofTshwane/videos/183733918091049

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button