Savannah-bond sluit 50 jaar na oorlogsoperasie se aanvang
Na meer as twee dekades sluit die Bond van Savannah Veterane hul tyd as veterane-organisasie met ’n finale gedenkseremonie by die Voortrekkermonument af. Die besluit eer gevalle makkers en ’n gedeelde geskiedenis, met simbole rondom die bond se bestaan wat aan die Pro Patria-museum toevertrou sal word.
In die meer as twee dekades sedert die stigting van die Bond van Savannah Veterane, het tyd sy tol begin neem.
Die bestuurskomitee het besluit dat die reünie in September vanjaar die gepaste oomblik sou wees om die bond se werksaamhede mee af te sluit, met ’n finale gedenk- en ontbindingseremonie.
Só sê Renaud Booysen, voorsitter van die bestuurskomitee, oor die emosionele maar waardige afsluiting van die bond wat tydens ’n parade op 7 September by die SA Weermag Muur van Herinnering, geleë op die erfenisterrein van die Voortrekkermonument, sal geskied.
Die seremonie vind plaas teen die einde van die bond se laaste reünieweek, ’n week gevul met herinnering, kameraadskap en ’n diepe gevoel van dankbaarheid, én verlies.
Volgens Booysen was Operasie Savannah, wat tussen 3 September 1975 tot 27 Maart 1976 plaasgevind het, deel van die tydperk rondom die aanvang van die Grensoorlog.
Net minder as 3 000 weermagtroepe is destyds ontplooi.
Hierdie troepe het bestaan uit ’n mengsel van Staandemaglede, dienspligtiges en burgermagelemente.
“Vir die Suid-Afrikaanse Weermag was dit die eerste groot operasie sedert die Tweede Wêreldoorlog,” sê hy. “Vir baie van ons was dit nie net ’n militêre ontplooiing nie, maar die begin van ’n lewenslange verbondenheid.”
Tydens Operasie Savannah het die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) uitgestyg in beweegbaarheid en om die vyandelike troepe te verras, maar ook swaar taktiese verliese gely.
Dit was ook die weermag se eerste groot ervaring van gemeganiseerde oorlogvoering in die Afrika-bos.
Belangrike lesse is geleer oor ontoereikende wapentuig en voertuie, wat gelei het tot vinnige ontwikkeling van sterker toerusting.

Operasie Savannah het in Angola plaasgevind, spesifiek in die suide en sentrale dele van die land.
Die doel was om die Nasionale Unie vir die Totale Onafhanklikheid van Angola (UNITA) en Die Nasionale Bevrydingsfront van Angola (FNLA) groepe te ondersteun teen die MPLA (Volksbeweging vir die Bevryding van Angola), wat deur die Sowjetunie en Kuba ondersteun is.
Die operasie het SAW-troepe diep in Angola geneem tot naby die hoofstad, Luanda, voordat hulle uiteindelik onttrek het.
Die troepe het ná hul diens hul gewone lewens hervat. Baie van die dienspligtiges het hul diens voltooi en ’n nuwe toekoms aangepak.
Met die verloop van tyd, veral toe Staandemaglede aftree-ouderdom bereik het, het ’n nuwe bewustheid ontstaan.
“Baie van ons het begin besef hoe geseënd ons was om terug te keer,” verduidelik Booysen, “terwyl sommige van ons vriende en kennisse nie dieselfde voorreg gehad het nie. Die verpligting om die operasie te gedenk en ons makkers te onthou, het só ontstaan.”
Met die deelname aan ander veterane-organisasies se gedenkparades het daar iets uniek begin vorm in die harte van die groep oud-troepe: ’n gemeenskaplike gees wat gespruit het uit gedeelde ervarings en verlies.
Hierdie Savannah-gees, soos Booysen dit noem, het op 16 Maart 2002 ’n tasbare gestalte aangeneem met die stigting van die bond.
Dit het gou ’n tradisie geword om ’n jaarlikse Savannah-reünie te hou op die Saterdag voor die RMVO (Raad vir Militêre Veterane Organisasies) se gedenkdiens, wat op die naaste Sondag aan 3 September by Fort Klapperkop gehou is.
Die Troepiestandbeeld daar het as simboliese fokus gedien.
Met die stigting van die SA Weermag Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument, is die RMVO se diens uiteindelik na dié meer sentrale plek verskuif.
Die Savannah Bond het gevolglik besluit om hul jaarlikse gedenkdiens ook daar te hou, en op 13 September 2015 is ’n spesiale gedenkteken ingewy tydens die 40-jarige reünie: ’n 1m hoë hoefangel (vierpuntdoring) – ’n gepaste simbool van binding, volharding en krag.

“Die hoefangel het vir ons geword wat ’n vlag vir ’n nasie is, ’n tasbare simbool van eenheid,” sê Booysen.
Met die verbygaan van jare het lede begin wegval; name is bygevoeg op die herinneringsmuur, en die opkoms by byeenkomste het afgeneem.
Die bestuurskomitee het dus besluit om in die gees van waardigheid en eer die bond te ontbind tydens vanjaar se herdenking van Operasie Savannah.
Booysen sê die besluit is nie ligtelik geneem nie, maar dit was in lyn met die grondwetlike bepaling van die bond, wat reeds voorsiening gemaak het vir ’n waardige afsluiting wanneer die tyd reg is.
“Die geestelike waarde van die bond leef voort, maar die organisasie self het sy rol vervul,” sê hy met stille trots.
Tydens die finale parade op 7 September, sal lede en hul gevalle makkers onthou word, sowel as die tasbare simbole van die bond waarvan daar afskeid geneem sal word.
Die hoefangel, die banier en die kanondop, almal simbole van ’n gedeelde geskiedenis, sal aan die bestuur van die Pro Patria-museum by Fort Schanskop op die Voortrekkermonument se terrein oorhandig word waar ’n glaskas reeds vir hul bewaring voorberei is.
Volgens Booysen sal Savannah-veterane steeds tydens die jaarlikse RMVO-diens hulde kan bring aan gevalle makkers.
“Baie van ons lede woon nie in Pretoria nie, maar keer jaarliks terug vir hierdie diens. Dié tradisie gaan vanjaar voort net soos die gees van Savannah,” sê hy.
LEES OOK: Afrikaans word 100: Pretoria-inwoners besin oor ’n eeu van die taal en identiteit
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
