Local news

Moot-engele in aksie

Die onderneming sonder winsbejag, Angels for the Community, gelei deur Ina Barnard, ondersteun die gemeenskap van East Lynne met projekte. Soos die kersklappers-inisiatief en bewusmakingsdae met die hoop om armoede te verlig en hoop te bring deur betrokkenheid, bewusmaking en basiese hulp aan kwesbare gesinne en kinders.

In die hart van East Lynne staan Angels for the Community uit as ’n baken van hoop en ondersteuning vir mense in nood.

Hierdie organisasie sonder winsbejag, formeel geregistreer vanjaar, het ’n eenvoudige maar kragtige roeping: om die lewe van die gemeenskap se mees kwesbare lede te verbeter deur medemenslikheid, ondersteuning en gesamentlike betrokkenheid.

Aan die stuur van hierdie toewyding staan Ina Barnard, ’n deernisvolle leier met ’n hart wat diep klop vir haar gemeenskap en ’n visie wat leef in elke projek wat hulle aanpak.

Ina Barnard het grootgeword in East Lynne, en haar verbintenis met die gebied se lief en leed is persoonlik.

Sy is ’n oudleerder van Hoërskool FH Odendaal en werk voltyds vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.

Sy is getroud met Willy Barnard, wat ook ’n lang tyd in die gemeenskap woonagtig is en by talle welsynsaksies betrokke was. Hy ondersteun haar en die span by die organisasie.

“Ons span is een van die mees toegewyde welsynspanne met wie ek nog gewerk het,” sê Barnard met trots.

“Elkeen van ons het unieke eienskappe en ons dien die gemeenskap daarmee. Ons het verskeie projekte en met elke projek is daar ’n projekbestuurder wat verantwoordelik is vir haar gedeelte, maar ons help mekaar met alles.”

Die organisasie se projekte is wyd en uiteenlopend, maar almal deel ’n gemeenskaplike doelwit om armoede te verlig en mense ’n kans te gee om ’n inkomste te verdien.

Een van die toekomstige projekte van Angels for the Community is ’n inisiatief waar lede leë toiletrolletjies insamel. Hierdie rolletjies word dan gevul met iets soets en soos kersklappers toegedraai om tydens hul Kersprojekte uitgedeel te word.

Die organisasie het ’n fondsinsamelingsprojek geloods waar mense teen ’n klein koste kan raai hoeveel kersklappers teen die einde van November gemaak gaan wees.

Op ’n groter skaal hou Angels for the Community gereeld byeenkomste om bewusmaking te bevorder oor belangrike kwessies soos outisme en geestesgesondheid.

’n Voorbeeld hiervan is die gesamentlike bewusmakingsdag wat hulle met die North Gauteng Mental Health Society op 11 Oktober gehou het. Dit was ’n gebeurtenis wat spesifiek daarop gemik was om ondersteuning aan gesinne met kinders wat spesiale behoeftes het, te bied.

Barnard voel hierdie tipe gemeenskapsbetrokkenheid dra nie net by tot ’n beter begrip en ondersteuning van mense in nood nie, maar ook tot ’n groter gevoel van samehorigheid in East Lynne.

Sy het haar dank uitgespreek teenoor die talle organisasies en besighede wat die dag en uitstallings moontlik gemaak het.

Sy noem dat daar vir hulle ondersteuningsprojekte ’n daaglikse behoefte is aan basiese items soos seep, sjampoe, tandepasta, tandeborsels en haarborsels sowel as kos.

Barnard voel dit is nie genoeg net om nood te verlig nie, maar om inwoners se waardigheid te herstel.

Verder werk die organisasie ook hard om mense te bemagtig deur hulle te help glo in hulself en toegang te gee tot berading, maatskaplike dienste, rehabilitasie en ander hulpbronne.

“Ons werkloosheid in die buurte van East Lynne is hoog en dit lei dikwels tot misdaad,” verduidelik sy “maar met projekte kan mense ’n inkomste kry en ’n beter toekoms sien.”

Sy beklemtoon die belangrikheid van daaglikse betrokkenheid in die gemeenskap: “Om elke dag betrokke te wees in die gemeenskap raak ons bewus van daagliks behoeftes van die gemeenskap en kan ons hulp waar nodig reël.”

Hierdie deurlopende betrokkenheid bou ’n basis van vertroue, voel Barnard.

Barnard hoop om hul administrasie te verbeter deur ’n rekenaar en drukker as ’n donasie te kry wat sal help om hul werk meer doeltreffend te maak.

“Ons wil ’n familie van werkers wees wat vir mekaar en vir hul gemeenskap omgee.”

Kontak Ina Barnard by Angels for the Community 064 829 4613 of by [email protected] vir verdere inligting.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button