Local news

Metro veg teen golf van infrastruktuurdiefstal wat sleutelhulpbronne uitput

Onverpoosde diefstal en vandalisme van elektriese infrastruktuur is nie net duur nie, maar volgens die metro verhinder dit ook pogings om betroubare dienste aan inwoners te lewer.

Kabeldiefstal en peuter van infrastuktuur hou steeds verwoestende gevolge in vir die metro, met ’n beraamde jaarlikse verlies van R8–R10-miljoen.

Die metro sê hierdie misdaad put nie net openbare hulpbronne uit nie, maar ontwrig ook dienslewering en ry hul pogings in die wiele om betroubare krag aan inwoners te verskaf.

Kabeldiefstal op Cussonialaan. Foto: Verskaf
Cable theft on Cussonia Avenue Photo: Supplied/COT

Raadslid vir Nutsdienste Frans Boshielo sê dat die probleem kommerwekkende vlakke bereik het.

“Hierdie misdade jaag die stad jaarliks ’n beraamde R8–R10-miljoen uit die sak, wat direk die belastingbetalings affekteer en pogings om betroubare dienste te lewer in die wiele ry.”

Die stad teken ongeveer 2 000 gevalle aan van onbeplande kragonderbrekings elke maand oor sy sewe streke. Die sentrale streek ervaar die hoogste aantal voorvalle, gevolg deur die suidelike streek en die noordwestelike streek.

Boshielo beklemtoon dat hierdie onderbrekings ’n beduidende effek het op duisende huishoudings en besighede wat op ’n stabiele elektrisiteitstoevoer staatmaak.

“Diefstal en vandalisme van elektrisiteit-infrastruktuur is onder die hoofoorsake van onbeplande kragonderbrekings.

“Hierdie misdade maak nie net dat gemeenskappe in die donker bly nie, maar versnel ook die verswakking van kritieke toerusting, wat herhaalde foute en duur herstelwerk tot gevolg het,” verduidelik hy.

Boshielo sê dat die probleem nou die diefstal van elektriese beskermingstoerusting omsluit, insluitend van batterye wat uitskakeling voorkom, netwerkbeheerkabels, en aardingsgeleiers by substasies.

“Die verwydering van aardingsgeleiers en uitskakeling-eenhede stel die beskerming van stroomaf-netwerke in gevaar, en maak dat elektriese foute langer duur as wat hul behoort voordat hul by die primêre substasie reggestel word.”

Hy sê dit beteken dat meer verbruikers onnodig deur kragonderbrekings geraak word wat voorkom kon word indien die integriteit van die sekondêre netwerk ongeskonde sou bly.

Hy waarsku dat in ernstige gevalle, die aanhoudende diefstal en vandalisme van elektriese beskermingstoerusing die risiko inhou van ernstige beserings, sterftes en grootskaalse verwoesting van substasies as gevolg van oorverhitting van onbeskermde toerusting.

“’n Analise deur die metro wys dat die elektriese foute ongeveer 50% van alle diensonderbrekings uitmaak, met diefstal en vandalisme wat ’n addisionele 40% tot algehele onderbrekings bydra.”

Luidens Boshielo, dra noodreaksiekoste, oortyd-arbeid, verhoogde sekuriteitsmaatreëls, impakte van diensonderbrekings, en administratiewe onkoste alles by tot die jaarlikse finansiële verlies.

Hy sê dat daardie fondse heraangewend kon word vir bywerking van infrastruktuur, diensverbeterings, en kritieke gemeenskaps- ontwikkelingsprojekte.

Om kabeldiefstal en vandalisme van infrastruktuur te voorkom, het die metro sy pogings verskerp en verskeie ingrypings toegepas.

Dit sluit in die vermeerdering van sekuriteitspatrollies in hoë-risiko gebiede, veral in streke 3, 4 en 1, sowel as versterking van samewerking met wetstoepassingsagentskappe en gespesialiseerde eenhede om georganiseerde sindikate te teiken.

Diefstal-afskriktegnologieë, soos slimkabels, intydse moniteringstelsels en intelligensie-gedrewe ondernemings om misdaadnetwerke te identifiseer en af te breek word ook ondersoek en bekendgestel.

Daar is aanhoudend gemeenskapbewusmakingsveldtogte om inwoners oor die impak van infrastruktuur-misdaad op te voed.

Versnelde reaksieprotokolle is ingestel om vinnige herstel van beskadigde infrastruktuur te verseker en diensonderbrekings te verminder.

Boshielo doen ’n beroep op alle inwoners om aktiewe vennote te word in die bewaar van die metro se gedeelde infrastruktuur.

“Die R8–R10-miljoen wat ons jaarliks aan diefstal en vandalisme afstaan is geld wat aan ons inwoners behoort. Dit is geld wat veronderstel is om ons infrastruktuur te verbeter, ons dienste uit te brei, en om ’n beter stad vir almal te bou. Ons kan nie toelaat dat misdadigers dit wat veronderstel is om ons gemeenskappe te dien vernietig nie,” sê Boshielo.

Hy maan inwoners om op hul hoede te wees en om enige verdagte aktiwiteite rondom elektriese infrastruktuur aan te meld deur om die TMPD of die metro se 24-uur oproepsentrum te kontak.

“Die beskerming van openbare infrastruktuur is ’n gedeelde verantwoordelikheid, en saam kan ons verseker dat daar ’n meer betroubare en veerkragtige elektrisiteitsnetwerk vir almal is.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Itumeleng Mokoena

Itumeleng Mokoena is a skilled journalist with experience in investigative reporting, interviewing, photography, and writing accurate news. Based at Pretoria Rekord East, he covers various beats and is dedicated to informing and educating the community. With a diploma from Tshwane University of Technology and previous experience at Lowveld Media, he is a passionate and hardworking journalist.
Back to top button