Local news

Metro respekteer loonuitspraak; opposisie meen dit mag krisis veroorsaak

Vakbonde verwelkom die besluit van die metro om nie teen die salarisverhogings te appelleer nie, maar opposisiepartye waarsku dat dit die metro se finansies en dienslewering in die wiele sal ry.

Die Tshwane-metro bevestig dat dit nie teen die beslissing van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsbedingingsraad sal appelleer om terugwerkende 2021/22-salarisverhogings aan munisipale werkers te betaal nie.

Die aankondiging volg die raad se verwerping van die metro se aansoek om vrystelling om die 3.5%-verhoging toe te pas waarop ooreengekom is in die nasionale salaris en loon-kollektiewe ooreenkoms.

Adjunkburgemeester en raadslid vir Finansies, Eugene Modise, sê die metro respekteer dié uitkoms en sal nou saamwerk met georganiseerde arbeid om praktiese en volhoubare maniere te vind om die beslissing toe te pas.

“Na volledige oorweging van die uitspraak en die aangeleenthede wat voorgelê is, sal die stad nie ’n appèl of hersiening van die bedingingsraad se belissing nastreef nie,” sê Modise.

“Ons respekteer die uitkoms van die proses en verbind ons steeds daaraan om die beginsels van kollektiewe onderhandeling, goeie bestuur en arbeidstabiliteit te handhaaf.”

Modise sê dat die metro met die vakbonde sal skakel om te verseker dat die implementeringsproses beide aan die metro se finansiële realiteit voldoen en ook dit in ag neem.

Hy sê die proses sal ook regverdigheid prioritiseer terwyl dit verseker dat dienslewering nie in gevaar gestel word nie.

Hy beskryf munisipale werknemers as ‘die ruggraat van doeltreffende dienslewering’ en bevestig die administrasie se verbintenis daaraan om hul regverdig te behandel en te ontwikkel.

Die DA het egter die besluit om nie te appelleer nie sterk veroordeel, en waarsku dat die bedingingsraad se uitspraak ‘wetlik gebrekkig en finansieel katastrofies’ is.

DA Tshwane-woordvoerder Jacqui Uys sê die uitkoms mag verwoestende gevolge vir dienslewering en infrastruktuur-instandhouding beteken indien dit nie betwis word nie.

“Die besluit deur die raad om teruggewerkte salarisverhogings aan metro-amptenare toe te ken is nie net wetlik gebrekkig nie – dis finansieel katastrofies,” sê Uys.

“Indien dit nie hersien word nie, sal inwoners vir die beslissing betaal in die vorm van agteruitgaande dienslewering en infrastruktuur.”

Uys sê die DA se grootste kommer lê in bekostigbaarheid.

Sy verduidelik dat vroeër vanjaar die metro suksesvol in die Arbeidshof die argument voorgelê het dat dit nie kon bekostig om 5.6%- salarisverhogings vir die 2023/24 finansiële jaar te betaal nie.

“Die hof het beslis die bedingingsraad het homself mislei deur om af te lei dat die stad daardie onkoste kon absorbeer.”

Luidens Uys, is dieselfde beginsel van toepassing op die 2021/22-salarisverhogings.

Sy sê dat die toekenning van die 3.5% teruggewerkte aanpassing die metro ten minste R1.4-miljard eenmalig sal kos, met ’n bykomde R400-miljoen in herhalende jaarlikse uitgawes daarna.

“Die kommissaris wat die uitspraak gelewer het gee toe dat die finansiële gevolge absoluut enorm sal wees maar versuim om vas te stel of die stad dit eintlik kan bekostig,” sê Uys.

“Die metro het sterk gronde om hierdie beslissing op geregtelike hersiening te neem. Om dit nie te doen nie sal Tshwane se hele finansiële herstel in die wiele ry.”

Die DA meen dat die vrystelling wat in 2023 gemaak is en deur die ANC en ActionSA gesteun is, die metro rofweg R600-miljoen gespaar het.

