LifestyleLocal news

Boek oor perd en jong seun gryp die verbeelding aan

“Dit is nie of jy deur die vuur gaan kom nie, maar eerder hoé jy daardeur gaan kom,” sê Alita Steenkamp.

Boekliefhebbers het op 18 November op die rustige kuierstoep van die Boekeplek en Kuierstoep in Pretoria-oos bymekaar gekom vir gesoute joernalis, skrywer en voormalige Pretorianer, Alita Steenkamp, se bespreking oor haar nuutste boek.

Steenkamp, ook bekend vir haar biografieë oor sanger Mathys Roets, glanspersoon Loui Fish en die Worcester-bomplanter se verhaal van bevryding, se nuwe boek Deur die Vuur, het onlangs by die uitgewer Naledi verskyn.

Steenkamp, wat van kleintyd lief was vir perde, is tydens die Knysna-brande ’n paar jaar gelede aangegryp deur die verhaal van ’n perd met die naam Cody.

Die perd is deur sy eienaar vrygelaat uit sy stal sodat hy nie in die brand moet omkom nie. Die erg beseerde perd het na 10 dae weer sy weg na sy stalle en eienaar gevind.

Die oudleerder van Hoërskool Oos-Moot sê alhoewel haar verhaal op ’n soortgelyke ervaring van ’n perd inspeel, is dit nie Cody se verhaal nie.

Haar verhaal gaan oor ’n tiener wat perde haat en dan na ’n oortreding vir ’n vakansie op ’n perdeplaas moet gaan werk.

Hier maak hy kennis met ’n perdefluisteraar en ’n meisie wat mal is oor perde. Hy neem hom voor om nooit van perde te hou nie.

Marissa Greeff en Christa Viviers.

En dan begin die wêreld om hulle brand.

Die vraag vir die karakter Simon Spies is: Hoe gaan hulle almal deur die vuur kom?

“Ek wou oorspronklik die titel ‘Tuiskoms’ gee, maar iemand het my voorgespring. Die verhaal gaan ook oor hoe ons almal soms deur vuur gaan en gelouter anderkant uitkom,” vertel Steenkamp.

Sy het onlangs deur diepe waters met haar eie gesondheidsprobleme gegaan.

“Dit is nie of jy deur die vuur gaan kom nie, maar eerder hoé jy daardeur gaan kom,” merk sy op.

Sy is deur die eienaar van die boekwinkel, Marga Ley, uitgevra oor haar boek.

Steenkamp sê dit is ’n boek vir enigiemand wat lief is vir ’n mooi storie, mense wat lief is vir perde of stories van hoe swaarkry oorwin is.

Annetjie Marais en Adri Coetzee.

Dit is ook op die jong volwassene-mark gemik.

“Die teks het ek na vier maande gelos so halfpad. Toe kom ek te hore van ’n jeugboekskryfkompetisie en besluit om die manuskrip klaar te maak. Ek kon die boek in ses weke klaarmaak tot my eie verbasing,” verduidelik sy.

Steenkamp woon op Kaapsehoop, ’n dorpie in Mpumalanga bekend vir sy dorpperde wat vanaf die plantasies daar rondom na die dorp vir kort besoekies kom.

Die omgewing is bekend vir sy trop van sowat 200 wilde perde, een van drie wildeperdtroppe in Suider-Afrika.

Sy sê dis heerlik om van jou skryfwerk op te kyk en die spesie waaroor jy skryf wei ewe gemaklik op jou eie grasperk.

Steenkamp is ook bekend as joernalis en het haar veral beywer vir die skryf van profiele van bekendes in Afrikaans.

Toe sy ’n naam vir die perd in die storie moes kies, het sy op Avik besluit wat “die dapper een” beteken.

Ina le Roux en Elma van Heerden.

Sy glo nie elke boek behoort ’n les of ’n lewenspreuk uit te spel nie en veral dan ook nie op ’n onsubtiele wyse nie.

“Die tema wat deurgeweef word, is egter ‘bly weg van verkeerde plekke en wees versigtig want jou vriende kan jou in moeilikheid van hul eie intrek’,” meen sy.

Steenkamp sê sy was nog altyd huiwerig om haar hand aan fiksie te slaan, maar sal moontlik nou na hierdie boek meer selfversekerd weer fiksie kan skryf.

“Ek wil nie iets doen wat middelmatig of onder standaard is nie. Ek kan nogals baie pedanties wees met seker dinge en dan loskop met andere. Iewers vind ek darem die goue middeweg. As ek die tyd gegun word, sal ek weer die fiksie-genre probeer,” sê Steenkamp.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button