Jaid River: ’n Rustige liedjiestroom van stories
’n Talentvolle Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer deel nostalgiese, emosionele musiek. Haar nuwe EP 'Marionet' en debuutalbum, Verlanger, reflekteer haar lewensreis, familiebande, en soeke na betekenis in ’n onseker wêreld.
Jeanlie Minnie, beter bekend as Jaid River, is ’n talentvolle sangeres en liedjieskrywer wie se musiek en lirieke nostalgies en intens is met ’n diep emosionele aanslag.
Met haar nuwe kortspel-enkelsnit, “Marionet”, wat op 8 Augustus verskyn het en ’n musiekvideo wat in Mei by die Pierneefteater opgeneem is, is die donkerkop van Centurion besig om ’n merkwaardige voetspoor in die Suid-Afrikaanse musieklandskap te laat.
Haar musiek is vol van die soeke na betekenis in ’n wêreld vol onsekerhede.
“Die Here het sekere liedjies vir my gegee om aan te gee. Ek skryf nie net om te vermaak nie, maar om iets te sê van jou ontdekkings en ondervindings in die lewe.”
Haar verhoognaam, Jaid, is ’n kombinasie van die name van haar vier susters, ’n teken van die hegte familiebande wat sy koester.
Van kleins af was musiek ’n groot deel van haar lewe. Haar ouers, Gerhard en Annelie, was altyd ondersteunend en die susters is almal kunstig op hul eie manier.

Die gesin se musikale grondslag het vir Jaid ’n ruimte geskep waarin sy kon groei en haar passie vir musiek ontdek.
Sy vertel: “My pa het my vertel dat ek al op drie- of vierjarige ouderdom gesê het daar is liedjies in my kop. Ek dink dis toe my liefde vir musiek begin het.”
Sy het van graad 1 klavierlesse begin neem, op 10 jaar haar eerste liedjie geskryf, en op 11 jaar begin kitaar speel. Dit was ’n natuurlike proses, volgens haar.
“Aan die begin het ek baie lirieke en liedjies geskryf, maar nie noodwendig baie goed nie. Mettertyd, het dit meer intensioneel geword. Ek het veral met die nuutste projek met ’n baie spesifieke tema ingedagte geskryf.”
Sy het die kans gehad om musiek formeel aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie te studeer, en het tydens haar studies waardevolle ervaring opgedoen by LittleBig Studio.
Sy het die voorreg gehad om na opnames van ander kunstenaars te luister en met hulle te meng. Veral die talentvolle en gewilde kunstenaar en liedjieskrywer Joshua na die Reën (Jacques de Villiers), ’n mentor en goeie vriend in haar lewe, het ’n impak op haar musiek en kunstenaarskap gehad.
Jaid deel: “Jacques is vir my ’n mentor in musiek sowel as menswees. Ek het al baie by hom en sy orkeslede geleer oor die laaste tien jaar.”
’n Gevoelvolle ballade-aanslag kenmerk haar klank en van haar liedjies.
Haar debuutalbum Verlanger is ’n introspektiewe en nostalgiese blik op die vrae wat sy oor jare oor haar nalatenskap hier op aarde en haar plek in die wêreld het.
Sy noem die album ’n soort brief aan haarself vol van besinning oor tyd, hoop en die wêreld rondom haar.
Sy sê: “Ek dink ons kyk baie keer so vas in wat was of wat nog moet kom dat ons dit wat hier en nou voor ons staan miskyk. Verlanger is vir my ’n herinnering om in die oomblik te leef.”
Hierdie album het sy oor tien jaar geskryf en is ’n eerlike refleksie van haar innerlike reis.
Sy voel “Marionet” getuig van haar groei as liedjieskrywer en kunstenaar.

Die titel verwys na die idee van beheer en vryheid, ’n terugkerende tema in haar werk.
Sy vertel dat hulle hierdie liedjie drie keer van voor af moes vervaardig voordat hulle die regte stemming daarvoor gevind het.
“Die verwerking en vervaardiging van ’n liedjie vertel saam met die lirieke die storie. Om te skryf is vir my baie persoonlik, maar een liedjie kan ook iets anders beteken vir elkeen wat dit hoor,” beklemtoon sy.
Haar musiek is nie bedoel om in een kategorie te pas nie. Die melodieë en lirieke draai eerder rondom die waarhede van menswees en emosies in elke lewensfase.
Jaid se orkes sluit in die talentvolle Jaco Smit, wat ook haar vervaardiger is, saam met Manelisi Mdaka op baskitaar en Jason Moser op dromme.
Sy besef dat die lewe as solomusikant soms stresvol is, maar die span maak musiek-ervarings vir haar ryk en vol kleur.
Buiten haar loopbaan as uitvoerende kunstenaar, gee sy ook musiekklasse, waar sy graag ook van haar studente leer en haar passie vir musiek en selfvertroue oordra.
“Kinders sien die lewe net anders. Ek leer elke dag by my studente en dis ’n voorreg om dit wat ek oor die jare geleer het te kan oordra.”
Sy benadruk dat die onvoorspelbaarheid van die musiekbedryf nie altyd maanskyn en rose is nie, maar sy kies dit keer op keer.
Geduld, haar eie en die van andere, is ook ’n belangrike deel van haar skeppende proses.
Sy waardeer die ondersteuning en die tyd wat haar musikale kollegas met haar spandeer om haar werk te help vorm.
“Ek is mal daaroor om saam met ander musikante te werk. Ek voel ons kan altyd iets bymekaar leer en dis soveel lekkerder om dit saam met mense te doen.”
Sy, Jaco Smit en Thys Nortje het ook n gesamentlike projek genaamd Die Singkamer wat hulle einde 2022 vir die eerste keer uitgevoer het.
Daar was intussen nog twee vertonings waar hulle vir Joshua Na Die Reën en Leon Gropp as gaskunstenaars gehad het.
“Ons herverwerk almal se oorspronklike musiek en doen ook ’n paar bekende treffers. Die idee is ook om elke keer ’n tipe storielyn te hê wat deur die vertoning loop.”
Sy is beslis ’n kunstenaar wat nie net musiek maak nie, maar ’n brug bou tussen mense, hul stories en hul drome.
“Dalk, net dalk, inspireer ek ook iemand anders om hul storie te vertel.”
– Jaid River se volgende optrede is op 13 September by The Green Olive Village in Pretoria Noord.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
