Rekenmeester hou nou rekening met boeke en skrywers PLUS 5 aanbevelings vir Kerskous-stoppers
'n Aanvallige boekliefhebber is nou 'n entrepreneur wat boekwurms in die ooste van Pretoria met aanbevelings binne hul leessmake bedien en seker maak Kerskouse is vanjaar ook vol boeke te kies en te keur.

Die oop en ruim boekwinkel, The Bookkeeper Shop, is knus genestel tussen snuisterywinkels en die koffiewinkel Afro-boer in die ooste van Pretoria.
Hier waar koeltebome kol-kol skaduwees gooi, papawers in die wind dans en die reuk van pasgemaalde koffie in die lug hang, kan boekwurms in vrede hul hartsbehoeftes rondom boeke uitleef.
Of dit nou is om aan die uitnodigende lang tafel skouer aan skouer tydens ’n leeskringbyeenkoms oor boeke en skrywers te gesels, ’n sonderlinge kinderboek op te spoor of sommer net tussen die boeke te lanterfanter totdat jou oog op ’n geskikte een val – The Bookkeeper Shop met Rachelle Cilliers aan die stuur het ’n plekkie in die son vir een en almal.
Hier het Cilliers haar liefde vir boeke en mense ineen kom vleg en hierdie kalmte wys in die vredevolle en gelukkige ruimte.
Reeds sedert sy self ’n boekverkoper by Exclusive Books in haar studentejare was, het Cilliers in haar agterkop ’n idee rondom boeke en boekwinkels gehad.
Of dit sou werk, sou net die tyd leer. Nou is dié tyd hier en haar visie werk.
“Ek het nog altyf ’n groot liefde vir boeke gehad en wou iets daarrondom doen,” sê die eertydse rekenmeester.
Na universiteit is sy getroud met Francois Cilliers. Sy het ’n rekenmeesterspraktyk bedryf waar sy meesal kliënte se jaarlikse Jan Taks-voorleggings help doen het


Sy kon ook met haar tuiskantoor haar kinders, Mia (13) en Ben (15), help met skoolwerk.
“Op ’n dag was die rekenmeerterspligte net nie meer lekker nie,” sê sy.
Sy het dikwels by die Afroboer-kompleks in Lynnwoodweg koffie gaan drink. Op ’n stadium het sy by die eienaar gaan aanklop en van ’n winkel gehoor wat oopgaan.
Toe het Cilliers die ware entrepreneur in haarself gevind. Gedurende die laaste paar maande van 2018 het sy en ’n span verwers ingespring en haar eerste winkel is in Februarie 2019 gevestig.
“Die kompleks met sy tuine en oop parkeerplek onder die bome is soos ’n klein dorpie en ek het gou tuis gevoel,” dink sy aangedaan terug.
Sy het weggespring deur ’n kombinasie van tweedehandse boeke en nuwe titels aan te bied.
Vandag is sy tuis in ’n nog groter winkel in die kompleks wat in haar geliefkoosde kleur, koraal, geverf is en rakke van bykans die vloer tot die dak volgepak het.
Die innemende sakevrou glo haar boekwinkelvisie is gevorm as boekverkoper destyds op die aandskof in Exclusive Books in Brooklyn toe sy as ’n student daar gewerk het.

