Local news

Afrikaans word 100: Pretoria-inwoners besin oor ’n eeu van die taal en identiteit

Inwoners kyk na Afrikaans se 100-jarige reis deur sy evolusie, diversiteit en kulturele impak te vier.

Na die eeufees-vieringe van 8 Mei het Pretoria-inwoners besin oor wat Afrikaans as taal vir hul beteken.

Die kulturele mylpaal word wyd gevier, en het ook tot gevolg gehad dat inwoners nog verder daaroor besin.

Die eeufees is meer as net ’n herdenking in woorde, maar ’n viering van identiteit, evolusie en veerkragtigheid.

Rekord het met skrywers, kulturele voorstaanders en stemme uit die gemeenskap gepraat oor wat hierdie mylpaal vir hulle en die toekoms van Afrikaans beteken.

Rosalee Meyer, ’n Afrikaanse skrywer en digter vanaf Moreletapark in die ooste van Pretoria, sê dat die taal vir haar diep persoonlik is en so noodsaaklik is as om asem te haal.

“Dit is werklik ’n enorme voorreg om te kan leef, skryf, lees en myself in ’n taal uit te druk wat so noodsaaklik is vir my as om asem te haal,” sê sy. “Ek is ewig dankbaar aan die pioniers wat opofferings gemaak het om die platform te skep sodat Afrikaans gebore kon word en dit vorentoe aan die gang gehou het.”

As sy na Afrikaans in die moderne Suid-Afrika kyk, glo Meyer dat die taal saam met die tye behoort te ontwikkel.

“Dit is ’n kosbare mylpaal, maar Afrikaans moet van sy tradisionele kettings bevry word. Laat dit ’n nuwe en kleurvolle baadjie dra. Ons moet vir elke dialek plek maak, ophou om neulogismes af te keur en soos die jeug Afrikaans aangryp: prettig en spelerig. Sy oorsprong kom van orals af,” verduidelik Meyer.

Sy sê dat bewaring, instellings, feeste en musikante bydra tot die taal se voortlewing, maar dat individue die uiteindelike verantwoordelikheid daarvan dra.

“Hou aan om jou taal lief te hê, praat dit met trots, leer dit vir ander op ’n prettige manier. Maak Afrikaans ’n brugbouer tussen vreemdelinge.”

Nog’n inwoner, Hugo van Niekerk, sê dat die eeufeesvieringe ’n identiteits-oorwinning verteenwoordig.

“Die Afrikaanse taal is die simbool van ’n nuwe mensegroep op die Afrika-kontinent wat groot uitdagings getrotseer het om sy eie identiteit en mandaat te vestig.”

Hy glo dat hierdie mylpaal ook verdere inspirasie bied.

“In die moderne Suid-Afrika, dien hierdie mylpaal as herinnering aan elke taalgroep om hul identiteit te vier. Dit is die sleutel om ’n verenigde Suid-Afrika te bou,” verduidelik Van Niekerk.

Hy doen ’n beroep om wyer pogings om die taal te behou.

“Meer behoort gedoen te word om Afriaans en elke taal in ons land te vier en te behou. Deur om ons diversiteit met ope arms te aanvaar, kan ons ons wonde uit die verlede herstel en ’n gesamentlike toekoms bou.”

Wyk 85 stadsraadslid, Jacqui Uys, sê dat haar kultuur in die Afrikaanse taal gewortel is.

Sy meen dat taal en kultuur onafskeidbaar is.

“Ons kulture word in ons tale gegrond, en ’n taal groei en bly voortleef deur om akademies erken te word. Afrikaans het oor die afgelope 100 jaar aangehou ontwikkel, wat ons kultuur laat voortleef het. ”

Sy beklemtoon dat Afrikaans ’n unieke diversiteit het.

“Afrikaans het ’n ryk en komplekse geskiedenis, met verskillende kulturele en rassegroepe wat dit aktief praat. Inisiatiewe soos die Afrikaans 100-toer het gehelp om hierdie groepe byeen te bring, en herinner ons daaraan dat wanneer ons gemeenskaplikhede vier, vind ons dat daar eenheid is in ons diversiteit.”

Uys sê egter dat daar voortdurende uitdagings is.

“Afrikaanse kulturele organisasies is sterk, maar hulle staar finansierings-beperkings in die gesig en kort regeringsondersteuning.”

Afrikaans se 100ste verjaarsdag word met verskeie vieringe gemerk. Die Federasie van Afrikaanse Kultuur (FAK) se Liedjietuin by die Voortrekkermonument het die Afrikaans100 bordspeletjie geloods, wat bedoel is om beide prettig en opvoedkundig te wees.

“Enigiemand, jonk en oud, kan saamspeel. Of dit nou oumas en oupas is, of kinders so jonk as 10, almal kan die speletjie geniet. Enigiemand wat lief is vir Afrikaans of wat meer daaroor wil leer, sal dit regtig geniet,” sê Nico Steyn, operasionele bestuurder by Sputnik Board Games.

Steyn verduidelik dat die speletjie in samewerking met die FAK ontwikkel is.

“Ons het verlede jaar besluit om ’n bordspeletjie te skep om Afrikaans se 100ste verjaarsdag te herdenk. Ons wou iets gehad het wat genotvol is wat die spelers ook help om meer van ons te taal te leer, en sodoende die omvang en waardering daarvan uit te brei.”

LEES: Stylvolle romantiek wenner se ontwerpstyl

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button