Pretoria-skrywers blink uit by Ink-kompetisie
Met tien jaar agter die rug en duisende skrywers wat reeds deur Ink se inspirasie geraak is, blyk dit dat die toekoms van Afrikaanse skryfkuns gesond is. Ink – Skryf in Afrikaans staan vas as ’n groeiende gemeenskap waar talent erken, gekoester en aangemoedig word, ’n plek waar elke skrywer se stem saak maak.
Twee plaaslike skrywers, Aniki Joseph van Pretoria-oos en Pieter Mostert van Centurion, het onlangs die kollig gesteel tydens die aanlyn skryfwebwerf, Ink – Skryf in Afrikaans, se landwye skryfkompetisie.
Die platform, ’n tuiste van opkomende sowel as gevestigde Afrikaanse digters en skrywers, het sy tiende bestaansjaar laat in November met groot geesdrif in Pretoria-Noord gevier. Die geleentheid is deur skrywers van regoor Suid-Afrika, asook ’n afvaardiging uit Namibië, bygewoon.
Vir bekende koerantkolomskrywer, Joseph, was dit ’n besonderse jaar en sy het vier toekennings verwerf. Sy is onder meer aangewys as Nuweling van die Jaar en het verder in die webwerf-toekennings se prosa-afdeling uitgeblink met haar stuk Blom waar jy geplant is.

Mostert het ’n knap vierde plek in die kategorie behaal vir sy skryfstuk Toeka se ritueeltjies.
Ink – Skryf in Afrikaans, wat onder leiding van Anzé Bezuidenhout funksioneer, het deur die jare ’n platform geword waar honderde skrywers hul vaardighede slyp, met mekaar netwerk en erkenning ontvang.
Die organisasie bied op ’n deurlopende basis groot kompetisies, temaprojekte en maandelikse uitdagings aan, terwyl die webblad en sosiale bladsye skrywers se werk wyd sigbaar maak.
Die administrasie, kompetisie-bestuur en aanlyn aktiwiteite word geheel en al deur toegewyde vrywilligers gedryf. Onder dié vrywilligers tel Cobus Kruger, Nicola Brown, Marius Pretorius, Christa Diederiks, Marlene Erasmus, Louisa van Vliet, Ella van Wyngaardt, Amanda Meyer De Meillon en Bezuidenhout self.
Die tiende bestaansjaar het egter meer as net ’n rede vir vieringe vir die organisasie gebring.
Bezuidenhout het ook onlangs die Neville Alexander-prys ontvang vir haar uitmuntende werk om Afrikaans toeganklik te maak vir ’n breër gemeenskap.
Sy is deur die Afrikaanse Taalmuseum en -Monument in die Paarl beskryf as ‘die vrou daar doer op die Springbokvlakte in die verre Limpopo wat die aanlyn digwebtuiste Ink bedryf’.
Bezuidenhout het vir baie jare naby Nylstroom op ’n plaas gewoon, waar sy saam met haar man Willie geboer het en ’n kunswinkel met die naam IetsiVanAls op Nylstroom vir byna ’n kwarteeu bestuur het. Die egpaar het onlangs na Orania verhuis.
Bezuidenhout se fokus is steeds op die skrywergemeenskap wat die organisasie daagliks bedien. Sy en haar span bied gratis opleiding, raad en ondersteuning aan duisende lede in 15 lande.


Volgens haar is Ink ’n plek ‘waar skeppers en dromers hul stemme kan vind en hul werk met selfvertroue kan deel’.
Sy beklemtoon dat elke skrywer ’n unieke boodskap dra wat nie in stilte gelos kan word nie.
Die gala-aand, wat meer as 250 skrywers en digters gelok het, is deur ’n warm, opgewonde atmosfeer gekenmerk. Die bekende sanger, Mathys Roets, het skrywers aangemoedig om hul plek as woordkunstenaars in die samelewing in te neem.
Seremoniemeester Hendrik du Plessis van Hoërskool Langenhoven het op sy beurt hulde gebring aan die ontslape digter en Pretoria-liedjieskrywer Piet van Wyk de Vries en van sy eie en ander toonsettings voorgedra. Hy het ook ’n aangrypende gebed opgedra aan Johannes Kerkorrel.
Die resultate van die 2025-jaarkompetisie is tydens die geleentheid aangekondig.
In die Facebookblad se prosa-afdeling is Vera Booysen as wenner aangewys, terwyl die gedigte-afdeling deur Pierce van Tonder gewen is. Die goue afdeling se algehele gedigwenner was Hester Steenkamp met haar gedig Leonardville.
Boonop is meer as 25 boekpryse en publikasiegeleenthede aan skrywers oorhandig. ’n Nuutste bundel met werk van verskeie wenners is ook bekendgestel.
Die jeugafdeling is besonder goed ondersteun, en in die kategorie vir kortverhale is Dané Jonker se Die verhaal van die Vrystaat heldin met die topprys bekroon.

Pretoria-skrywer Joseph beskryf die gala-aand as ‘’n ongelooflike, onvergeetlike en magiese aand’.
Vir die ma van twee was ‘die dekor asemrowend, die atmosfeer elektries met afwagting en opwinding, terwyl die gaskunstenaar se optrede die gehoor diep geraak het’.
Dit was vir haar veral inspirerend om soveel jong deelnemers op die verhoog te sien. Sy glo dat Afrikaans lééf, en dat Anzé Bezuidenhout ’n fakkeldraer is wat die pad vir nuwe en gevestigde skrywers uitlig.
“Dankie aan die Ink-familie vir soveel warmte en inspirasie, waar skrywers en digters ’n tuiste kan vind en floreer,” het Joseph met dankbaarheid gesê.
Vir ’n volledige lys van wenners sien: www.ink.org.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