In haar grootwordjare op Springs was dit net die destydse CNA skryfbehoefte- en boekwinkel waar sy blootstelling aan boeke gehad het.
“Elk keer wat ek daar ingestap en ’n boek oopgemaak het, het daar ’n nuwe en groter wêreld vir my oopgegaan,” dink sy nostalgies terug.
“Lees is ’n eenmansport, maar dit help jou om konneksies te maak met ander en die groter werklikheid om jou en die binnevrede in jouself,” sê sy en streel nadenkend met haar goedversorgde hande oor ’n uitstalling van nuwe trefferboeke op die lang tafel in haar boekwinkel.
Rondom die ligte houttafel met sy gerieflike stoele kom leeskringe soos die Merlot Leesklub bymekaar, sowel as die Oggendleeskring wat sy gestig het.
Sy het ook gewoeker om ’n aandleeskring tot stand te bring vir jong, werkende lesers. Die lede gaan al op staptoere saam.
“Lees is sosiaal en bring mense bymekaar.”
Die leesklubs bestaan nog lank nie net uit vroue nie.
“Die mans lees die vroue spreekwoordelik onder die tafel in!” merk sy op.
Een van haar groot liefdes is om ’n moontlike boekkoper aan die regte boek voor te stel.
“Boeke bly altyd ’n goeie aanknopingspunt en veral as mens iets moeilik het om te bespreek of te verduidelik.”
Sy stap deur die kinderafdeling waar ’n wye verskeidenheid kleurvolle boeke jonger lesers innooi en wys op boeke oor temas waaroor ouers en kinders kan saamgesels.
Die wêreld van uitgewers en boeke het in die amper vyf jaar wat sy haar daarin bevind, drasties verander.
Cilliers dink die pandemie het ook veel daarmee te make.
Die onwettige verspreiding van boeke via roofeksemplare op selfone, die opkoms van luisterboeke op toestelle via rekenaartoepassings en die wipplankwisselkoers wat buitelandse boeke duurder maak, teken in 2023 ’n ander prentjie van die bedryf as in 2019.
As ewige optimis glo Cilliers egter die goeie sal seëvier.
“Ek dink nie dis lesers wat internetboekdiewe is nie. Die gety sal draai wanneer diegene wat dit versprei, vasgetrek word.”
Sy glo ook Afrikaans het van die beste skrywers in die wêreld.
“Ons taal sal, soos die boekbedryf, ook aanpas en oorleef. Ons moet net aanhou om ons kinders te leer boeke waardeer en aan boekliefhebbers nuwe wêrelde in boeke voor te stel.”

Rachelle Cilliers se vyf Kerskous-boekaanbevelings:

1.The year of the locust deur Terry Hayes, uitgegee deur Penguin. Dit is die meesterlike Hayes se opvolgboek na I am pilgrim. Hy skryf aksieboeke waarin sy helde en heldinne in storieknope en intriges ingetrek word. Oorsponklik eerder ’n bekroonde draaiboekskrywer, ken hy die kuns om ’n leser te boei.

2. Jan Braai vir kinders: ’n Nuwe reeks boeke uit die Suid-Afrikaanse bekende TV-braaikoning se pen in ’n formaat vir kinders om so met die lees ook te leer braai word deur Penguin Random House uitgegee en verkoop teen R250 per boek. Die dikker kinderuitgawe op sterk karton wys die jong klomp op ’n maklike manier hoe om om snoepgoed soos braaibroodjies te maak, maar ook om ’n vleisie behoorlik met ’n braaivurk om te draai. Die bonus is hulle leer ook hoe om te spel en sinne rondom hierdie tipiese Suid-Afrikaanse tradisie te maak.

3. Easy Al Fresco deur Ilse van der Merwe uitgegee deur Penguin Random House. As jy self lief is vir kook, ken jy dalk die baaskok se vorige boeke Simply Seafood en Cape Mediterranean. Dis ’n ideale geskenk vir diegene wat jy weet lief is om te eksperimenteer in die kombuis met nuwe geregte, bestanddele en kossmake. Van der Merwe gee raad vir buitelug-etes en terselfdertyd beveel sy geregte aan om tydens ’n wandeling in die natuur voor te berei met min moeite.

4.Tom Lake deur Ann Patchett uitgegee deur Bloomsbury en versprei deur Jonathan Ball in SA. Vir fynproewer fiksieliefhebbers wat lui-lui wil ontspan en van als om hulle wil vergeet, is hierdie briljante verhaal van drie susters verpligte leeesstof. Die gesin moet deur die pandemie kophou om die verhoudings tussen mekaar, hul uitgebreide familie en gesinne bymekaar te hou. Die verhaal gaan ook oor die lewens van ouers voor hulle kinders verwelkom. Vir almal wat lief is vir verhoudingsverhale en familiesagas.

5. Hans kry troukoors geskryf deur Rudie van Rensburg en uitgegee deur NB Boeke. Dis die opvolg op Hans steek die Rubicon oor. As jy jou heerlik wil verkneuter aan ouer word met ’n vonkel in die oog, is die pittige en gevatte opvolg en vyfde boek in die reeks beslis jou keuse vir die Kerskous vir jouself!
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