Die party sê dat daardie fondse die metro in staat gestel het om tot ’n deurslaggewende betalingsooreenkoms met Eskom te kom.
Uys sê dat die onlangse uitspraak dreig om hierdie vordering ongedaan te maak, en mag heel moontlik die metro in dieper finansiële nood dompel.

“Ons doen ’n beroep op die stadsbestuurder, Johann Mettler, om ’n volledige finansiële vasstelling van die gevolge van die uitspraak beskikbaar te maak,” sê sy.

Sy voeg by dat met deursigtigheid dit sal bevestig dat die teruggedateerde verhogings ‘heeltemal onbekostigbaar’ is.

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het ook ’n waarskuwing uitgereik wat sê dat die beslissing ’n potensiale ‘finansiële katastrofe’ vir die metro is.

VF Plus Tshwane-woordvoerder Grandi Theunissen sê dat die onlangse uitspraak deur die raad die metro miljarde uit die sak kan jaag as al die verwante onkoste in ag geneem word.

“Die onlangse beslissing deur die raad oor teruggedateerde salarisverhogings vir Tshwane metrowerknemers kan ’n finansiële ramp van R2-miljard vir die metro beteken,” sê Theunissen.

Hy verduidelik dat op 1 November die raad bevestig het dat die 3.5%-verhogings terugwerkend van 1 Julie 2023 tot 30 Junie 2024 is.

Hy voeg by dat die besluit nie onverwags is nie, en meen dat die bedingingsraad polities beïnvloed word.

“Die beslissing is geen verrassing nie, aangesien die voorwaardelike raad bestaan uit verteenwoordigers van die vakbonde Samwu en Imatu sowel as die Salga munisipale vereniging, wat op sy beurt onder algehele ANC-beheer is,” sê hy.

“Daar is min twyfel dat dié samestelling beteken dat politiese faktore en nie die finansiële realiteit, hierdie beslissing beïnvloed het nie.”

Die VF Plus glo dat die regerende koalisie van die ANC, EFF, en ActionSA aanhoudend die vakbonde se kant neem ten koste van die metro se fiskale gesondheid.

Theunissen verwys na die 2023 Samwu-staking, waar die koalisie na bewering simpatiek teenoor die vakbonde se eise gesind was.

Hy waarsku dat deur om toe te laat dat die verhogings voortgaan, dit ’n besluit sal wees wat gedryf is deur politieke motiewe rakende die komende munisipale verkiesings.

“Indien die regerende ANC/EFF/ActionSA-koalisie die verhogings toelaat, is dit niks anders as ’n populistiese besluit in die lig van die komende munisipale verkiesings nie, ten koste van Tshwane se finansiële oorlewing en volhoubare dienslewering.”

Theunissen sê dat die voorwaardelike raad versuim het om die metro se werklike finansiële omstandighede in ag te neem.

“Hierdie besluit sal maak dat die metro se sogenaamde ‘befondsde begroting’ uiteindelike onbefonds is,” sê hy.

“Indien die regerende koalisie hierdie stelling aanvaar en uitvoer, sal hul volle verantwoordelikheid moet aanvaar vir die finansiële ineenstorting wat sal volg.”

Die VF Plus het ’n beroep op die metro gedoen om die aangeleentheid dringend by die Arbeidshof op te neem, sodat die dispuut op ‘’n gesonde, finansieel regverdige basis’ opgelos kan word.

Theunissen sê dat die vorige koalisie-administrasie die moeilike maar verantwoordelike besluit geneem het om nie onbekostigbare verhogings goed te keur nie.

“Dit was ’n stap wat die metro die kans gegee het om finansieel te herstel. Hierdie vordering word nou deur politiese opportunisme uitgewis.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Pamela Vuba

Pamela is a junior journalist at Rekord who focuses on community news in Pretoria, particularly in the eastern parts of the capital city. Pamela writes for the Pretoria East Rekord as well as Rekord’s online platforms.
Back to top button