Local news

Kruger-miljoene ontmasker, Park-naam geskiedkundig geregverdig

Paul Kruger het nie self die Krugerwildtuin sy naam gegee nie, maar wel die grondslag gelê vir die vestiging daarvan. Die Kruger-miljoene bly ’n mite; die goud is vir oorlogskoste gebruik. Kruger se nalatenskap leef voort in versamelstukke wêreldwyd. Sy invloed en beeld bly steeds prominent, selfs twee eeue later, in kultuur en geskiedenis.

Oud-president Paul Kruger het ironies genoeg weinig te doen gehad met die benaming van die Kruger Nasionale Park, al word sy naam vandag daarmee vereenselwig.

Daar was ook nooit sprake van sogenaamde ‘Kruger-miljoene’ nie, en Kruger-memorabilia wissel van ernstige herdenkingsitems tot humoristiese voorwerpe.

Só het drie sprekers tydens ’n spesiale Kruger Nalatenskap-seminaar op 7 Oktober die geskiedenis rondom die charismatiese staatsman in perspektief geplaas.

Die seminaar is deur die Ditsong Kruger Museum onder die leiding van Jaco Schoonraad en Mariet Conradie aangebied, ter viering van Kruger se 200ste geboortedag.

Jaco Schoonraad en Mariet Conradie van die Ditsong Kruger-museum het die werksessies en seminare rondom die vieringe van Paul Kruger se herdenking van sy 200ste verjaarsdag gekoördineer in die Ou Raadsaal op Kerkplein en by die Kruger-museum.

Die geleentheid is in die setel van die destydse Zuid-Afrikaansche-regering, die Ou Raadsaal langs Kerkplein in die middestad, aangebied.

Een van die hoofsprekers, professor Louis Changuion, het die ontstaan van die Kruger Nasionale Park geskets aan meer as 60 gaste, onder wie museumkundiges, historici, erfenisbewaarders en Kruger-geesdriftiges.

Volgens Changuion dink mense dikwels dat die naam ‘Kruger Nasionale Park’ sinoniem is met Afrikaner nasionalisme en deur Kruger self bepaal is.

“Paul Kruger het niks met die benaming van die park te make gehad nie, maar wél veel met die totstandkoming daarvan. Die proklamasie van die park was in 1926 en Kruger het in 1904 gesterf.”


Talle van die Ditsong Kruger-museum se vieringe rondom die 200-jarige vieringe van Paul Kruger se verjaarsdag het rondom Krugerhuis in Kerkstraat gedraai en ook ’n spesiale begeleide toer van Kerkplein en omliggende historiese geboue soos die huis ingesluit.

Kruger het in 1898 die Sabie-wildreservaat geproklameer ná ongekende wild-uitwissing in die Laeveld. Hy het ook die Shingwedzi-reservaat aan die noorde verklaar, ondanks teenstand van grondeienaars.

Ná die Tweede Vryheidsoorlog is James Stevenson-Hamilton in 1902 as eerste hoofveldwagter aangestel. Hy het streng opgetree teen stropers, jagters en selfs inheemse bewoners, wat hom die bynaam ‘Skukuza’ besorg het, wat ‘hy wat skoonvee’ beteken.

Die idee vir die naam Kruger Nasionale Park is eers in 1925 geopper deur die kunstenaar en lid van die park se propagandakomitee, Harry Stratford Caldecott, tydens ’n gesprek met Stevenson-Hamilton.

Caldecott het daarop gewys dat die eerste reservaat reeds in 1898 deur Kruger geproklameer is en die proklamasiedokument deur hom onderteken is.

Die naam is toe op sterkte hiervan voorgestel en in 1926 amptelik aangeneem.

Changuion het afgesluit: “Ironies genoeg is dit nou een van die name wat sekere politici in 2025 wil verander net voor die park se 100ste bestaansjaar.”

Vir meer as ’n eeu word daar bespiegel oor die sogenaamde Kruger-miljoene, ’n skat van stawe goud, goudmunte en onverfynde goud wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog uit Pretoria verwyder is en toe volgens talle skatjagters spoorloos verdwyn het.

Bekende historikus Fransjohan Pretorius het egter slegte nuus gehad vir diegene wat steeds aan mites rondom die Kruger-miljoene vashou.

“Die stories hierrondom word nog tot vandag versprei, maar hierdie miljoene is nie deur Kruger na Europa geneem of in ou mynskagte in die Laeveld weggesteek nie. As daar wel nog so ’n skat was en ons geskiedkundiges het dit wel ontdek, het ek vandag hier by Kerkplein met ’n Ferrari aangekom,” het Pretorius gespot en die geskiedenis geskets wat tot die raaisels rondom die legendariese skat gedraai het.

Volgens historici is groot hoeveelhede goud, ponde en muntplaatjies kort voor die Britse inval in Pretoria in Junie 1900 uit die Munt en De Nationale Bank verwyder.

Die taak is aan generaal Jan Smuts toevertrou, wat na bewering gesukkel het om die direkteur van die Staatsbank te oortuig om die fondse oor te gee. Die Switserse boekhouer van die Munt, Eduard Meyer, het op 2 Junie 1900 besef daar is geen plan om die goud betyds te verwyder nie.

Op 4 Junie 1900 is die goud haastig onder polisiebewaking op ’n spesiale trein gelaai en na Machadodorp geneem, die nuwe setel van die Zuid-Afrikaansche regering.

Verskeie bronne meld dat uitbetalings aan skuldeisers wat oorloggoedere verskaf het, direk vanaf die trein in Machadodorp gemaak is. Die kommandolede se soldy is ook uit hierdie geld betaal.

“Die goud is ook vanaf die stasie per ossewa vervoer en vir die oorlog se finansiering en die vereffening van die regering se skuld aangewend,” het Pretorius beaam.

Dr. Nicol Stassen, bekroonde skrywer van talle boeke oor veral die Afrikaners se geskiedenis as trekkers, het oor sy eie en ander private versamelings van Kruger-memorabilia gesels.

Stassen het onderhoudend vertel van sigarette onder die Kruger-handelsmerk wat steeds in die Kanarie-eilande bemark word, pype met Krugerkoppe wat internasionaal gesog in versamelings van pype is en ’n Kruger-handelsmerkbier wat nog vandag in Gent te koop is.

“Paul Kruger was die bekendste mens van sy tyd. As hy vandag geleef het en op sosiale media ’n teenwoordigheid gehad het, sou hy duisende volgelinge gehad het,” glo Stassen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Elize Parker

Back to top button