Local news

Straatligte en waterpype kry broodnodige opknapping

In die Moot is struktuurverbeteringe aan die gang. DA-raadslid Frans Smith sê nuwe waterpype in Moultonlaan is vervang, en straatligte word deur die Blou Lint-projek herstel. Kobus Scheltema van Gezina sê die projek bring weer hoop aan inwoners.

Die Moot ervaar tans ’n broodnodige oplewing met projekte gemik op die vervanging van infrastruktuur, met die fokus op waterpype, straatligte en algemene opknappingswerk.

Een van die suksesse van die jaar was die vervanging van verouderde waterpype in Moultonlaan, ’n projek wat deur baie inwoners verwelkom is.

Volgens DA-raadslid Frans Smith is die projek ’n duidelike voorbeeld van hoe doelgerigte samewerking tussen die stad en plaaslike gemeenskappe resultate kan lewer.

“Ons het vanjaar werklik begin om die veroudering van infrastruktuur in die Moot prakties aan te pak. Die waterpype in Moultonlaan, van Darlingstraat tot Codoniastraat, was oud, gebreek en het al begin disintegreer. Hulle is nou volledig vervang en in werking gestel,” sê Smith.

Hy het ook inwoners bedank vir hul geduld en die bystand wat vrywilligers verleen het tydens padwerke op die nabygeleë tolpaaie van die N4.

“Ons inwoners het saamgestaan om Bakwena te help tydens padwerke om probleme op die grond te rapporteer. Dit wys dat dienslewering moontlik is wanneer gemeenskappe betrokke raak,” voeg hy by.

Maar hoewel daar vordering is, is daar nog baie werk oor veral met straatligte wat nie werk nie. In baie strate van die Moot is ligte buite werking, of selfs sonder gloeilampe.

Dit het aanleiding gegee tot die sogenaamde Blou Lint-projek, wat deur die DA in samewerking met plaaslike inwoners aangepak word.

Kobus Scheltema van Gezina, een van die DA-vrywilligers betrokke by die projek en takvoorsitter van Wyk 53, vertel dat die span saans strate besoek om elke straatlig te inspekteer.

“Dag of nag, ons is aan die werk. Dit was ’n voorreg om saam met wykraadslede te help om al die straatligte wat nie werk nie, te identifiseer en te rapporteer. Sommige het nie eens gloeilampe nie. Ons het met die mees onlangse Moot-oudit van straatligte in ’n aand meer as 84 straatligte getel wat so gou moontlik herstel gaan word,” sê Scheltema.

Die Blou Lint-projek is eenvoudig maar doeltreffend: pale met onaktiewe straatligte kry ’n blou lint, sodat hulle maklik geïdentifiseer en vir herstel by die metro aangemeld kan word.

Blou linte word rondom straatligte wat nie werk nie se lamppale gebind tydens ‘n oudit van gebreekte straatligte in die Moot. Foto: Verskaf

Volgens Scheltema is linte aan pale reeds aangebring in Eloffsdal, Les Marais en dele van Rietfontein.

“Ons sien dat die ligte soms vir ’n paar dae aan is na rapportering en dan weer afgaan, maar ons monitor dit aanhoudend. Die groter probleem lê by die verouderde infrastruktuur wat dringend opgeknap moet word,” verduidelik hy.

Hy voeg by dat daar ’n groot behoefte is aan moderne oplossings, soos sonkragligte, veral in ouer woonbuurte waar elektrisiteitslyne dikwels oorlaai of beskadig is.

“Ons het sonkragligte nodig in hierdie ouer dele van die Moot. Inwoners is moedeloos, maar die Blou Lint-projek gee hulle weer hoop. Dit wys dat iemand wel omgee,” sê Scheltema.

Elke straat word stap vir stap snags geïnspekteer, en verwysingsnommers word opgestel om foutiewe ligte by die stad aan te meld.

Hierdie sistematiese proses help die metro om ’n meer betroubare diens te lewer en maak dit vir inwoners makliker om op hoogte te bly van herstelwerk.

Volgens Smith is daar ook ’n verbetering in die reaksie vanaf die stadsbestuur.

“Ons het goeie hoop gekry met ’n nuwe aanstelling in bestuur van Streek 3. Die persoon het persoonlike verantwoordelikheid geneem na ’n gesprek waarin ons versoeke vir straatligte en ander herstelwerk bespreek het. Nou kan ons versoeke direk aanstuur en word daar vinniger opgetree,” sê hy.

Kobus Scheltema en Bongani Gama Foto: Verskaf

Smith wys egter daarop dat die probleem met straatligte dikwels dieper lê as net onderhoud.

“Daar is gevalle waar ligte gesaboteer word. Die klappie aan die onderkant van die paal word oopgemaak en drade word uitgetrek. Sulke pale moet heeltemal herbedraad word. Verder is kabeldiefstal ’n groot uitdaging, en ek is bekommerd dat daar nie altyd behoorlike beheer by depots is oor kabels wat uitgeboek en terugbesorg word nie. Ek gaan daarop aandring dat daar ’n ondersoek gedoen word oor kabelbeheer,” sê Smith.

Die pad vorentoe vir die Moot se infrastruktuurverbeteringe lyk uitdagend, maar vol moontlikhede.

Volgens raadslid Wayne Helfrich is dit belangrik dat sulke projekte nie net voor verkiesings plaasvind nie, maar deurlopend voortgaan.

“Ons moet hierdie projekte aanpak, selfs al is daar nie ’n verkiesing nie, want dit gaan oor mense, oor inwoners wat elke aand in donker strate ry of loop. Hulle maak saak,” sê Helfrich.

Terugvoer van inwoners oor die projekte is gemeng. Sommige is bly om te sien dat daar uiteindelik beweging is, terwyl ander vra wanneer hul strate aan die beurt sal kom.

Nietemin bring die Blou Lint-projek nuwe hoop.

“Ons vra inwoners om saam met ons te werk. Wanneer ons deur die strate gaan en die linte vasmaak, moedig ons ook mense aan om die aanlyn petisie te teken vir werkende straatligte in die Moot. Sodoende kan ons meer ligte rapporteer en herstelwerk versnel,” sê Scheltema.

Die DA-span beplan om volgende Deerness, dele van Rietfontein en Riviera aan te spreek. Teen die einde van die jaar wil hulle hê dat elke buurt in die Moot ’n duidelike herstelplan vir straatligte moet hê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button