Veiligheidsleiers versterk nagveiligheid saam
Operation Night Watch is ’n samewerkingsinisiatief tussen wetstoepassing en privaat sekuriteit om misdaad en ander nagbedreigings tussen 18:00 en 06:00 doeltreffender te beveg deur beter toerusting, gedeelde operasies en geïntegreerde kommunikasie.
Die ondertekening van die Operation Night Watch-verklaring het ’n nuwe hoofstuk vir Suid-Afrika se veiligheidsbedryf en wetstoepassingsgemeenskappe ingelui sowel as vir die veiligheidsgemeenskap in Pretoria se buurte.
Senior verteenwoordigers van wetstoepassers en private veiligheidsmaatskappye het tydens ’n indaba op 13 November by die Zwartkop Country Club in Centurion hulself verbind om veiligheid gedurende die sogenaamde kritieke ure tussen 18:00 en 06:00 te versterk.
Hierdie ure word algemeen beskou as die kwesbaarste tyd vir stedelike misdaad, huisbrake en selfs stropery in nasionale parke.
Die doel van die verklaring is om gesamentlike optrede te bevorder om dié toenemende uitdagings die hoof te bied.
Die indaba is deur Nextorch Africa aangebied, ’n verskaffer van taktiese beligtingstoerusting, en het afgeskop met insette deur verskeie sleutelpersone in die veiligheidsomgewing.
Sprekers het onder andere ingesluit Samuel Madalane, hoof van SANParks se Veldwagters-afdeling en Operation Watchdog; Roelof Schoeman, hoof van taktiese operasies by Bidvest Protea Coin; Thys Klein, uitvoerende hoof van Genesis K9 Group; en Werner van der Westhuizen, direkteur van Nextorch Africa.
Elkeen het die toenemende noodsaaklikheid van samewerking tussen staats- en privaat instansies beklemtoon, maar ook die belangrikheid van toerusting, opleiding en tegniese innovasie wat aan die moderne risiko’s van nagoperasies voldoen.
Van der Westhuizen het verduidelik dat die kern van die verklaring lê in ’n gedeelde verbintenis tot aktiewe samewerking.
Volgens hom is “wetstoepassing, nooddienste en privaat sekerheidsmaatskappye hiermee verenig deur ’n gemeenskaplike doel: die beskerming van burgers, sekuriteitswagte en polisielede, sowel as nasionale bates. Operation Night Watch gaan oor die erkenning hiervan en die skep van ’n platform waar elke sektor sy kundigheid kan inbring en deel.”
Hy het benadruk dat ’n oop kommunikasiekanaal tussen sektore noodsaaklik is om vinniger te reageer op bedreigings en om ’n meer geïntegreerde strategie vir nagveiligheid te bou.
Suid-Afrika se misdaadstatistiek bevestig die dringendheid van so ’n strategie.
Volgens die jongste Victims of Crime Survey het daar in 2024/25 sowat 1.5 miljoen gevalle van huisbraak plaasgevind, wat meer as 1.1 miljoen huishoudings geraak het.
Die land beskik oor die grootste privaat sekuriteitsbedryf ter wêreld, met meer as 2.7 miljoen geregistreerde beamptes.
Hierdie sektor speel toenemend ’n aanvullende rol tot die SAPD, veral deurdat baie van die maatskappye diep gewortel is in gemeenskappe en dikwels beskik oor beter kennis van risiko-gebiede.
Van der Westhuizen het dit só opgesom: “Privaat sekuriteit is dikwels ingebed in gemeenskappe en kan dus waardevolle insig bied aan wetstoepassing en nooddienste. Deur ’n formele samewerkingsverklaring te onderteken, skep ons ’n direkte, praktiese skakeling tussen hierdie sektore.”
Die geleentheid is bygewoon deur verteenwoordigers van Tshwane Metro Polisie, Fire and Rescue Operations, SANParks en Bidvest Protea Coin. Daar was ook verteenwoordigers van 25 privaat sekuriteitsmaatskappye, waaronder ProShield, SDS Security, Beagle Security en Monitornet.
Nextorch Africa het militêre vlak taktiese flitse aan die teenwoordiges geskenk as deel van die verbintenis om operasionele beste praktyke te ondersteun. Die maatskappy het ook taktiese demonstrasies aangebied om die rol van gevorderde beligting in nagoperasies te illustreer, veral in gebiede waar beperkte sigbaarheid ’n direkte risiko vir beamptes en gemeenskappe inhou.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
